‘Ek is onskuldig’, sê oudpolisieman ná moord op getuie

Walter Francis. (Foto: ANA via Facebook.)

Die voormalige polisiekonstabel Walter Francis en sy medebeskuldigdes het Maandag onskuldig in die hooggeregshof in Port Elizabeth gepleit in verband met die moord op ’n staatsgetuie.

Francis word saam met Sameal Gallant en Wayne Wabanie aangekla van die moord op die staatsgetuie, Alex Ferreira.

Maroela Media het vroeër berig Ferreira (28) sou getuig in ʼn verhoor oor ʼn onverwante bendemoord waarin Francis se wapen glo gebruik is.

Ferreira is in Februarie 2017 in Bethelsdorp geskiet en vir dood agtergelaat. Ferreira het sy familie op die dorp besoek en was nié in ʼn getuiebeskermingsprogram ten tyde van sy moord nie.

Die mans wat in die destydse bendesaak aangekla was, is Francis (31) en beweerde bendelede Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29).

Francis het vir Kroates en Kogana ʼn rygeleentheid gegee toe hulle glo op ʼn lid van ʼn ander bende, Denton Rademeyer (24), losgebrand het. Francis het na bewering sy amptelike wapen en ammunisie vir die skietery verskaf.

Francis is gevolglik in Oktober verlede jaar skuldig bevind op aanklag van strafbare manslag, maar vrygespreek van die moord op Rademeyer. Hy dien tans ’n vonnis van ses jaar effektiewe tronkstraf uit.

Die staat voer in die Ferreira-moordsaak aan dat Francis na bewering óók vir Wabanie en Gallant ʼn rygeleentheid gegee het sodat hulle dié staatsgetuie kon doodskiet.

In sy pleitverduideliking het Francis egter ’n vriendskap met sy medebeskuldigdes ontken. Hy het verder ontken dat hy sy medebeskuldigdes in sy motor vervoer het.

Francis het verder aangevoer dat hy nié van Ferreira se moord geweet het nie en eers later deur sy ma daarvan te hore gekom het.

Hy het ook ontken dat hy enigsins kennis dra van die persoon wat Ferreira glo voor die moord uit sy huis gelok het.

Wabanie en Gallant se regsverteenwoordigers het albei aangedui dat hul verdediging dié van ’n alibi sal insluit.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan H. ·

Sorrie glo jou nie. Jul polisie ken al die loopholes,,onthou nou ook weer die trackrecord ne. Arme oorledene se ouers!

christa ·

as die man ‘n bendelid is, kan jy enigiets van hom verwag, tot moord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.