Eis nie uitbetaal, want ‘departement is bankrot’

Zac de Lange en sy vrou, Marie. (Foto: Facebook)

Die Gautengse departement van gesondheid kan glo nie ʼn eis van nalatigheid sewe jaar later aan ʼn oorledene se familie uitbetaal nie, want hy is bankrot. Só het ʼn verteenwoordiger van die departement die afgelope week aan Marie van Vuuren se prokureurs gesê.

“Die departement van gesondheid is tegnies bankrot, daarom moet hulle wag vir die Tesourie om eers nuwe geld beskikbaar te stel, voordat enige eise uitbetaal word,” lui die prokureursbrief wat Van Vuuren se regsverteenwoordigers Dinsdag aan haar gestuur het.

Sy wag al drie jaar vir die Gautengse departement van gesondheid om ʼn eis vir mediese nalatigheid aan haar uit te betaal. Haar man, Zacharius Johannes de Lange, is in 2015 in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria oorlede nadat hy ʼn besering tydens ʼn rugbywedstryd opgedoen het. Die hof het in 2019 bevind die hospitaal was nalatig.

Volgens Van Vuuren se prokureurs het ene meneer Khoza hulle meegedeel dat die nodige betalingsmemorandum reeds ʼn paar maande gelede opgestel en aan die hoof- finansiële beampte gestuur is om te onderteken. Die geld kan egter nie uitbetaal word voordat bykomende geld nie vanaf die Tesourie ontvang is nie. “Mnr. Khoza kan nie aandui hoe lank dit gaan vat voordat die geld uitbetaal word nie, aangesien niemand kan voorspel wanneer Tesourie dit sal uitbetaal nie,” lui die prokureursbrief.

“Dis bitter onregverdig. Dit is nie my skuld die departement is bankrot nie, hoekom moet ek en my gesin gestraf word daarvoor?” het Van Vuuren aan Maroela Media gesê. Sy sê sy en haar kinders sukkel om liggaam en siel bymekaar te hou sonder die meer as R500 000 wat die departement hulle skuld.

“Ek het hierdie saak voor Covid-19 al gewen. Hoekom kon hulle dit nie toe al betaal nie? Eers antwoord hulle nie hulle fone wanneer ek navraag doen nie en nou is hulle bankrot. Iets is nie reg nie.”

Mnr. Khoza het glo ook aangedui dat daar ander eise is wat “veel langer gelede” as Van Vuuren se eis in die hof gedien het en dat dié eise prioriteit geniet.

Die ouditeur-generaal het die afgelope week gesê daar is tans 15 148 eise teen die departement van gesondheid ingedien, met ʼn algehele waarde van R125 miljard. Altesaam 96% daarvan is mediese regseise. Slegs R855 miljoen hiervan is reeds uitbetaal.

Altesaam R31,7 miljard aan eise is slegs in KwaZulu-Natal ingedien, gevolg deur die Oos-Kaap met sowat R30,8 miljard, Gauteng met sowat R23 miljard en Limpopo met sowat R14,3 miljard.

Na aanleiding van Maroela Media se navraag aan die Gautengse departement van gesondheid ʼn maand gelede, het die departement aangedui dat hulle wag vir inligting vanaf hulle regsdepartement oor Van Vuuren se eis. ʼn Opvolgnavraag aan die departement vandeesweek het steeds geen antwoorde tot gevolg gehad nie. Die departement het ook nie gereageer op ʼn versoek om kommentaar oor of hulle wel bankrot is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vettiemaragartos ·

Om te erken die departement is bankrot is mos ‘n daad van insolvensie? Bring ‘n aansoek om hulle te likwideer en verkoop hul bates. Dis tyd dat die mense maar op die harde manier opgevoed word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.