‘Ek kan dit steeds nie glo,’ sê vrou oor boete vir hond

Pokkels sit in Venter se bakkie. Foto: Verskaf

Wildvreemdelinge het haar nou al van heinde en ver gekontak en wil sommer vir haar nog honde gee.

Santie Venter (53) lag wanneer sy nou weer die storie vertel van ʼn verkeersbeampte wat haar beboet het omdat sy haar hond by haar in haar bakkie gehad het. “Ek kan dit egter steeds nie glo nie.”

Venter het ʼn foto van die boete van R1 000 op Facebook geplaas en dit het sedertdien soos ʼn veldbrand versprei. Sy en haar 15 honde woon op ʼn kleinhoewe buite Vanderbijlpark.

Venter het Woensdagoggend gaan brandstof ingooi en sy en Pokkels, haar agt jaar oue Labrador-Great Dane-kruising, was net ná 09:00 op pad terug huis toe, toe hulle deur ʼn verkeersbeampte van die pad af getrek is.

Die verkeersbeampte het om Venter se 1984-model blou Nissan 1800-bakkie gestap. Volgens Venter is die bakkie dalk oud, maar heeltemal padwaardig en is sy lisensie op datum.

Dit is egter toe dat die verkeersbeampte vir haar gevra het of sy weet dat dit onwettig is om met troeteldiere in ʼn voertuig te ry.

“Ek het geantwoord dat ek dit nie geweet het nie. Hy het vir my gevra hoekom ek ʼn hond in die bakkie het en ek het vir hom gesê vir my eie veiligheid, waarna hy my uitgelag het.

“Hy het aanhou sê: ‘I’m gonna write you’ en ek het vir hom gesê dis reg waarna hy weer vir my gelag het. Ek het vir hom gesê ek gaan die saak nie net hier laat nie.”

Volgens Venter het die verkeersbeampte toe geloop en die boete gaan uitskryf. Sy het ʼn foto daarvan geneem en dit op Facebook geplaas. Venter het reeds besluit om die volgende oggend na die landdroshof in Vanderbijlpark te gaan, en is ook deur sosialemediagebruikers aangeraai om dit wel te doen.

Pokkels het weer saamgery, maar dié keer is een van Venter se werkers ook saam. Die werker ry gewoonlik saam as Venter lank in ʼn winkel gaan besig wees sodat hy Pokkels in die koelte kan laat staan.

‘n Foto van die boete wat Venter ontvang het.

Venter het by die hof met ʼn staatsaanklaer gesels en die situasie verduidelik. “Sy het gesê dis nonsens en nadat ek ʼn verklaring uitgeskryf het, het sy die boete gekanselleer.”

En nou kontak mense vir Venter om te hoor of sy nog honde soek. Venter lag hieroor aangesien sy hoeka so twee maande terug nog twee honde aangeneem het.

“Ek het soveel honde as wat ek kan bekostig. Hulle is my kinders en elkeen het ʼn bed in die huis. En hier bel mense en sê kom ons gee vir haar nog.”

Volgens Venter is meeste van haar honde aangeneem nadat hulle weggegooi is. Pokkels was net agt weke oud toe sy by Venter ʼn huis gekry het en vir die afgelope agt jaar is sy elke dag aan haar eienaar se sy.

Oor haar ligblou bakkie sê Venter: “My pa het hom gekoop, maar ek het meestal met hom gery en nadat my pa oorlede is, het ek permanent met hom begin ry. Daar is niks met fout met die bakkie nie en als is op datum.”

Howard Dembovsky, voorsitter van Justice Project SA (JPSA), het die boete as lagwekkend bestempel.

Dembovsky sê die wetgewing ingevolge waarvan Venter die boete opgelê is, bepaal dat geen bees, perd, donkie, muil, skaap, bok, vark of volstruis op ʼn openbare pad aangejaag mag word nie. Volgens hom het dit geen betrekking op die vervoer van ʼn hond in ʼn voertuig nie.

“Sy moet tog die verkeersbeampte vra om te verduidelik na watter een van dié diere hy verwys het. Ken hy die verskil tussen ʼn hond en ʼn bees of ʼn volstruis of ʼn donkie?”

Volgens Dembovsky is die binneruim van ʼn voertuig nié ʼn openbare pad nie.

“Daar is geen bepaling in die wet dat jy nie met ʼn dier in jou voertuig mag reis nie,” het hy gesê. Dit mag gedoen word solank die dier nie met die bestuur van die voertuig inmeng nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.