Einde van Pote-era by Bulle

Pote Human. Foto: Twitter.

Ná ’n sukkelseisoen in vanjaar se Superrugbyreeks, die koms van Jake White en die wêreldwye Covid-19-pandemie, is die Pote Human-era iets van die verlede op Loftus Versfeld.

Die beleërde Bulls-afrigter het ’n nagmerriejaar op die veld beleef en toe die Superrugby-seisoen weens Covid-19 afgelas is, het die Bulls nog net een van hul ses wedstryde gewen; dit was hul swakste begin tot die reeks in jare.

Hulle was wel in 2019 die beste Suid-Afrikaanse span in die reeks.

Human is tot Oktober 2020 by die Bulle gekontrakteer, maar die 60-jarige en die Blou Bul Maatskappy (BBM) het gister gesamentlik ooreengekom om sy kontrak vroegtydig te beëindig.

Hy is in Desember 2018 as die Bulls se hoofafrigter aangewys nadat John Mitchell sy tasse gepak het om deel van Engeland se afrigterskorps te word.

Voor dit het hy in Kimberley en in Japan afgerig, terwyl hy ook die hulpafrigter was toe die Bulls hul eerste Superrugby-titel in 2007 gewen het.

Sy afrigterspad het reeds 15 jaar gelede in Pretoria begin, toe hy in 2005 as die hulpafrigter van die Ligbloues se Curriebeker-span aangewys is.

As speler het Human meer as 100 wedstryde vir die Oostelike Provinsie gespeel, terwyl hy die Cheetahs in 62 van sy 84 wedstryde aangevoer het.

“My tyd by Loftus was ongelooflik om die minste te sê. Dit was ’n emosionele tuimeltrein-rit met baie hoogte- en laagtepunte,” het hy gesê.

“Ek het my lewe aan hierdie wonderlike spel toegewy en daar is nie ’n beter plek om jou passie uit te leef as op Loftus Versfeld nie.”

Met White se aanstelling as die Bulls se direkteur van rugby, het die voormalige Bok-breier aangedui dat hy ook by afrigtingswerk betrokke sal wil wees.

“As direkteur van rugby gaan ek nie skroom om my moue op te rol en te werk nie: Ek wil afrig,” het White in ’n onderhoud gesê.

Human het egter sy gewig agter White ingegooi.

“Dit is belangrik dat Jake die steun van alle aandeelhouers sal geniet. Hy het beslis my ondersteuning en ek wens hom alles van die beste toe,” het Human in ’n verklaring gesê.

Die uitvoerende hoof van die BBM, Alfons Meyer, het net lof vir Human gehad.

“Pote was meer as net ’n afrigter op Loftus gewees en hy het ’n reuse-invloed op nie net die spelers se lewens nie, maar ook op dié van werknemers gehad.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Riaan ·

Gelukkig is die super rugby afgelas. Sal die Bulls en Leeus van verdere vernedering spaar. Altwee spanne het nou weer kans om span te bou. ????

Scalla ·

Pote, die score board vertel die ongelukkige verhaal, vat jou pie en waai ou maat.

Johnny ·

Hierdie man is baie stief behandel, en dit waarskynlik om daai Jake White tevrede te stel. Hy het goed gedoen laasjaar, en moedig probeer hierdie jaar, ten spyte van die uittog van senior spelers.
Hierdie Jake White aanstelling gaan die Bulle nog byt.

Kiewiet ·

Oom Pote, Kom wys die land hoe goed jy is oom, en kom ruk die Leeus reg. Ek weet oom kan n wenkultuur skep. Kyk net wat het oom met die Griekwas regekry.

Realis Thailand ·

No loss at all.
Hy moes al lankal gewaai het.
Sy sell by datum is verby en hy moet nou maar aftree .Hoop maar jake kry iets reg
Bulle is darem die enigste span wie al die beker vir sa gewen het maar met spelers wie nou die wereld vol speel en die Bulle het nie veel geld wonder ek maar oor die toekoms
Moet se ek ondersteun die bulle al van 1955 af en sal by hulle bly for better or for worse.

Die Wolf ·

Dit is moeilik om dissipline toe te pas as jy nie die steun het van bestuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.