‘Ek is hier vir ʼn rede’ sê Caleb ná haai sy been afskeur

Caleb Swanepoel. Foto: Facebook

Caleb Swanepoel. Foto: Facebook

Caleb Swanepoel, die 20-jarige student wie se regterbeen 11 dae gelede in ʼn haaiaanval afgeskeur is, het Woensdag gesê hy is gevul met dankbaarheid dat hy lewe.

Caleb is Dinsdag uit die Mediclinic George ontslaan en sterk by sy ouerhuis in Prins Albert aan. “Dit is so lekker om by die huis te wees en al my vriende en familie te sien,” het ʼn opgewekte Caleb aan Maroela Media gesê.

Caleb is op 27 Junie deur ʼn haai aangeval toe hy en sy twee broers die middag in die see by Buffelsbaai, naby Knysna, gaan swem het. Baie van sy familielede was ook op die strand en het gekyk hoe die drie broers in die golwe baljaar.

Caleb Swanepoel saam met 'n fisioterapeut. Foto: Facebook

Caleb Swanepoel saam met ‘n fisioterapeut. Foto: Facebook

Caleb het vertel hy en sy twee broers was diep die see in toe hulle moeg geraak en besluit het om terug te swem strand toe. “Ek het skielik ʼn swart ding in die water by my sien swem en dadelik gehoop dit is ʼn dolfyn, maar ek het eintlik geweet dit is ʼn haai,” het hy gesê. Caleb het vir sy broers geskree om terug te swem en het dit self begin doen toe hy skielik voel hoe die haai hom hard teen sy regterbeen tref.

“Die volgende oomblik het ek gevoel hoe die haai aan my been vasbyt en ek het hom probeer afstoot. Ek kon voel hoe die haai sy kop heen en weer skud terwyl hy my been vasbyt en die volgende oomblik het ek net gevoel hoe my been loskom,” het hy gesê. “Ek kon voel hy byt my been af, maar daar was geen pyn nie. Dit was byna soos wanneer ʼn tandarts jou tand trek wanneer jou mond verdoof is. Ek kon voel iets kom los, maar daar was nie pyn nie.”

Caleb het desperaat probeer terugswem strand toe en een van sy broers het hom aan sy duikpak gegryp en strand toe getrek het. “Terwyl ons besig was om terug te swem, het die haai weer rondom ons begin sirkel. Dit is toe hy my linkerbeen gryp.” Die haai het aan Caleb se linkerknie gebyt en toe weer gelos en die twee broers kon daarin slaag om die strand met hom te haal.

“My ma het later gesê hulle het op die strand gesit en die swart ding in die water sien swem, toe sien sy net ʼn gespartel en toe word die see rooi van die bloed. Hulle het dadelik water toe gehardloop, sonder om eers te weet watter een van ons deur die haai gebyt is.”

Caleb Swanepoel word uit die hospitaal ontslaan. Foto: Facebook

Caleb Swanepoel word uit die hospitaal ontslaan. Foto: Facebook

Caleb is per helikopter na die hospitaal vervoer, waar hy twee operasies moes kry om sy geamputeerde been toe te werk en om die bytwond aan sy linkerbeen skoon te maak en te heg. Hy moes ook baie fisioterapie in die hospitaal ondergaan om te leer om met net een been oor die weg te kom.

“Die oomblik toe daardie haai aan my been vasbyt, het ’n klomp goed deur my gedagtes geflits. Ek het gedink hoekom moet dit met my gebeur? Ek is ʼn dramastudent, ek het albei my bene nodig om te kan rondbeweeg en ʼn akteur te wees,” het hy gesê. “Dit was so onwerklik, dit het eintlik soos ʼn fliek gevoel. Jy kan nie dink dat dit nou regtig met jou gebeur nie – dat ʼn haai jou nou regtig aanval.”

Hy het steeds baie pyn in sy linkerbeen en moet ook spookpyne van sy regterbeen verduur.

Niks kan egter hierdie student se positiewe gees demp nie en hy hou vol dat hy eintlik baie gelukkig is. “Ek is so dankbaar dat ek lewe en dat my broers nie iets oorgekom het nie. Dit kon erger gewees het. Ek het nie een van my arms verloor nie. Ek het nog my hande. Ek het nog my lewe. Ek is hier vir ʼn rede. Ek weet daar gaan goeie en slegte tye wees, maar ek is dankbaar vir die mense om my en dat ek die kans gekry het om ook in hulle lewens ʼn verskil te kan maak.”

Hy vertel dat hy ʼn boek gemaak het met al die briefies en boodskappe van ondersteuning wat hy sedert die ongeluk ontvang het. “Wanneer ek af voel, kan ek na daardie boek kyk en myself herinner dat ek moet vorentoe kyk en positief wees. Ek het baie om voor dankbaar te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Annabel ·

Ai hierdie jongman is n voorbeeld vir baie. Mag die Here hom seën in alles wat hy aanpak.

Landie ·

Baie sterkte Caleb. Dit is so ongelukkig wat met jou gebeur het, maar ek is seker met jou positiewe geaardheid is jy ook die sonstraal in baie mense se lewens. Hoop jy word toegegooi met alles wat mooi en goed is!!

Yvonne ·

Jy is ‘n inspirasie vir ons almal Caleb. Alles gebeur vir ‘n rede en ons mag dalk nie weet wat die Here se plan hierin is nie. Maar jy lewe en jou positiewe geaardheid gee ons ander rede om weer iets mooi’s in die lewe te sien. Moet nooit ophou dankie se en ooit vergeet dat jy ‘n tweede kans gekry het nie. Gryp dit met albei hande vas en moet nooit laat los nie.
Dankie my Vader vir hierdie wonderlike voorbeeld van ‘n mens

Debs ·

Caleb, jou positiwiteit gaan jou nog ver bring in die lewe. Jy gaan ‘n inspirasie wees vir so baie mense. Ek wens jou alles van die beste toe…. en jou hele lewe gaan nou ‘n omeswaai kry, wat ten goede is. Jy gaan skreeu van dankbaarheid. Gelukkig is die medici vandag so gevorderd .. jy kan altyd ‘n kunsbeen kry.

Hugo Hagen ·

Dear Caleb. You are an inspiration to us all. With your positive attitude and your wonderful outlook following this terrible experience you could become a very successful inspirational speaker/lifestyle coach! I am sure this is not the last time we will hear from/about you. Good luck with you recovery!!! Best wishes from London

TT ·

Caleb, jou gisteraand op Kyknet gesien. Jy is ‘n inspirasie vir ander mense ! Sterkte vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.