‘Ek het my pa ná 24 jaar opgespoor’

‘n Baba foto van Reniece. (Foto: Verskaf.)

Jare lank het Reniece da Silva (25) van Port Elizabeth na haar biologiese pa gesoek. Tevergeefs.

Hoewel sy deur ’n wonderlike stiefpa, Andrew Felix, wat haar soos sy eie vlees en bloed behandel het, grootgemaak is, was daar steeds daardie versugting. Dit was soos ’n gat in haar hart.

Reniece vertel dat haar ma, Renė, maar 17 jaar oud was toe sy die sjarmante Agostinho da Silva van Madeira ontmoet het. Hy het twee jaar lank by sy broer, Alberto da Silva wat na Suid-Afrika geëmigreer het, se winkel op Swartklip kom werk.

“My ma was baie onskuldig en Agostinho wat vyf of ses jaar ouer was as sy, was haar eerste liefde,” vertel Reniece.

“Hulle het die skoot hoog deur gehad. ’n Smoorverliefde Agostinho het Renė gevra om met hom te trou en om saam met hom Madeira toe te verhuis. Maar aangesien my ma nog nie 18 jaar oud was nie en dus minderjarig, het haar ouers volstrek geweier om die dokumente vir die nodige toestemming te teken.

“My grootouers was van Namakwaland afkomstig, baie konserwatief en het buitendien nie buitelanders sommer vertrou nie!” vertel sy met ’n effense glimlag.

Agostinho het maar die aftog geblaas en is met ’n gebroke hart terug Madeira toe. Toe haar ma egter ontdek dat sy swanger is met Reniece, was dit omtrent ’n melodrama. Dit was voor die era van sosiale media en die paartjie het kontak verloor.

“Jy is hopeloos te jonk vir die verantwoordelikheid van moederskap,” het haar ouers haar ingelig. “Dit sal beter wees om jou kind vir aanneming prys te gee.”

Maar Renė het haar eie kop gevolg. Sy het ’n bus Kaap toe gehaal nadat sy ’n kaartjie onder ’n vals naam bespreek het en het in elke klein dorpie langs die pad werk gesoek. Kom wat wil, het sy besluit, sy gaan haar baba hou en self grootmaak.

Renė het uiteindelik nesgeskop op Porterville waar sy as ’n kassier in ’n kruidenierswinkel gewerk het. Haar familie het nie die vaagste benul gehad waar sy haar bevind het nie.

“Ja, sy was ’n vurige vrou wat haar eie kop gevolg het. Haar familie het haar uiteindelik ’n paar maande ná my geboorte opgespoor en haar gevra om huis toe te kom. Die huis was egter vol en my ma en ek het in ’n buitekamer sonder ’n badkamer of kombuis gewoon.

“My ma het vrugte verkoop om die pot aan die kook te hou en al was ek nog klein, het ek haar oral heen vergesel. Ons was altyd saam. Ek was haar skaduwee. Ons was baie na aan mekaar. Ek was darem ’n soet en rustige kind.

“Toe ek twee jaar oud was, het my ma my stiefpa ontmoet en hulle is getroud. Hy het nooit onderskeid tussen my en sy eie kinders, my jonger broer en twee susters getref nie.”

Reniece da Silva. (Foto: Verskaf.)

Toe Reniece vyf jaar oud was, het die gesin Kaapstad toe verhuis. Sy was 15 jaar oud toe sy vir die eerste keer uitvind dat haar stiefpa nie haar biologiese pa is nie.

“’n Niggie wou uit die bloute by my weet of ek weet wie my eie pa is, waarop ek geantwoord het; ’Ja, hy is hier by ons.’ Ek het my ma daarna gekonfronteer en sy het met die hele sak patats vorendag gekom.

“Ek het my ma ingelig dat ek my pa wil opspoor. En weet jy wat, my stiefpa was uiters ondersteunend en hulpvaardig. Hy het nooit tekens getoon dat die gebeure hom enigsins omgekrap het nie.”

“Ek het in ’n stadium in ’n diep depressie verval. Ek was so hartseer. My akademiese punte het aansienlik gedaal. Waar ek gewoonlik 80% vir kuns en kultuur gekry het, het ek nou hierdie vak gedruip.”

Sy is kort daarna kosskool toe in Cradock om haar punte te verbeter en het toe ook geleidelik uit haar put van depressie gekom.

Sy het ná skool sielkunde begin swot en intussen ’n honneursgraad in sielkunde verwerf.

“Dinge het baie beter begin gaan toe ek my kêrel Alard Basson (24) ses jaar gelede ontmoet het. Hy was vir my ’n rots en het my emosioneel onderskraag. Alard is ’n go-getter, ’n Suid-Afrikaanse swemkampioen en uiters gedissiplineerd”.

Reniece het ook in ’n stadium by Alard se ouers in Uitenhage gaan woon om nader aan die Universiteit van Port Elizabeth te wees.

Maar die legkaart in haar lewe was nog nie voltooi nie en Reniece het Agostinho begin soek toe sy ’n derdejaarstudent was, maar ongelukkig was haar soektog onsuksesvol.

“Ek was gefrustreerd omdat ek nie oor al die inligting oor my pa beskik het nie. Boonop het my ma my pa se broer, Alberto, se naam verkeerdelik as “Roberto” onthou wat dinge verder bemoeilik het. Uiteindelik het my ma uitgevind dat van my pa se mense nog op Swartklip gewoon het. Ek het toe by Miguel, ’n wedersydse vriend van Alberto en my pa uitgekom.”

Ouma Sylvina da Silva sit tweede van links. Sy klim nog daagliks honderde trappies, boer en het 11 kinders gehad.

