Eis teen polisie ná aanranding van swanger vrou

Foto verskaf aan Maroela Media

ʼn Ma van Kraaifontein beplan ʼn siviele eis teen die polisie nadat sy glo deur polisielede aangerand en vir dae lank toegesluit is. Dit terwyl sy ses maande swanger was.

Die 42-jarige ma van drie, wat anoniem wil bly, sê sy is op 14 Desember 2018 na die Kraaifontein-polisiekantoor om ʼn saak van intimidasie teen ʼn voormalige verhuurder aanhangig te maak. Sy en haar man het in dié stadium reeds ‘n geruime tyd al ʼn dispuut met hul destydse verhuurder gehad en ʼn beskermingsbevel teen hom gehad, wat hy net die vorige dag oortree het.

By die polisiestasie is sy summier deur polisielede bestorm en hardhandig geboei. Dit nadat die verhuurder vroeër die oggend ʼn klag van intimidasie teen háár gelê het. “Ek en my man het bly sê ek is swanger en dat ek my samewerking sal gee. Maar hulle het my na die aanklagkantoor gesleep waar ʼn vrouekonstabel my teen ʼn tafel gestamp het,” het die vrou aan Maroela Media gesê.

Sy het erge krampe gekry en ook begin bloei. Ten spyte hiervan het die polisie haar in ʼn sel toegesluit en glo mediese behandeling geweier. “Hulle het bly sê ek jok. Dat ek nie swanger is nie, net vet.” Polisielede het haar glo ook rassistiese opmerkings toegesnou. “Hulle het gesê ‘julle wit mense soek altyd spesiale behandeling’. Hulle het my ook gevloek en gesê hulle gaan al die wit mense uit die land jaag.”

Die vrou het bly pleit om hulp, totdat twee paramedici haar Saterdagmiddag laat in die sel besoek het. “Hulle het gesê hulle kon sien ek is swanger, maar dat hulle my nie na ʼn kliniek wil vat nie, omdat dit al laat in die dag is en ek waarskynlik nie gehelp sou word nie.”

Sy het die Dinsdag eers in die hof verskyn omdat dit die Maandag Versoeningsdag was. Die saak teen haar is van die rol geskrap. Haar dogter is ʼn paar maande later gesond gebore.

Die vrou het intussen ʼn saak van mishandeling teen die vrouekonstabel by Kraaifontein aanhangig gemaak en is besig met regstappe om ʼn siviele eis teen die polisie in te dien. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het aan Maroela Media bevestig dat ʼn klag van aanranding teen die betrokke polisielid ondersoek word.

Sy is ook nie die enigste een wat voel dat die polisie nalatig optree nie. Volgens ʼn parlementêre verslag moes die polisie die afgelope paar jaar ongeveer R1,5 miljard aan siviele eise uitbetaal. Dit sluit in eise weens polisiebrutaliteit, onregmatige arrestasies of enige skade wat lede van die publiek gely het in kontak met die polisie.

Die polisie in Gauteng het Donderdag in ʼn verklaring gesê hulle is bewus van bewerings van polisiebrutaliteit wat op sosiale media die ronde doen. “Ons wil die publiek verseker dat ons enige sodanige bewerings in ʼn ernstige lig beskou en beslis sal optree teen enige polisielid wat die wet oortree,” lui die verklaring.

Dr. Llewellyn Curlewis, ʼn regskenner, sê die toename in siviele eise teen die polisie kan wees omdat lede van die publiek nou meer bewus is van hul regte of meer gemaklik voel om die hof te nader met ʼn saak. “Die aantal kere wat die hof wel in die eiser se guns beslis, wys daar is ʼn definitiewe toename in die aantal gevalle waarin die polisie nalatig optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nie Verbaas ·

Onthou dat dit die enigste mag is wat die ou mensie in sy of haar lewe sal he. Die fout wat hulle maak is om te dink dat ons broekies nou gaan bewe. Shame, dit moet bitter swaar wees as mens nie aan nagevolge kan dink nie. Straf hulle. Hulle moet die lafaards uit die polisie uit skors.

Oujongvrou ·

Van wanneer af word mens vir dae lank toegesluit vir intimidasie?? Al sou dit waar wees. Moordenaars word nie eers toegesluit nie. Ons witmense word dinge toegesnou maar ons durf nie iets terug se nie. Ek is oortuig daarvan hulle kan ons net nie verdra nie, uit pure jaloesie. Ons het maniere, is opgevoed en Godvresend.

Anel ·

Diepolusie is oor die algemeen totaal rasisties. Hoeveel blankes word deesdae in diens geneem? Hulle sê gereeld hulle kort blankes, maar hulle word nie eens oorweeg nie. Die klomp wat in diens geneem word, kan nie eens een taal behoorlik praat nie, wat nog te sê van engels! Verder, die siviele klgtes wat teen die lede gemaak word, moet deur die lede self betaal word. In dien nie, is dit maar net weer ons as belastingbetalers wat opdok. Verder, moet daardie lede sumier ontslaan word, want anders hasl hulle hul woede net weer op onskuldige mense uit.!

Blikkantien ·

Wat van ‘n klag van rassisme? Die persoon moet dan ook tronkstraf kry soos ander “rassiste”.

Michael ·

Wat kan jy verwag as die polisie minister wat geen opleiding het of ooit ondergaan het nie tydens n media vergadering in volle uniform vol rang en al sê mense moet buite ligte aansit gedurende beurtkrag om misdaad te bekamp.

Jannie van Niekerk ·

Ek wonder hoekom ek nie die polisie in hierdie geval glo nie. Ek het alself ondervind dat (swart) polisie lede nie juis baie vriendelik en hoflik is by padblokades nie. Tewens, sommige van hulle se lyftaal laat mnes erg onveilig voel.

Pieter J ·

Daar is heeltemal te veel lafaards wat ook rassiste is in die polisie wat agter hulle uniform skuil. As jy hom sonder sy uniform raakloop is hy erg stert tussen die bene.

Porseleintjie ·

Sy was swanger. Wat sou gebeur het as sy n miskraam sou gehad het? Dus poging tot moord en dan rassisme, crimen injuria, deformation of character. Weereens kyk na ons skole. Dis waar dit begin. Maak en breek soos ons wil en die resultaat is dienslewering in SA soos in geen ander land nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.