‘Ek is nie ’n vyand van die gereg nie’ – Zuma

Oudpres. Jacob Zuma in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Pietermaritzburg. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

“Geen persoon kan my daarvan beskuldig dat ek ’n vyand van die gereg is nie. Ek wil die situasie vreedsaam oplos.”

Só het oudpres. Jacob Zuma Sondagaand tydens ’n regstreekse mediakonferensie in Nkandla, KwaZulu-Natal, gesê.

Dié konferensie volg nadat die Konstitusionele Hof ingestem het om Zuma se dringende aansoek vir die tersydestelling van sy skuldigbevinding en vonnis op Maandag 12 Julie aan te hoor.

Maroela Media het vroeër berig dat die land se hoogste hof die voormalige staatshoof Dinsdag tot 15 maande tronkstraf gevonnis het vir minagting van ’n hofbevel om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te getuig.

Zuma het die hof gevra om die aansoek te heroorweeg in die lig daarvan dat hy nie ’n geleentheid gegun is om getuienis ter versagting van sy vonnis te lewer nie.

“Suid-Afrika se hardgewonne demokrasie moet juis verseker dat niemand ooit weer sonder ’n regverdige verhoor toegesluit sal word nie,” het Zuma tydens die konferensie gesê.

“Konstitusionele demokrasie moet beteken dat almal gelyk voor die reg behandel word. Nie eers regters is bo die Grondwet verhewe nie.

“Ek verwelkom daarom die Konstitusionele Hof se regverdige en objektiewe besluit om die aansoek aan te hoor.”

Zuma het voorts aangevoer dat hy nooit geweier om voor die kommissie te verskyn nie. Sy probleem is egter, sê Zuma, met regter Raymond Zondo, wat volgens hom nie neutraal of konsekwent is nie.

“My verlede met regter Zondo het daartoe gelei dat hy my onregverdig en met vooroordeel behandel.

“Daar moet eintlik nie eers na die kommissie as die Zondo-kommissie verwys word nie, want sou daar iets met hom gebeur of hy hom moet onttrek, sal die kommissie steeds voortgaan.

“Indien hy destyds reeds onttrek het soos ek geëis het, sou ek lankal voor die kommissie verskyn het om my weergawe voor te lê.”

Volgens Zuma wil hy nie die pogings van die kommissie ondermyn nie, maar vra hy vir “regverdigheid”.

Die konferensie is deur ’n geleentheid voorafgegaan waartydens Zuma sy ondersteuners, wat in groot getalle buite Nkandla byeengekom het, toegespreek het.

 “Die polisie sal my nooit kry solank as wat julle hier is nie,” het hy Sondagmiddag gesê.

“Ons het vir ons vryheid geveg, dankie dat julle dit beskerm.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkonto weSizwe-militêreveteranevereniging (MKMVA), was onder diegene aan Zuma se sy en het gesê dat “niemand Zuma ooit sal laat tronk toe gaan nie”.

Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê dit is duidelik dat die oudpresident ’n bepaalde strategie dryf.

“Aan die eenkant mobiliseer hy politieke steun en beskerm hy homself deur hom met dié steun te omring.

“Aan die anderkant probeer hy regsprosesse ondermyn en systap.”

Volgens Duvenhage was mense positief ná die uitspraak gelewer is, maar sê dat dit in die lig van jongste verwikkelings veel te wense laat.

Hy het ook uitgewys dat die verwikkelinge om Zuma die aandag van belangrike besluite afgetrek het.

“Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het ’n belangrike vergadering wat vir Saterdag tot Maandag beplan was, opgeskort.

“Die ANC moes by daardie vergadering belangrike besluite onder meer met betrekking tot algehele verval van die Noordwes-provinsie geneem het.

“Weens verdeeldheid en gebrek aan besluitneming in die ANC het dit egter nie gebeur nie.”

Boonop, sê Duvenhage, skitter pres. Cyril Ramaphosa in sy afwesigheid terwyl hy as leier van die land juis nou moes standpunt inneem.

“Hy is ʼn president wat vanuit die agterhoede probeer bestuur, met ’n totale gebrek aan rigting en besluitneming.

“Dít is juis waarom mense so absoluut onseker is oor die toekoms.

“’n Mens sou minstens verwag dat die president van ’n land sou ingryp in ’n tyd waar die konstitusionele staat streng gesproke onder ’n politieke én militêre bedreiging is en deur Zuma en sy magsbasisse ondermyn word.”

Duvenhage sê dit is absoluut skokkend en ʼn aanduiding van swak leierskap.

“Zuma ontglip regsprosesse al vir die laaste dekade en as ’n mens dit so kyk, lyk dit asof hy weer gaan wegkom daarmee. Dit is totaal ongehoord en maak ’n bespotting van ons regstelsel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

henndrik ·

Is die nie juis Zuma wat Zondo aangestel het nie, ek verbeel my hy het die komissie aangestel voordat hy verwyder is

JohanR ·

Die ou bly net die gat dieper grou, al is die gat al soe diep dat hy al amper by Australia uitkom. Altyd ienand anders se skuld en nooit syne nie,

Pieter ·

Jou anc land se regstelsel is net so groot grap as wat jy is voetsek.

