Eis só by polisie vir onlusteskade

Die KwaMashu-winkelsentrum in KwaZulu-Natal is geplunder. (Foto: Twitter)

Die DA het Dinsdag ʼn dokument versprei wat sake-eienaars kan gebruik om skadevergoeding van die polisie te eis. Dit volg nadat talle ondernemings geplunder en afgebrand is tydens onluste die afgelope tyd in KwaZulu-Natal en Gauteng.

ʼn Templaat van dié brief is aan pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, minister van polisie, gegee nadat die polisie glo nie hul grondwetlike mandaat vervul het om ondernemings te beskerm teen die skade wat plunderaars aangerig het nie.

Volgens adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie, word die eisbrief moontlik gemaak ingevolge die Wet op die Instel van Regsgedinge teen Sekere Staatsorgane. Breytenbach sê ondernemings wat vernietig en wie se produkte geplunder is, is geregtig op vergoeding weens die polisie se onvermoë om ondernemings tydens dié onluste te beskerm.

“Die DA stel hierdie brief beskikbaar vir sake-eienaars wat die regering formeel en tydig in kennis wil stel van hul voorneme om skadevergoeding te eis in die gevalle waar die staatsbeheerde versekeraar, Sasria, nie daarin slaag om hulle ten volle te vergoed nie.”

Breytenbach het bygevoeg dat die polisie versuim het om betyds op te tree ten spyte daarvan dat geweld op sosialemediaplatforms aangemoedig is, en hulle glo waarskuwings van wydverspreide anargie van intelligensie-eenhede ontvang het.

“Terwyl ondernemings in vlamme opgegaan het en gemeenskappe saamgespan het om hul woonplekke te beskerm, is polisiebeamptes se lewens ook onnodig in gevaar gestel aangesien hulle nie toegerus was om die anargiste onder beheer te bring nie,” het Breytenbach gesê.

Die DA het ʼn beroep op sake-eienaars gedoen om die brief aan die polisie en Ramaphosa voor te lê.

“Baie van die vernietigde ondernemings het nie voldoende versekering gehad nie en gaan moet staatmaak op die vergoeding wat deur die polisie aan hulle verskuldig is.”

TLU SA eis weer Cele se kop

Bheki Cele, minister van polisie, het Phoenix in KwaZulu-Natal besoek . (Foto: Lirandzu Themba/Twitter)

Intussen het TLU SA weer ʼn versoek aan Ramaphosa en die portefeuljekomitee vir polisie gerig om Cele uit sy amp te ontslaan. Dit nadat meer as ʼn miljoen patrone die afgelope week uit ʼn vraghouer naby die Durbanse hawe gesteel is.

Cele ontken egter dat dié perseel onder polisiebeskerming was.

“Dit maak nie saak onder wie se toesig dit was nie. Die patrone is gesteel en baie min daarvan kon al teruggevind word. As dit wel onder die toesig van die polisie gebeur het, wil ons baie dringend weet hoe dit gebeur het, wie betrokke was en hoe daar teen die skuldiges, en Cele, opgetree gaan word,” het Henry Geldenhuys, president van TLU SA, gesê.

“Ons is egter steeds bekommerd oor waar die ammunisie in die land gaan opduik en watter skade dit verder kan veroorsaak.”

Die onderneming vir wie die patrone bestem was, het gesê die polisie het glo gesloer om toestemming te gee dat die ammunisie die hawe mag verlaat.

Volgens die eienaar verlaat die vragte gewoonlik die hawe en word na Pretoria of Johannesburg vervoer om geïnspekteer te word. Hierdie keer het die owerhede egter aangedring dat die inspeksie in Durban gedoen word.

Volgens TLU SA strook dit met die bewering dat polisielede met kennis van die inhoud die inligting aan die ammunisiediewe verskaf het. Die Valke ondersoek egter nog hierdie bewering.

“Dit is onaanvaarbaar dat Cele altyd ʼn flou verskoning het wanneer iets in sy departement skeef loop. Hoeveel keer gaan die regering dié optrede van iemand in sy posisie aanvaar voordat hulle besef hy is nie opgewasse vir sy uiters belangrike taak nie,” het Geldenhuys gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Wanneer sien ons dat Cele afgedank word?

Persheks Adri

Ek wonder self waar is daai patrone! Kan groot moeilikheid veroorsaak in die verkeerde hande. Cele kan gerus tsek hy’s useless verby!!!

Kokerboom

Dis regso DA maar die ironie is dat mede belastingbetalers moet betaal vir nalatigheid deur SAPD. Waar anders kry SAPD hul fondse! Verhaal van Luthuli huis maar nou het hul OOK hul fondse geplunder!!

Bernard

Cele is nie aanspreeklik vir enigiets nie, hy is eenvoudig verhewe bo die wet.

Pieter

Ons moes lankal die sleg ANC regering hof toe gevat het al vat die saak hoe lank. Al die besighede moet nou net kan saam staan