‘Ek is nie gekaap nie,’ sê hulpbronneminister

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het Woensdag ontken dat hy enige besluit geneem het ten gunste van die invloedryke Gupta-broers wat te midde van bewerings oor staatskaping staan, terwyl hy erken dat hy met lede van die familie en hul vennote vergader het.

Zwane het reageer op vrae van LP’s van die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne of hy die Gupta-familie gehelp het om onregmatig invloed uit te oefen oor die staat en staatsbeheerde instansies en hulle dus beheer gegee het oor regeringsbesluite en staatsgeld.

“Waarom stel hierdie portefeuljekomitee belang in my vergadering met net een familie? EK het vantevore gesê ek het met baie mense vergader en in Dubai het ek ook kennis gemaak met interessante sakemense, insluitend sakemense in Suid-Afrika in die diamantbedryf en ek het reeds vir een van hulle gesê, kom laat ons gesels,” het Zwane gesê.

“Ek is nie deel van daardie probleem nie. Ek sê eerlik aan hierdie portefeuljekomitee, as daar ʼn behoefte is om met hulle te vergader, sal ek dit in die publiek doen, enige plek.”

Zwane het gesê dit beteken nie hy is gekaap nie.

“Ek sal nie een persoon bó ʼn ander begunstig nie. As ek met mense vergader, is ek objektief. As hulle verkeerd is, sal ek dit hanteer.”

Hy het bewerings verwerp dat hy bewus was van R30 miljoen wat van ʼn suiwelplaasprojek in die Vrystaat via Dubai oorgeplaas is om vir ʼn luukse Gupta-troue by Sun City te betaal.

“As julle die volle verhaal wil weet, moet julle Vrystaat toe gaan,” het hy gesê en volgehou daar is rekords wat sy onskuld bewys. “Ek onthou nie enige situasie toe ek daar [in die Vrystaatse regering] was dat KPMG my bewus gemaak het van enige oortreding nie.”

Die rol van KPMG, wat ʼn oudit gedoen het oor Linkway Trading, ʼn Gupta-maatskappy wat na bewering betrokke was by die oordrag van geld wat in die Vrede-suiwelplaas belê is, word tans ondersoek.

Zwane het bewerings verwerp dat hy, terwyl hy ʼn LUR was, die Guptas gehelp het om ʼn privaat vliegtuig, met gaste vir die troue, in 2013 by Waterkloof-lugmagbasis te land.

“Dis altyd verstommend hoe Suid-Afrikaners so maklik oortuig kan word deur gerugte. Dis moeilik om te begryp hoe enigiemand kan glo dat ʼn LUR van die Vrystaat invloed kan hê op ʼn vliegtuig van ʼn ander land wat in ʼn ander provinsie land,” het hy gesê. “Ek het in daardie stadium nie eers geweet van Waterkloof-lugmagbasis nie.”

Zwane het erken dat hy gesprekke gefasiliteer het tussen Glencore en Tegeta, die maatskappy wat gesamentlik behoort aan pres. Jacob Zuma se seun Duduzane, en die Guptas, om Optimum-steenkoolmyn te bekom. Hy voer aan die rede vir sy betrokkenheid was om 3 000 poste te red wat by die myn in gedrang was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jan ·

Mnr. Minister jy het verseker NIE met die grootste Organisasie in die Diamantbedryf gesels nie. Ek sou weet ek is die voorsitter.

Stan ·

Jan, dankie vir jou inset nou kan ek Zwane se integriteit met vertroue bevraagteken! Wat hier gebeur is ‘n skande!!!

Nico ·

Hoe begin hulle keer vir hulle wickets dit lyk my daar moet nog n nuwe tronk gebou word

Swannie ·

Eish, ek weet hom nie, ek ken hom nie, wassie ekke nie….

vra my broer Jack – hy lieg nes ek.

Luister ·

Leuenaars vertel gewoonlik sulke lang stories.
Maak my woedend dat ons hul hemelhoë salarisse betaal terwyl hulle sekerlik 99%
van die tyd spandeer op planne om te kroek en te steel.

Vryheid ·

Wie glo inelkegeval die ministers van ons land …… al het hulle die waarheid gepraat.

John ·

‘n Magspel in die kleine… Praat af met die mense dan skrik hulle… Eskom het die volk triljoene laat mors, ook op allerhande kontrepsies om te oorleef terwyl die grootbase hulle vingers aflek… Prepaid moet nou in Repaid verander… en vinnig…

Johann ·

Aikonna ek hes honest…issi hek niw…JA SHURE…lieg so goed hy glo homself.

Frikkie ·

Frikkie is nie eers ñ LUR luis nie maar weet van kleins af van Waterkloof lugmagbasis!!!! Hierdie dude lieg deur sy nek

SARIE VAN HEERDENss ·

Niemand is gekaap nie. , ‘n Senuweeagtige Zuma het net sy waarskynlik laaste “back up” linie vir homself verstewig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.