Hennie ·

Né!? Jy is die vyand van elke Suid Afrikaanse burger! Jy is n kakiebos in die menslike roostuin! Jy is die slang in die gras, die vrotrot in die solder. Jy is familie van die miskruier!

annie ·

En dit is nou die denkwyse van die ANC-oorlogsveterane-grootbaas, soos gister in Zoeloe aan die heelal oorgedra… diè mense aan wie De Klerk die land oorhandig het op ‘n goue skinkbord, nou in besit van die Gupta-broers. Die logika van Zuma en sy toespraakskrywer was suiwer boos gelykstaande aan die tronktoiletpapier waarom dit uitgetokkel is. Hierdie rampspoedige ex-tronkvoèl wens van harte iemand wil hom vasvat…

piet ·

Niks is op ‘n skinkbord oorhandig nie. Ons het in ‘n ondemokratiese land gewoon waar 90% van die bevolking onderdruk en uitgesluit was op grond daarvan dat hulle nie wit was nie. Boonop was die land aan die brand, net ‘n kwessie van tyd gewees voordat die meerderheid die land met geweld sou oorneem. Wees dankbaar vir ‘n vreedsame demokratiese oorgang EN die voorregte wat jy STEEDS geniet dit kon so maklik anders gewees het.

Anoniem ·

Welke voorregte behalwe dit wat ons vir onsself skep, geniet ons Piet?

Blomme ·

Ons land word deur narre regeer. Cyril se stilte in belangrike kwessies kom al vd begin van sy termyn as president aan. Nie leier vd land maar soek gewildheid in die ANC. Die ANC het nog net skade in die land gebring… Is daar iets goed en mooi wat al onder hulle leiding gebeur het? Ek kan nie aan iets dink.

Elinette ·

Jene, moenie narre so beledig nie!!!! Hulle speel immers nog ‘n rol in die lewe – hulle vermaak mense.

agnes ·

Nou wil Hy die “probleem vreedsaam” oplos nadat hy gereeld die probleem kon vreedsaam opgelos het maar hy intussen die hof geminag, tronk toe met hom. Hy verdien dit

Dirk Mostert ·

Natuurlik is hy nie teen die gereg nie. Hulle is gabbas.

Krokkenoster ·

As Zuma sy 15 maande tronkstraf uitdien dan eet ons Cele se hoed vir hom op.

marius ·

Onthou jy die dag toe obama na jou toe moes stap om jou aan te spreek omrede jy op jou selfoon gele het ? Toe steek jy jou klou uit terwyl jy bly sit ? Dis toe die wereld al gesien het van wat jy aanmekaar gesit is . Jy sal hier ontvlug , maar die dag van afrekening sal kom , en dit sal nie uit mense hande wees nie . Weet dit maar .

Elinette ·

Hy was seker besig met een van die Gupta broers op sy selfoon. In hulle “tradisie” word dit gesien as ‘n belediging as iemand opstaan in die geselskap van ‘n persoon ‘hoër in rang’.

Verslae ·

Zuma manipuleer en lieg skaamteloos. Dis frustrerend dat hy die heel tyd daarmee wegkom.

Nico ·

Zuma sal alles in sy vermoë doen om sy kastige onskuld te bewys, niemand is bo die land se wette nie, hy is gevonnis en hy moet die vonnis aanvaar.

MAGRIETHA ·

En sy kinders al net soos hy blaas geweld aan en aan wa gaan dit eindig

Nie Verbaas ·

Nie n vyand van die gereg nie? Wat noem Zuma dan presies sy optrede? Die man besit geen teken van logiese denke nie.

Andre ·

“ ek is nie’n vyand van die gereg nie maar die gereg moet nie naby my kom nie” Zuma vs die gereg- wie gaan seevier ?

Anton ·

Waar is Cyril?
My fellow South Africans, Jacob Zuma was arrested today and thrown in jail. If you don’t like it, feel free to join him.
Dis al wat ek wil hoor. Anders steun jy hom

Anoniem ·

As Zuma die “eerlike” persoon is wat hy wil voorgee, waarom dien hy nie sy vonnis uit nie. Hy weet hy was verkeerd maar deur sy optrede sweep hy sy aanhangers op om te doen net wat hulle wil.

Belinda ·

Sharrap en gaan net tronk toe soos dit gele is deur die Hof…

Mrs H ·

Almal in die tronk, sing dieselfde deuntjie as jy Zuma… hulle almal daar binne reken ook hulle is almal onskuldig hehehe

Jannie van Niekerk ·

Meneer Zuma, dit wil vir my voorkom of ou Kareltjie Krompraat jou mooi geleer het om die waarheid beitjie skeef te praat.

KB ·

Hierdie foto van Zuma herhinder sterk aan die meme “Kilroy was here”…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.