Eindeksamen: Ouers móét skool inlig as matriek positief toets

(Foto verskaf aan Maroela Media)

Die departement van onderwys sê ouers van matriekleerders wat positief vir Covid-19 toets, het ʼn verpligting om die skoolhoof daaroor in te lig.

Dié departement en sy eweknie by gesondheid het vroeër ooreengekom dat matriekleerders wat positief vir die virus toets, wel toegelaat sal word – onderworpe aan streng veiligheidsmaatreëls – om eksamens af te lê. Die leerders moet egter gesond genoeg wees om ʼn eksamen te skryf.

“Regstappe sal gedoen word teen die ouers, versorger of afgevaardigde familielid wat doelbewus die positiewe Covid-19-status van ʼn leerder in hul sorg wegsteek, sou dit later blyk dat die inligting doelbewus weerhou word,” het die onderwysdepartement in ʼn omsendskrywe gesê.

Hy sê skole moet vooraf ingelig word sodat die nodige reëlings getref kan word vir ʼn kandidaat om steeds die eksamen in ʼn alternatiewe lokaal af te lê.

(Foto verskaf aan Maroela Media)

Die departement sê leerders wat positief toets vir die virus, of diegene met ʼn temperatuur hoër as 38 °C en wat “ja” antwoord op twee of meer vrae in die siftingsvraelys, sal die eksamen in ʼn isolasielokaal by die skool moet aflê.

Die departement het leerders ook gevra om in die eksamentyd ekstra waaksaam te wees ten einde die gevaar te beperk om die virus op te doen.

“Neem kennis dat streng voldoening aan die bepalings van sosiale afstandhandhawing, die dra van ʼn gesigmasker en sanitering by die lokaal afgedwing sal word. Afstandhandhawing kan verder as 1,5 m wees, gegewe die beperkte getal leerders wat op enige gegewe tyd in die isolasielokaal is.

“As bogenoemde drie belangrike reëls te alle tye geld, bevestig gesondheidsorgkenners dat die kans om die virus op te doen bykans nie bestaan nie.”

Die departement het ook omvattende riglyne bekend gestel waarvolgens eksamenlokale voorberei en beveilig moet word. Hy het provinsiale onderwysdepartemente ook gevra om seker te maak bystandtoesighouers is op kort kennisgewing beskikbaar, sou dit nodig wees dat ʼn toesighouer vervang moet word.

Volgens die departement het gesondheidskenners bevestig dat die virus nie langer as 2,5 uur op ʼn stuk papier kan oorleef nie. Vraestelle word eers in Januarie volgende jaar nagesien – bykans drie weke ná die aflê van die laaste eksamen – en dit is dus nie nodig dat vraestelle geïdentifiseer word as dit geskryf is deur iemand met Covid 19 nie, omdat die vraestel geen gevaar vir die nasiener inhou nie.

Kandidate wat positief toets vir Covid-19 en weens ernstige simptome nie die eindeksamen kan aflê nie, sal as afwesig gemerk word. Hulle moet toegelaat word om die eksamen in Mei/Junie volgende jaar af te lê, het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rentia

Kan nie help om te wonder of die departement besef 70%+ suiwer alkohol word deur jou vel geabsorbeer en gaan bloedstroom toe? Terwyl brandewyn ongeveer 45% alkohol bevat? As kinders gesaniteer word by die hek, en die skool is skoon, hoekom elke liewe klas voor en na die tyd afdwing? Elke pouse, elke kleedkamer besoek waar jy elkgeval jou hande met seep en water was? Word die wa nie totaal vior die perd gespan met die alewige alkohol sanitering as jy jou rug draai nie? JA, higiene is belangrik, baie belangrik maar aksie het ook reaksie. Een gevolg ‘n groot… Lees meer »

Anel

Kan jy nou meer. Maar jy mag nie beskerm word teen iemand wat TB of Vigs het nie. Wat meer dodelik is. Dit klink my die hekw see word onder die eendjie se stert uit gepuk. Verder, hoe moet mens imuniteit op bou as jy die heeltyd alles ontsmet? En vir hoeveel jaar wil hulle die gekheid vol hou.? Ek laat niemand my meer beledig deur my hande te bespuit nie. Ek vee die gemors dadelik af. En sois jy sê, alkohol kan geen voordele inhou vir die kleintjies nie. Wat nog van die ouer kinders wat eksamen skryf. Daardie… Lees meer »