‘Eish’, toe sak boer inmekaar

Rieks, Henco, Hendrik en Janine in gelukkiger dae. (Foto: Verskaf)

“Ek wens ek kon hom ’n vet druk gee. Sy drukkies was die lekkerste. Styf en vol liefde.”

Só sê Rieks van der Merwe oor haar pa, Hendrik (62), wat Donderdag (17 Junie) op sy plaas in Dullstroom, Mpumalanga dood is, nadat hy tussen ’n trekker en waterkar in geval het.

Volgens Van der Merwe wou haar pa dié betrokke dag oudergewoonte seker maak die waterkar is vol vóór hy die dag afsluit.

“Die trekker was teen ’n afdraande geparkeer en my pa het afgeklim – waarskynlik om te kyk hoeveel water nog in die tenk is.

“Die trekker het vorentoe beweeg en ons vermoed dat hy van agter af opgespring het sodat die groot wiel van die trekker hom nie raakry nie. Hy het dus tussen die trekker en waterkar opgeklim.

Hendrik saam met sy kleinseuns Henco en Jano. (Foto: Verskaf)

“Sy baadjie het aan die waterkar vasgehaak en hy het geval – waarskynlik ook omdat die grond baie klipperig was. Hy het sy enkel lelik gebreek en die waterkar is bo-oor sy bors.”

Die voorval het ten aanskoue van sy plaaswerkers gebeur.

“Volgens sy werkers het my pa in ’n gehurkte posisie gesit en het hulle hom opgehelp.

“Hy het toe net ‘eish’ gesê en half inmekaar gesak. Hy was dood toe hulle [die werkers] hom op die grond neerlê.”

Van der Merwe sê haar pa het ’n passie vir die plaas en boerdery gehad en dat sy hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

“Hy was soos ons sal sê nie ’n ‘bakkieboer’ gewees nie. Hy het self saam met sy werkers hard aan elke aspek van die plaas en boerdery gewerk en nie orders van die bakkie af uitgedeel nie.

“Hy het graag ook sy bure gehelp.”

Hendrik was jare gelede ook ’n kranige sportskut en het destyds Springbok-kleure in dié sport verwerf.

Hendrik saam met sy skoonseun Louis en kleinseuns, Jano en Henco. (Foto: Verskaf)

“Hy was goed al sou hy dit nooit self erken of hardop sê nie –  want volgens hom is skiet ’n nederige sport,” sê Van der Merwe.

Gerhard Delport, ’n vriend en die leier van die AfriForum-buurtwag op Dullstroom, sê hy sal Hendrik as ’n “boer met ’n groot hart” onthou.

“Hy het altyd gehelp en was saam met my lief vir jag en skiet.”

Hendrik was glo ook baie lief vir sy hondjie Fiela.

Sy groot trots, sê Van der Merwe, was egter sy kleinseuns Henco (7) en Jano (4) du Plessis, die seuns van sy oudste dogter, Janine.

Die susters het ’n baie hegte band met hul pa gehad.

“Die gedagte om sonder Pappa aan te gaan is of was nog nooit eers ʼn opsie nie. Nou sit ek met my hande in my hare en trane oor my wange.

“’n Pa is sy dogter se eerste liefde en die enigste liefde wat met ’n lewenslange waarborg kom.

Hendrik saam met sy hondjie, Fiela. (Foto: Verskaf)

“Pappa was baie meer as net my Pa. Pappa was my anker, raadgewer, gelukdraer, my grootste fan en ondersteuner en bo dit alles my beste vriend,” sê Van der Merwe.

Janine sê haar pa was nie net haar held nie, maar ook dié van haar kinders.

“Pappa, jy het altyd so ’n manier gehad om in ’n vertrek in te stap en almal van jou teenwoordigheid bewus te maak. Ek was nog altyd trots op Pappa want in my oë was jy altyd die beste in alles.

“Jy het diep spore in ons lewens getrap en jy het groot skoene wat niemand sal kan volstaan nie. Ek weet in my hart Pappa het vrede gevind.”

Hendrik laat sy dogters, kleinseuns en skoonseun Louis du Plessis agter. ’n Gedenkdiens word Saterdag vir hom op sy plaas gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Ai, dis verskriklik hartseer! Sterkte aan die familie en vriende mag God julle dra in die hartseer tyd!

Die Boerepompie ·

So so jammer om te lees van die Ek bid vir die vammilie om die harseee te ge nees vede vir julle

Jana ·

Ai dit is baie baie hartseer. Ek bid dat julle hemelse Vader julle sal troos en sal vashou en dat julle Sy nabyheid sal ervaar. Baie sterkte

Sandra ·

Ai, so ‘n stoere boer wat nog alles self gedoen het. ‘n Groot verlies vir sy familie. My innige simpatie

Kruidjie-roer-my-nie ·

Sjoe Janine, ek is baie jammer. My pa is ook my anker. Hy is ook my seun se held. Hy is ook ñ boer. Ek vrees ook die dag wat hy nie meer daar is nie. My hart gaan uit na jou. Troos jou darem daaraan dat hy darem nie gely het nie. Maar ek weét níks sal dit beter maak nie, níks sal daai leemte vul nie.

Anoniem ·

Dit is verskriklik. Sterkte aan die familie , God is daar om jul deur hierdie tyd te dra.

popsa ·

Sterkte sterkte aan sy dierbares! Wees maar trots op hom…

Nico ·

Ek weet wat om te sê nie, sal ‘n mens ooit besef waardeer hierdie gesin moes gaan, ek glo nie ‘n buitestander sal besef waardeer hierdie mense moes gaan, dat die man op so’n brutale manier die lewe moes verlaat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.