Eis dat besigheidstudie-eksamen ongeldig verklaar word

besigheidstudies-sos-konferensie-2019-01-17

Sowat 120 bekommerde besigheidstudie-onderwysers het in Januarie by Akademia in Centurion byeengekom om ʼn aksieplan te beraam om die radikale verskil tussen matrikulante se jaarpunt en finale uitslag te hanteer. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die vakbond Solidariteit eis nou namens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) dat die 2018‑matriekeksamen vir die vak besigheidstudies ongeldig verklaar word.

Dit volg nadat die SOS vasgestel het dat meer as 70% van die besigheidstudie-vraestel se memorandum met die inhoud van die departementele hulpgids Mind The Gap ooreenstem. Hierdie gids was slegs beskikbaar aan leerders uit onderpresterende skole wat verlede jaar oefenkampe ter voorbereiding van die matriekeksamen bygewoon het.

In ʼn amptelike skrywe wat Vrydag aan die departement van basiese onderwys oorhandig is, eis Solidariteit ʼn verduideliking vir waarom groot gedeeltes van die memorandum met ʼn gids ooreenstem wat nie deel van die voorgeskrewe werk is nie.

Die betrokke gids kan ook nie van die departement se webtuiste afgelaai word soos die Mind The Gap-gidse vir ander vakke nie. Boonop is die gids ook nie in ʼn ander taal as Engels beskikbaar nie.

Maroela Media het vroeër berig oor die sowat 120 bekommerde vakonderwysers uit verskeie skole wat in Januarie in Centurion bymekaar gekom het omdat hulle leerders swak in besigheidstudies presteer het.

Hierdie onderwysers het toe bevestig dat hulle leerders nie toegang het tot hierdie boek of oefenkampe waar die gids beskikbaar gestel is nie.

“Die SOS sal nie verwag dat daar sterk ooreenkomste sal wees tussen inhoud van ʼn amptelike memorandum en die inhoud van een handboek nie, wat boonop nie ʼn voorgeskrewe handboek is nie. Dit sal op grootskaalse ongerymdhede dui,” het Hugo Vermeulen, hoof van opleiding aan die SOS, gesê.

Vermeulen sê indien hierdie handboek slegs beskikbaar was aan enkele leerders, hulle aansienlik bevoordeel kon word in hul voorbereiding vir die eksamen en sou hulle goeie uitslae gewaarborg kon word.

Dit is om hierdie rede dat Solidariteit nou namens die SOS eis dat die eindeksamen in besigheidstudies ongeldig verklaar word en voorstel dat leerders se gemodereerde jaarpunt voor die eindeksamen as hulle finale punt vir die vak aanvaar word.

“Sou die departement versuim om aan ons eise te voldoen, sal ons geen keuse hê as om verdere regstappe te doen nie,” sê Werner Human, adjunk‑bestuurshoof van Solidariteit.

Volgens Elaine Krige, woordvoerder van die SOS, weet die organisasie van minstens 19 000 matrikulante wat vir ʼn hermerk van hulle besigheidstudie-vraestel in Gauteng aansoek gedoen het. Sowat 41 000 leerders het die vak se vraestel verlede jaar afgelê.

“Dit is bykans elke tweede leerder wat vir ʼn hermerk aansoek gedoen het en net in een provinsie. Ek dink dit gee ons ʼn goeie aanduiding van die omvang van die probleem,” sê Krige.

Die SOS het reeds op 16 Januarie die saak onder die departement se aandag gebring en sedertdien verskeie skriftelike klagtes van onderwysers aan die departement oorhandig. Senior amptenare van die departement het ook nie hulle beloftes nagekom om hulle ondersoek na die uitslae van besigheidstudies met die SOS te deel nie.

Volgens Krige het die SOS met senior beamptes van die departement op 5 Februarie vergader. Daar is toe glo erken dat daar ʼn tekort aan ervare merkers in Afrikaans in die vak was, wat moontlik Afrikaanse matrikulante verder kon benadeel het.