Hierdie wanhopige gesoek het gelukkig in Mei verlede jaar tot ’n einde gekom en dié dag wat haar lewe verander het, is nog glashelder in Reniece se gedagtes.

“Ek het Miguel gebel, myself bekendgestel en gesê ek is op soek na Agostinho da Silva. Ek het hom vertel my ma se naam is Renė en Agostinho het ’n broer met die naam ‘Roberto’.

“Miguel het toe gesê hy ken dalk iemand wat vriende met my pa is. Toe kry sy ’n oproep van Alberto.

“Weet jy met wie jy praat?” het Alberto gevra.

“Met wie?”

“Jou oom!”

Mens kon Reniece met ’n veertjie omslaan. Miguel het haar nommer vir Alberto gegee.

“Alberto was bewus van my bestaan, maar hy het nie geweet wie ek was nie. My ma se broer het in 1995 ’n foto van my na Alberto toe gestuur. Ek was toe vyf maande oud. Alberto het dit egter eers vyf jaar later, toe hy Madeira kon besoek, aan my ouma daar gegee. Hy wou dit nie pos nie, maar persoonlik oorhandig.”

Die dag ná haar gesprek met haar oom het haar biologiese pa haar gebel. Dit was ’n kort oproep, want hy was by die werk, onthou sy.

Reniece glimlag stralend.

“Daarna het hy elke enkele dag vir my ’n boodskap gestuur. Hy het uit sy pad gegaan om kontak met my te behou. Dit is wonderlik dat hy van die begin af baie betrokke was by my.”

Dit sou egter nog jare duur voor sy hom in lewende lywe kon ontmoet.

Reniece (links) kuier saam met haar nuwe familie tante Silvinia en Martina en haar niggie Joana (regs). (Foto: Verskaf.)

Nadat Agostinho sy groot liefde verloor het, het hy nooit getrou nie, maar het wel die afgelope 22 jaar ’n lewensmaat gehad by wie hy drie kinders het.

Haar halfsibbe wat haar stiefpa se kinders is, het geen probleem met die verloop van sake gehad nie.

“Ek is en was nog altyd hul oudste suster. Dit sal nie verander nie.”

Die heuglike dag toe hulle mekaar in lewende lywe ontmoet het, het toe in Desember verlede jaar aangebreek toe Reniece stoksielalleen Madeira toe gevlieg het. Haar oom, Alberto, en sy gesin was reeds daar vir ’n vakansie.

“Dit was die eerste keer dat ek vlieg en ook die eerste keer dat ek oorsee gereis het. My reis het met al die verandering van vlugte en wagtye tussenin 14 uur geduur.”

Sy was glad nie senuweeagtig nie. Alles het net eenvoudig reg gevoel.

Maar die oomblik toe sy op Madeira land en besef sy gaan Agostinho ontmoet, was daar wel skoenlappers in haar maag.

“Ek het op ’n roltrap geklim en toe sien ek hom. Hy het daar onder vir my gewag.”

Voor hy egter sy arms vir haar kon oopmaak, het haar oom se vrou Charmaine, en hul seuntjie Raphael, vir wie sy intussen familie geword het, egter op haar afgestorm.

Reniece lyk op ’n druppel na haar biologiese Madeira-ouma na wie haar pa ook sterk trek, het Charmaine haar dadelik ingelig.

Ja, die familietrekke is daar en hul gene moet besonder sterk wees, meen Reniece.

En wat was haar pa se eerste woorde aan sy nuutgevonde dogter? Hoewel hy Engels redelik vlot kan praat, moes Charmaine uit Portugees vertaal:

“Ek wil jou alles gee wat my ander kinders het. Ek wil daar wees vir jou. Ek wil vir jou ’n pa wees”, was sy woorde.

Reniece was dolgelukkig. Sy en Agostinho het baie gehaltetyd saam deurgebring. Hulle het aandetes saam geniet en sy het hom selfs werk toe vergesel waar hy groot sukses in die konstruksiebedryf behaal het.

“Daar was geen ongemaklike oomblikke nie. Ons het lekker gesels. Ons persoonlikhede stem ooreen, ons is albei borrelend en uitgaande van geaardheid en ons deel ’n goeie humorsin. My neus en my wysvinger lyk nes syne en ons raak albei gou sonbruin.”

Agostinho is egter skrikkerig om vir haar in Suid-Afrika te kom kuier, maar hy wil graag hê sy en Alard moet Madeira toe verhuis. Intussen leer sy fluks Portugees. Sy beplan om oor ’n jaar weer vir Agostinho, wat tien sibbes het, in Madeira te gaan kuier.

Watter raad het sy vir ander kinders wat hul biologiese ouers wil opspoor?

“My agtergrond in sielkunde het my op aanvaarding sowel as moontlike verwerping voorberei. Maar as jy ’n brandende begeerte ervaar om jou familie te gaan soek, moet jy dit doen. Bly egter objektief. Hou jou verwagtinge realisties.

“Ek was baie gelukkig. Ek het een groot jolige Portugese familie bygekry. Ek voel skatryk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Agge nee ·

Tog jammer en bietjie vreemd dat sy nie ‘n foto van haar en haar pa plaas nie.

Deon ·

Mag sy en haar pa net geluk vorentoe he… Ek het my dogter ontmoet toe sy 17 was, sy is nou 33,als was goed in die begin totdat sy begin jaloers raak het op wat die ander kinders gekry het en sy nie. Sy het ook natuurlik anderste groot geword as my ander kinders wat n gaping wat ons nie kan oorkom nie veroorsaak…. Mag hierdie kind net geluk en vrede by haar pa vind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.