Ek IS trots Afrikaans, sê jongmense

Lodé Hattingh van Laerskool Anton van Wouw in een van die video's waarvoor kykers nou kan stem

Lodé Hattingh van Laerskool Anton van Wouw in een van die video’s waarvoor kykers nou kan stem

Onbeskaamd en trots Afrikaans – dit is presies die boodskap van 100 jongmense wat aan die “Afrikaans – my TROTS!”-projek van Kraal Uitgewers deelgeneem het. Dié uitgewersmaatskappy het jongmense onlangs genooi om hul trots en liefde vir Afrikaans in ’n video-boodskap vas te vang as deel van die 100 jaar-vieringe van Afrikaans as skooltaal. Die 100 boodskappe, van 100 jongmense, simboliseer die 100 jaar wat Afrikaans reeds in Suid-Afrika se klaskamers gepraat word.

Die tien beste boodskappe is onlangs gekies en nou kry die publiek die kans om ook hul gunsteling te kies. ’n Paneel (bestaande uit verteenwoordigers van Maroela Media, AfriForum en Akademia) het reeds onafhanklik van mekaar die boodskappe beoordeel. Die paneel se gunsteling sal binnekort aangekondig word. Dié wenner stap met ’n Kraal-boekpakket ter waarde van R1 000 weg. Die publiek se gunsteling wen R500 met komplimente van Maroela Media.

“Sommige van die jongmense wys hul trots op ’n pittige wyse, terwyl ander byna die aanslag van die wyse Langenhoven het,” het Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers, verduidelik. “Terwyl dié een uitroep: ‘Nee, basta met die Engels’, verklaar ’n ander weer prontuit hul liefde vir die Afrikaanse woordeskat. Dié boodskappe is bekkig, ernstig, prettig en kreatief – alles in Afrikaans.”

Die projek is aangebied in samewerking met die bekendstelling van Kraal se boek uit die pen van die befaamde biograaf prof. Jaap Steyn, Ons gaan ‘n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare.

Leerlinge van regoor Suid-Afrika het aan hierdie unieke projek deelgeneem. Dié boodskappe sal binnekort aan die Afrikaanse Taalmuseum vir bewaring geskenk word, sodat toekomstige generasies kan weet hoe jongmense in 2014 nie net die taal gepraat het nie, maar ook wat hulle opgewonde gemaak het oor dié taal.

Die top 10 kandidate waarvoor die publiek kan stem, is (in geen spesifieke volgorde nie):

Lara van der Spuy van Hoërskool Durbanville
Hoërskool Wonderboom-groep van Hoërskool Wonderboom
Marialta Potgieter van Laerskool Menlopark
Wikus Vorster van Fichardpark Primêre Skool
Helgard Brink van Hoërskool Waterkloof
Marné Coetzee van Hoërskool Parys
Zani Venter van Laerskool Menlopark
Lodé Hattingh van Laerskool Anton van Wouw
Pheladi Riba van Hoërskool Patriot
Porchia Bonthuys van Laerskool Makwassie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lillian ·

Ek’s GATVOL om soos ‘n hond met sy stert tussen sy bene te voel in hierdie land net omdat ek wit en Afrikaans is! Want als wat verkeerd loop word toegeskryf aan ons blankes se apartheid!

Ek gaan myself uitleef in elke opsig, en die een wat nie daarvan hou nie, jammer vir jou! Ek is gebore in hierdie land, ek het ‘n REG om my opinie te lug, om my stem dik te maak oor swak diens, om my kultuur uit te leef, om my Lewende God te aanbid, om my taal te praat EN NIEMAND sal my stop nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.