Die departement het toe ook erken dat merkers in sommige gevalle te streng gemerk het en dus nie ruimte gelaat het vir leerders se eie interpretasie nie, iets wat in ʼn vak soos besigheidstudies gewoonlik vereis word.

Hulle het verder te kenne gegee dat sommige Engelssprekende leerders se uitslae vir die matriekeksamen met 50% toegeneem het, in vergelyking met hul jaarpunt.

“Dit is vir die SOS kommerwekkend dat daar so ʼn groot verskil is tussen leerders se jaarpunt en die punt wat hulle vir die matriekeksamen verwerf het. Dit is ʼn verdere aanduiding dat ongerymdhede plaasgevind het wat sommige Engelssprekende leerders kon bevoordeel het,” voeg Vermeulen by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Loureine Muller ·

Ek stem saam daar is groot ongeruimthede.. hoe kan n kind met n 79 opstuur punt net 49 kry vir die eind eksamen? Dis belaglik! Ek ondersteun Sokidariteit in die een!!!

Piet Snot ·

Dit was ‘n slim plannetjie.
Maar nie slim genoeg nie.

Lizzy ·

Grootskaalse bevoordeling en bedrog. Jaarpunte en eindeksamen mag nie meer as 10% verskil nie. Groot probleem. Hoop dit word oopgelos terwille van matrieks vir 2018 en 2019.

Anoniem ·

Jy is die vingerfout vergewe – as mens opgeklits raak oor ‘n saak, tik jy mos al vinniger!

Waaksaam ·

Daar is groot ongerymdhede. In ladybrand is daar skoliere wat elke eksamen die volle vraestel vooruit ontvang direk vanaf die persoon wat dit opstel. Dis nou die departementele vraestelle. Het direkte bewyse van dit maar as jy daaroor praat is almal skielik nie beskikbaar.

mini ·

my tuisdorp gaan af die drein,,,,, sleg, name en shame hulle

Johan Pretorius ·

Net nog n bewys van die onbevoegde anc ( anc met n kleinletter). Dit weerspieel net die agteruitgang die afgelope 24 jaar.

Guve ·

Gaan al lank so, by privaatskole ook,mt Besigheidstudie veral.

Wondermaarnet ·

My dogter het biologie en die skool gebruik nie die voorgeskrewe handboek nie. Ek moes R160 betaal vir ‘n ander biologie boek. Besef die skool nie dat in ‘n eind eksamen word daar vrae uit voorgeskrewe handboeke opgestel en vaar my kind sleg kan sy nie gaan studeer in die rigting waarin sy wil studeer nie.

De Villiers ·

Wat my laat wonder is die feit dat die Departement van Onderwys ‘n addisionele gids laat opstel het vir onderpresterende skole. Dit skep die indruk dat die fout by die kinders lê, maar eintlik lê dit by die onderwysers en/of die skool se dissiplinestelsel. Eintlik moet die kwalifikasies van daardie onderwysers nagegaan word en hulle getoets word om vas te stel of hulle die inhoud van hierdie ingewikkelde vak verstaan en verstaanbaar kan oordra. Hoekom is ‘ander’ skole se gemiddeld in hierdie vak dan baie hoër? Die probleem lê NIE by die kinders nie, maar wel by die onderwysers. Hulle moet opleiding kry of vervang word met bekwame onderwysers in hierdie vakgebied.

Santie ·

Jong, dit is net sodat sekere kinders skielik goed begin presteer, en die wat altyd goed presteer het, dit nie meer kan doen nie…… daarom kry net sommige kinders die regte boeke.

Lerato ·

Daar is soveel bedrog in SA, mens weet nie waarheen als gaan nie.

Ronell Coetzer ·

Ek het ń baie ongelukkige kind. Besigheidstudies een van haar sterkste vakke. Onderskeiding verwag. Baie swak punte. Hermerk….1 punt by. Wat ń grap! Solidariteit gaan voluit vir hierdie kinders asb!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.