‘Ek is oukei,’ sê Rae ná ongeluk

Rae Braun in die hospitaal. (Foto: Facebook)

Rae Braun, die tienjarige meisie wat ’n ernstige motorongeluk in KwaZulu-Natal oorleef het maar haar pa en sussie in dié ongeluk aan die dood moes afstaan, is vroeër as verwag uit die hospitaal ontslaan.

Rae is Saterdag uit die hospitaal ontslaan en sterk sedertdien by haar ouma in Gauteng aan. Haar ma is ’n maand voor die ongeluk dood.

Rae is die dag waarop sy uit die hospitaal ontslaan is die nuus oor haar pa en sussie se dood meegedeel.

“Rae lyk orraait,” sê Collette Daraujo, ’n familielid. “Sy het gehuil maar ons vermoed sy blok dit uit. Daar lê nog ’n lang pad voor. Sy vra nie juis uit oor die ongeluk nie.”

Daraujo glo dit is ’n wonderwerk dat Rae oorleef en so vinnig herstel het.

Rae het aanvanklik bloeding op die brein opgedoen ná die ongeluk en daar was sprake dat sy ’n breinoperasie sou moes ondergaan. “En daar word sy agt dae later ontslaan,” sê Daraujo nou.

Rae Braun nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. (Foto: Facebook)

Rae het onder meer lies- en breinbeserings in die ongeluk opgedoen. Die steke van ’n 20 cm lange sny naby aan haar lies is Dinsdag verwyder. Sy verkeer ook nie juis in pyn nie.

“As jy vir Rae vra hoe dit met haar gaan, hou sy vol ‘ek is oukei’.

“Ek het haar ouma nou die dag gebel. Rae het die foon geantwoord en gesê: ‘Hallo, dit is my ouma se foon en ek is my ouma se dogter’.” Daraujo lag effens wanneer sy aan dié oproep dink.

“Ek is baie trots op haar. Ek glo dit is die mag van gebed.”

Rae se pa, Clint (38), en ousus, Alexus (12), is vroeër vandeesmaand dood toe hulle en Rae in ’n ernstige motorongeluk op pad skool toe in Uvongo aan die KwaZulu-Natalse Suidkus betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig Braun was die betrokke oggend op pad om sy twee dogters by die skool te gaan aflaai toe hul gesinsmotor teen ’n boom langs die R620 gebots het. Braun het na bewering weens water in die pad beheer oor die motor verloor. Die motor het die pad verlaat en teen die boom gebots.

Clint en Alexus is op die toneel dood verklaar. Rae is na die Port Shepstone- provinsiale hospitaal gehaas waar sy sowat ’n week lank behandel is.

’n Gedenkdiens vir Clint en Alexus sal Vrydag in Wonderboom, Pretoria, plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lillian ·

Sterkte klein mensie, daar lê’n lang pad voor, maar Jesus het jou lewe gespaar vir ‘n rede!

Marius ·

Dis baie hartseer. Sterkte Rae. Hou net vas aan ons Here en jy sal meer as ok wees. Mag jy vorentoe net liefde, vreugde, voorspoed, goedheid en guns ontvang.

Wondermaarnet ·

Sterkte pragtige kind. Mag jy die tweede kans op lewe ten volle benut en groot hoogtes bereik.

Skappie ·

Sterkte aan jou. Mag onse Liewe Heer jou deur hierdie moeilike tyd dra en jou styf in Sy arms vashou.

Swerwer ·

Sterkte aan die Ouma en die kleine lyfie. Sy is met ‘n doel gespaar al is dit hoe hartseer dat albei haar ouers en suster weggeneem is. Gelukkig is Ouma daar om die hartseer te help verlig.

popsa ·

Kyk daardie ogies… Vou haar toe in U arms, hemelse Vader. Troos, versterk, ondersteun en dra asb vir Rae, Ouma en hulle dierbares in al die baie dae wat kom. Tannie Popsa drukkie jou, pragtige Poplap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.