‘Ek is g’n ystervrou,’ sê ma wat eie baba in kar vang

Madelein, Karl, Heinrich en Erick (Foto: Verskaf)

Nadat Madelein en Karl Meissner-Roloff van Bryanston in Johannesburg, lank gespot het dat hulle nie hul derde baba in ʼn kar of by die huis in die wêreld wil bring nie, het dié ongewone geboorte toe wel gebeur toe Madelein self vir baba Suné in die kar gevang het.

Madelein is reeds ʼn ma van twee seuntjies, Heinrich (4) en Erick (2), en het gedink sy weet wat om te verwag met die koms van haar derde kind. Sy vertel aan Maroela Media sy het met albei haar eerste twee kinders normaal gekraam, hoewel sy vir onderskeidelik 42 uur en 12 uur in kraam was met dié geboortes.

“My water het so om 06:45 op Dinsdag 9 Julie gebreek, maar ek het geen kontraksies gehad nie. Ek sou in elk geval op daardie dag dokter toe gaan vir my 38-week ondersoek. Die dokter het gesê ons hoef nie dadelik te kom nie, maar ons kan by ons oorspronklike afspraak hou,” sê sy.

By die ondersoek het die dokters toetse gedoen en gesê sy is 2 cm ontsluit, so sy kan nog ʼn paar dae wag voordat die baba kom.

Madelein het ʼn normale dag gehad en om 21:00 in die bed geklim.

“In die volgende uur het ek vier intense kontraksies gehad. Ek het toe die vroedvrou laat weet ek gaan inkom. Ek was oortuig daarvan dat die kontraksies sterk genoeg is dat die baba iewers deur die nag of die volgende oggend sou kom.”

Suné Meissner-Roloff (Foto: Verskaf)

Madelein sê dit het gevoel of sy nie vinnig genoeg kan aantrek nie en toe het sy reeds besef daar is moeilikheid.

Sy sê sy en Karl het ironies genoeg baie gedurende haar swangerskap gespot dat die baba net nie in die kar gebore moet word nie.

“Ek het gedink ons doen alles vroeg genoeg en is voorbereid, maar toe ek probeer aantrek en kort-kort badkamer toe moet hardloop, het ek net gebid en gevra vir genade en krag en dat Hy by ons sal wees in die kar.”

Madelein en Karl was nie eens vyf minute van die huis af weg nie, toe sy vir haar man sê die baba is besig om gebore te word.

“Ek het net gesê ek is jammer dat die kar gaan vuil word, maar hy het gelukkig vroeër al ʼn linen-saver op die sitplek neergesit, so dit was glad nie so erg nie. Hy het net vir my gesê dit is oukei, dat ek moet asemhaal en dat alles oukei gaan wees.”

Madelein het haar sitplek agtertoe geskuif en haar hande bo haar kop gehou. Sy het Suné se kop begin voel en geweet sy moet druk. Sy sê sy het probeer om haar vorige kinders se geboortes te onthou sodat sy kan weet wat om te doen.

“Ek het myself só probeer posisioneer sodat Suné soort van parallel met die sitplek uitkom, want ek kon nie my hande gebruik het om haar te vang nie.”

Toe die kraam verby is, het sy ewe kalm vir Karl gesê: “Sy is uit”. Baba Suné het tussen haar bene gelê en Madelein het haar pasgebore baba opgetel.

“My hande was koud, so sy het begin huil. Maar toe het ek haar onder my trui in gedruk en sy was gelukkig.”

Suné Meissner-Roloff (Foto: Verskaf)

By die hospitaal het dokters hulle ingewag met ʼn rolstoel. Suné het ʼn gesonde 3,38 kg geweeg en ma en dogter is albei gesond.

“Die Here het die vrou se liggaam so ongelooflik geskape. Ek het altesaam agt kontraksies gehad voordat ek in aktiewe kraam gegaan het. Dit was regtig seer en intens, maar ek het net gehoop dit hou nie lank aan nie. In ʼn stadium het ek gedink ek gaan dit nie kan doen nie, maar alles het goed gegaan te danke aan die Here se genade,” sê sy.

Madelein sê sy is dankbaar dat die proses so goed verloop het, omdat daar baie is wat skeef kon loop.

“Ek het nooit gedink dit sal met my gebeur nie, maar ek is bitter dankbaar dat die situasie vlot verloop het. Nou vat ons dit maar soos dit kom.”

Volgens Madelein dink almal aan wie hulle dié gebeurtenis vertel dat dit ʼn grap is. “Hulle glo ons nie. Ons moet so vier of vyf keer sê voordat die mense regtig die storie begin glo, en dan is hulle baie geskok en stomgeslaan,” sê sy.

“Almal sê nou ek is so sterk en dat ek ʼn ystervrou is, maar ek is nie. Enige ander ma sou dieselfde gedoen het, want jy het nie ʼn ander keuse gehad nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

15 Kommentare

Snip van Joburg ·

My kleindogter en haar man het hulle eie seuntjie in die huis gevang want hy was ook te haastig om te kom. Met naelstring nog aan hospitaal toe. Ek voel die Here is daar want ons hoor van so ander babas wat dit nie maak nie.
Baie bly dat alles so goed afgeloop het.

Martie ·

Kyk ne ek is seker ek sou nie so kalm gewees het nie….ek sou histeries gewees het. Gelukkig weet die Here vir wie om dit te gee. Baie geluk met die dogtertjie julle

Sarie ·

Jare terug het die vroue oppi plaas grondboontjies getrek & in miedens gepak. Eendag het een vd vroue in kraam gegaan. Sy het net langs die land, onder ñ boom op haar hurke gaan sit & geboorte geskenk. Vir meeste van hulle, was dit normaal. Hulle het nie toegang tot drs & hospitale gehad nie & ek glo dit gebeur nog op bàie plekke in SA… Hulle is beslis sterker as meeste stedelikke vroue…

Lizel ·

Die laaste aanhaling en paragraaf was presies my woorde op die vraag: Hoe het jy geweet wat om te doen? Jy weet nie. Jy bid en raak kalm en volg jou instink. My tweeling was beide brugbabas en is oppad hospitaal toe gebore. Albei het oorleef. Ons wonderwerkies.

AmY ·

Wow.
En baie geluk met julle bondeltjie vreugde. Ek dink sy gaan alles vinnig doen in haar lewe.

Marius ·

Op 22 November 2000 was my dogter ook in die kar gebore. Wel ek het nooit geweet dat ‘n 1600 Opeltjie so kon hol nadat my vrou gesê het ek voel haar kop en die volgende oomblik toe ek haar hoor huil. En die eerste woorde van my vrou aan my na die episode was”haar id no begin 001122″. Mag julle ook soveel vreugde met jul bondeltjie liefde hê soos ons met ons dogter, vandag ‘n vrou…

WJ ·

Wow! Baie geluk mamma! Maak nie saak wie jou glo nie. Jy weet wat jy deur is.

Martha Swanepoel ·

My tweede eenetjie het ek ook in die kar self gevang!!!!Sy is 2:00 die oggend in die kar gebore!! Sal DAAI ondervinding in my lewe nooit vergeet nie!!!!

MS ·

Ons het nie eers die kar gehaal nie, sy is toe sommer by die huis gebore.

ilse ·

ek is in Bloemfontein op 23 nov 1967 in die motor gebore ek is saam met my ma die hospitaal ek het ook die Volksblad gehaal my pa het my tweede naam Careen gegee.

Anton ·

Wonderlik hoe die Here vrouens gemaak het. So sag maar tog so sterk.
Wat n pragtige verhaal. Veels geluk met jul nuwe bondeltjie liefde!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.