Eise dat ramptoestand beëindig word, regstappe opnuut oorweeg

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Die Solidariteit Beweging is van voorneme om regstappe te doen indien die regering die ramptoestand op 15 Oktober weereens verder wil verleng.

“Daar bestaan geen regverdiging meer vir die voortsetting van ʼn ramptoestand nie, en die verskuiwing na vlak 1 van die staat van inperking is te min te laat,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand gesê die land sal op 20 September na inperkingsvlak 1 skuif. Daar sal steeds ʼn aandklokreël van krag wees en beperkings op internasionale reise sal geleidelik opgehef word.

“Die voortgesette inperkingsmaatreëls het reeds in ʼn baie groter ramp as die Covid-19-pandemie ontaard, en bedreig die lewensbestaan van miljoene mense. Daarom behoort staatsdwang dadelik laat vaar te word ten gunste van persoonlike verantwoordelikheid vir mense se gesondheid.”

ʼn Ramptoestand het net bestaansreg indien die staat die uitwerking van die ramp beter as die burgers en ondernemings kan hanteer. “Ons is verby daardie punt en moet beweeg van staatsbeheer na burgerlike verantwoordelikheid.”

Volgens Buys het die staat selfs met die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie misluk om dit doeltreffend te bestuur. “Hulle was roekeloos met die bestuur van die ekonomie en kaders het die ramptoestand misbruik om te plunder.”

Dit is dringend nodig dat die land na ʼn gesonde normaal terugkeer, sodat die taak om die land weer op te bou aangepak kan word. Die regering se jongste plan om die ekonomie op dreef te kry gaan volgens Buys tot niks lei as vertroue in die landsbestuur nie vinnig herstel word nie. Vertroue is die enigste werklike stimulus wat die land uit die huidige doodloopstraat sal kan kry.

“Daarvoor is beleidsekerheid, fiskale dissipline, skoon regering, bekwame landsadministrasie en regsekerheid noodsaaklik. Sonder die daadwerklike aanpak van korrupsie, wanbestuur en beleidsrigtings wat tot die land se afgradering reeds voor die pandemie gelei het, sal ekonomiese planne net op papier bly.

“Werkskepping sal net gebeur as diepliggende hervormings aangebring word en sosialistiese planne en rassevoorskrifte laat vaar word ten gunste van bewese beleid wat ekonomiese groei bevorder.”

Die tweede golf is hier – dit is ekonomies en die regering veroorsaak dit

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

Deur die doelpale te verskuif en nie die staat van inperking op te hef nie, veroorsaak pres. Ramaphosa se regering die werklike tweede golf: ʼn ekonomiese insinking met blywende dalings in lewenstandaard en lewensverwagting naas toenemende sosiale en politieke onstabiliteit.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, moes pres. Ramaphosa ʼn einde aan die staat van inperking aangekondig het. ʼn Verantwoordelike regering sou dalk selfs wetenskaplike kriteria kon aankondig oor wanneer die regering dit sou oorweeg om ʼn ramptoestand te hervat. “In plaas daarvan het die regering gekies om ʼn onwetenskaplike, skadelike en korrupsiegeknelde strategie voort te sit, al is dit oorspronklik vir ʼn scenario van tot meer as 350 000 sterftes ontwikkel.”

Dit is volgens Le Roux noodsaaklik dat beleids- en openbare aandag dringend verskuif, weg van Covid-19 – wat tot dusver ongeveer 15 000 sterftes veroorsaak het – na die oorsake van die ander 450 000 tot 600 000 sterftes wat tipies jaarliks in Suid-Afrika voorkom.

“Die skade aan lewens en lewensmiddele weens die verlenging van die grendelstaat – waaronder beperkings op samekomste, handel, toerisme, internasionale reis, en meer – en veroorsaak deur die mobilisering van alle openbare hulpbronne teen één sterfteoorsaak in plaas van op ʼn gebalanseerde wyse, weeg nou veel swaarder as die risiko’s van Covid-19.”

Die inperkingsmaatreëls hou volgens Le Roux tans ʼn veel groter gesondheids- en ekonomiese risiko as Covid-19 in. “Saam met die Business for Ending Lockdown-veldtog dring Sakeliga aan: beëindig die grendelstaat, hef die ramptoestand op en omskep alle regulasies in vrywillige aanbevelings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

100% stop die malheid dadelik. Die ” toename in toets kriterie” lyk soos n desperate poging om die getalle weer op te kry. Die grendel regulasies maak baie meer skade as wat dit goed doen.

Kokerboom ·

Flip en Piet. Julle doen uiters goeie werk…iets wat die redelike mens verstaan. Julle kan egter praat dat jul blou word in die gesig CR en sy bende hoor NET wat hul wil hoor, doen wat hul wil, het geen emosie met ekonomie(westerse konsep)..dis net lippetaal en beloon die afhanklike massas met aalmoese en leë beloftes. So kan mens aangaan(uit pure woede en frustrasie).

Bonita ·

Ag nee. Ons was onder die indruk dat julle alreeds begin het met regstappe.
Die gewone klein besigheids eienaar kan nie winsgewend werk met die huidige streng regulasies nie. Kinders hoort in skool en ons wil ook weer ons familie sien wat in te huise is.
Begin nou al met regstappe sodat ons die staat kan keer om ons ooit weer in hierdie hel te dompel.

Johanncb ·

Wat gebeur na “Vlak 1”? Gaan die lewe dan na “normaal” terugkeer? Wat gaan sogenaamde “Vlak” genoem word?

Persheks Adri ·

Kla die hele lot aan en laat hulle elke sent terug betaal en laat hulle in oranje pakkies sit!

Kopdoek en haar kinders sommer heel 1ste en dan die res.

#Tsek ANC tsek met julle rassisme ook!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.