Einstein moet ligloop vir SA topmatrikulant

Reynhardt Buys (18) (Foto: Hoërskool Pearson, Facebook)

“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek was sommer emosioneel toe hulle my naam aankondig. Ek het besef ek pluk nou die vrugte van jare se harde werk.”

Só vertel Reynhardt Buys (18) van Hoërskool Pearson in Port Elizabeth nadat hy Maandag as topmatrikulant in Suid-Afrika aangewys is. Hy het virtueel uit Oos-Londen ingeskakel waar Angie Motshekga, minister van onderwys, die name van die toppresteerders van 2020 aangekondig het.

Reynhardt het Dinsdagaand boonop die trofee as die Oos-Kaapse toppresteerder in ontvangs geneem. Hy is ook as die derde beste presteerder landwyd in wiskunde aangewys. Hy het 100% vir dié vak behaal.

Reynhardt het sewe onderskeidings ingeryg en nie in een vak minder as 90% behaal nie. Benewens 100% vir Wiskunde het hy ook 100% vir Fisiese Wetenskap behaal, gevolg deur 97% vir Afrikaans Huistaal én Inligtingstegnologie, 96% vir Rekeningkunde, 95% vir Engels Eerste Addisionele Taal en 92% vir Gevorderde Wiskunde.

Sonder om vir ʼn oomblik te huiwer het Reynhardt aan Maroela Media gesê dat Wiskunde nog altyd sy gunstelingvak was. Hy het van kindsbeen ʼn brein vir syfers gehad en sê hy kry sy wiskundebrein van sy ouers.

“Ek het altyd uitgesien na die wiskundeperiodes. Dit was ’n lekker vak met goeie onderwysers,” vertel hy.

Reynhardt se pa, Tertius Buys, vertel sy seun het op driejarige ouderdom al die koerant gevat en begin lees. Hy sou dan vir sy pa vra of ʼn miljoen met ses nulle geskryf word. Tertius vertel hy is baie trots op sy seun se prestasies en het altyd geweet sy seun gaan uitblink in die lewe. Hy vertel Reynhardt is ʼn lewende wonderwerk nadat hy op die ouderdom van 18 maande byna verdrink het.

“Ek het sy stokstywe blou liggaampie in my arms vasgehou. Ek het voor my eie twee oë gesien hoe die Here ʼn tweede asem in hom inblaas. Toe het ek geweet Hy het ʼn groter plan met Reynhardt.”

Reynhardt het ook op die skool se leerlingraad gedien en het die trofee as dux-leerder ingeoes.

Behalwe vir akademie het Reynhardt ook in kultuur uitgeblink en het in die skoolkoor gesing. Hy was tot nou toe lid van die Oos-Kaapse Jeugkoor. Hy was ook deel van die skool se algemene kennis vasvra- span.

Reynhardt het Dinsdagaand die trofee as die Oos-Kaapse toppresteerder in ontvangs geneem (Foto: Hoërskool Pearson, Facebook)

Reynhardt sê die resep tot sy sukses is die feit dat hy alles ten volle in die lewe aanpak. “Ek gee altyd 100% met alles wat ek doen. Ek sal altyd die ekstra myl gaan, al was dit net vir ʼn ou klastoetsie of informele mondeling. Ek het altyd seker gemaak ek is goed voorbereid.”

Tussen die akademie en buitemuurse aktiwiteite deur probeer hy ook balans in sy lewe handhaaf en maak seker hy bring genoeg tyd saam met sy vriende en familie deur.

“As al die prestasies en sukses in die lewe verby is, is dit op die ou end tog jou familie en vriende wat oorbly.”

Soos enige ander matrikulant het die Covid-19-pandemie Reynhardt se matriekjaar ook ʼn bietjie omvergegooi.

“Ek is spyt dat ek groot skoolbyeenkomste misgeloop het, maar tóg dankbaar vir dit wat ek uit die pandemie geleer het. Die pandemie het my sterker gemaak en geleer om selfdissipline toe te pas.”

Reynhardt skryf ook baie van sy sukses toe aan sy skool en onderwysers. Hoërskool Pearson se matrieks van 2020 spog met altesaam 334 onderskeidings.

“Hoërskool Pearson is ʼn skool wat werklik leiers vir die toekoms kweek. Die onderwysers maak ʼn groot indruk op jou en maak seker jy streef jou passies in die lewe na.”

Reynhardt gaan vanjaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer. Hy het ook reeds ingekom vir die US se koor.

“Ek sien baie uit na die nuwe hoofstuk in my lewe, maar is ook effens angsbevange omdat ek geen idee het wat om te verwag nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Moedeloos ·

Baie geluk. Nou pluk jy die vrugte van jou jare lange harde werk. Voorspoed vir die toekoms

Moedeloos ·

Wens al ons mede burgers wil hierdie berigte lees van die jongmense se sukses verhale. Daar kom elke keer 3 woorde te voorskyn, nl HARDE WERK, SELF DISSIPLIENE en ONDERSTEUNING (van skool en familie/vriende) Deesdae wil almal net agteroor sit en hê. Ouers kla en toi-toi oor alles en kinders stem saam dat alles net gegee moet word.

Anoniem ·

Baie geluk Reynhardt. Jy het die regte houding. Geluk ook aan jou ouers. Mag dit net goed gaan met jou vorentoe.

henndrik ·

Ek weet nou nie mooi nie, hoe kom mens derde met wiskunde as jy 100% het?

Barney ·

henndrik, ek vermoed hulle kyk na wiskunde en gevorderde wiskunde saam

Misky ·

Meer as een kind het 100% gekry en kyk dan na kwartaal punte en toetse deur die jaar om rang te bepaal

Francois Le Cochon ·

Ek het eers laat op Laerskool uitgevind daar bestaan iets soos ‘n koerant. Dink net watter hoogtes ek sou kon bereik het as ek dit al op 3 jarige ouderdom net geweet het.

Janine ·

Ons kleinkind is nou 3. Ek sukkel om te glo dat ENIGE kind op daai ouderdom koerante gryp om te lees. Dit klink vir my dieselfde as kinders wat op 2 al begin sing….

Dr Pieter ·

‘n Wonderlike prestasie! Baie geluk!

Wonder net oor een feit in die berig: 100% vir wiskunde, maar derde beste presteerder? Is dit agv gevorderde wiskunde? Of hoeveel het die beste presteerder gekry?

Cecilia ·

Mooi gedaan jong man, jou ouers seker baie trots op jou. dit will bedoen word…….

Casper ·

Hy is as die derde beste leerling aangewys in wiskunde met 100%.Wat was die ander twee leerders se persentasies.

Marlene ·

WOW – Baie geluk. Harde werk het nog altyd net goeie resultate tot gevolg gehad! SJOE, 100% vir Wiskunde EN Fisiese Wetenskap . Dit wil gedoen wees. Sterkte met jou toekomsplanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.