‘Ek is vry’ – Patricia de Lille

Patricia de Lille (Foto: Catherine Rice/ANA)

“Ek is vry, vry van verdrukking,” het Patricia de Lille Woensdag op die trappe by die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê ná sy haar bedankingsbrief onderteken het.

De Lille het aan verslaggewers gesê sy sal oor die volgende twee weke besin oor haar volgende skuif. Maroela Media het vroeër berig sy het dit as ʼn “wending” beskryf, maar gesê dit is nie die einde van haar loopbaan nie. Sy ontruim haar kantoor om 17:00.

Twee raadslede het ook Woensdag bedank en De Lille het gesê nog raadslede sal waarskynlik ook bedank. Sy het ʼn aansoek ingedien om Bowmans-regsfirma se verslae te hersien en tersyde te stel.

Een van die verslae, oor korrupsie en wanadministrasie in die Stad Kaapstad, het aanbeveel dat De Lille strafregtelik aangekla moet word. Die tweede verslag het haar egter vrygespreek van enige oortredings. Die verslae is verlede week ter tafel gelê.

De Lille het gesê sy het sedert die aanvang van “hierdie heksejag” haar volle samewerking gegee, maar wil hê die “polities gemotiveerde verslae” moet hersien en tersyde gestel word.

Sy bevraagteken waarom dieselfde regsfirma, wat dieselfde ondersoek gedoen het oor dieselfde aanklag, in twee verslae tot verskillende gevolgtrekkings gekom het. Sy sal die “bietjie geld wat sy het” spandeer om haar naam in ere te herstel. “Dis belangrik om kennis te neem dat die Bowmans-verslae presies net dit is – verslae. Dit is nie uitsprake nie. Die getuienis waarop Bowmans steun moet in ʼn hof getoets word en slegs ʼn hof kan my skuldig bevind.”

Sy bevraagteken ook die integriteit van die regsfirma. “Ek het bewyse wat daarop dui dat Bowmans met politici saamgespan het en belastingbetalers se geld sodoende gemors het. Buiten die R5 miljoen wat hulle hierdie maand betaal is, het die stadsbestuurder ook ʼn bykomende R800 000 goedgekeur.”

De Lille het ook as lid van die Demokratiese Alliansie bedank.

Sy het die inwoners van Kaapstad bedank vir hul ondersteuning en gesê sy sal binne twee weke ʼn aankondiging maak oor haar planne vir die volgende fase van haar lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hoe nou....... ·

Eks saam met jou JJ – however, wat is die alternatief. Daar sal virseker n rede wees vir haar optrede want niemand is skuldig tot skuldig bewys deur n hof nie. Sy gaan aanhou druk totdat sy kry wat sy nie wou gehad het nie. Dis alles smoke en mirrors totdat die waarheid uitkom – politiek is n skaak spel wat net die spelers van die game verstaan. Dis soos n BMW bestuurder op die highway…..wil nie die flikker gebruik nie want hy’s bang hy gee sy volgende move weg.

Smirre ·

Hopelik is ons nou ook vry. Van haar politieke mannewales en speletjies. Moeilikheidmaker.

humor ·

Ag nee wat is hierdie eindelose stresvolle lewe dan noodsaaklik. As een persoon se jy is n donkie, steur jou nie daaraan nie. As 5 persone dit se gaan koop dan n saal. Maak vrede daarmee en werk vir n beter toekoms.

Jan Alleman ·

Haar politieke aspirasies is groter as haar vermoë. Sy is gefrustreerd met haar posisie en die roete boontjie was toe met veel beter gekwalifiseerde mense. So nou brom sy. Sy brom en brom en breek alles om haar af. Dis hoe dit voorkom.

Yster ·

Hoog tyd dat sy waai. Nou sal ek lekkerder DA stem. Van die OD se tyd was sy nooit “cool” vir my nie.

CJ ·

De Lille gaan seker nou (weereens) by n ander politieke party aansluit. Ek het ophou tred hou met almal. Dalk kan iemand my help onthou asseblief.

Santie ·

Weet nie wat is die ergste nie: dat De Lille daagliks ‘n nuwe storie het, of dat die media haar soveel blootstelling gee, of dat soveel mense haar waaragtig nog glo nie. Good riddance. Uiteindelik. Hopelik!

Rooikop ·

Hoop tog net Patricia is nou klaar met al haar aandag soek ………….. Sy het nie end nie ………..

Sy moet tog net uit die politiek bly ……………….

Mnr x ·

En ons is vry van jou gesanik. Die EFF wag vir jou jy hoirt daar.

Ag asb. ·

Niemand het jou gevange gehou nie tannie Patricia! Jy kon lankal geloop het maar toe wil jy eers politieke speletjies speel. Jou woordkeuses is oordrewe en daarop gemik om jou as ‘n slagoffer te laat lyk. Word groot toe.

Swannie ·

Nou weet die DA ook hoe die boere moet voel wanneer hulle van `n werker onstlae wil raak en in sommige gevalle reeds afgedank het, maar die persoon wil net nie die pad vat nie.

SjN ·

Sy gaan ook haar maandelikse vergoeding mis, ek dink sy gaan rooikappie speel.

Jannie ·

Dit blyk reeds lankal dat sy en die ANC sterk na mekaar vry!!! Ek sal nie verbaas wees indien sy selfs by die EFF betrokke raak nie!!!

Sp ·

Indien dit waarheid is, is haar agenda heel moontlik om die DA te sabotteer en te knou.

Sarel ·

Rassisme- het hierdie mense dan niks anders in die lewe om hulle mee te verdedig nie.
Waarom moet mense altyd waar hulle nie hul sin kry nie en te na gekom voel alles om hulle probeer vernietig?
Kry hulle dan n tipe sattisfaksie van ek het jou gekry?
Waarom nie maar net gaan en doen iets anders nie? Dit is eintlik kinderagtig en wys net dat hulle nog ver en vir lank nie politieke volwassenheid gaan bereik nie.
Daar was n tyd wat almal vir haar respek gehad het, sy het dit nou eiehandig afgebreek en nou is almal skuldig behalwe sy self.
Nogal jammer, gedink hier is n uitsondering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.