Eindeksamen: Umalusi slaggereed vir meeste kandidate nóg

(Argieffoto)

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, sê alles is ondanks die Covid-19-pandemie slaggereed vir die komende matriekeksamen.

Die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen sal vanjaar vanaf 5 November (Donderdag) tot 15 Desember afgelê word.

Die hereksamens vir verlede jaar se matrieks sal vanjaar vir die heel eerste keer saam met die NSS-eksamen in November geskryf word. Dit beteken dat meer as een miljoen (1 058 699) kandidate na verwagting die eksamen vanjaar sal aflê.

Die raad wys in ’n verklaring daarop dat dit die grootste groep nóg in onlangse tye is.

Luidens die verklaring sal die departement van basiese onderwys se NSS-eksamen in 1 406 eksamensentrums reg oor die land afgelê word. Die nasien van vraestelle sal by sowat 215 nasiensentrums gedoen word.

Altesaam 13 201 kandidate sal na verwagting die Onafhanklike Eksamenraad (OER) se eindeksamen in 246 eksamensentrums reg oor die land aflê.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Omvattende Assessering (Sacai) het op sy beurt 2 871 deeltydse kandidate geregistreer wat by 72 eksamensentrums reg oor die land sal skryf.

Umalusi sê hy het ’n deeglike assessering gedoen van die basiese onderwysstelsel se gereedheid om die hereksamens en die NSS-eksamen saam te bestuur en uit te voer.

“Die raad is oor die algemeen tevrede dat alle beoordelingsliggame gereed is om hierdie massiewe taak ondanks Covid-19 te onderneem.”

Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het die raad se standpunt herhaal dat Umalusi nie die inkorting van die eksameninhoud steun nie.

“Terwyl ons almal besorg is oor die probleme wat deur Covid-19 veroorsaak word, steun Umalusi nie die afgradering of inkorting van die gehalte van eksamens nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Ongelooflik die bevolkingsgroei. Wil almal seker universiteit toe…verniet!! Waar gaan hul werk kry met huidige regeringsbeleid?? Wonder maar net!

Hennie J ·

Slaggereed………..vir wat? 1. om te lieg oor vraestelle wat uitlek (let wel kammig uitlek en nie vir geld verkoop word nie) 2. om nooit die bron van die’ lekkasie’ op te spoor en bekend te maak nie 3. om our people se punte aan te pas om die slaagsyfer beter te laat lyk 4. om seker te maak dat daar so min moontlik wit nasieners aangestel word om te verhoed dat daar behoorlik nagesien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.