‘Ek kan weer vir myself in die spieël kyk’

(Foto: Verskaf)

Wat veronderstel was om net ʼn gewone dag by die werk te wees, het in ʼn oogwink vir Marissa Barnard, ʼn 30-jarige perdestalbestuurder van Donkerhoek buite Pretoria, in haar grootste nagmerrie verander.

Barnard was by haar werkplek, The Burgh Equestrian Estate, besig om haar passie en liefde vir kinders en perde uit te leef, toe een van haar geliefkoosde perde haar tydens ʼn oefensessie in die gesig geskop het.

“Die perd moes geskrik het vir iets; hy is een van ons topskouperde en is baie mak,” sê Barnard oor die voorval twee jaar gelede.

“Ek weet nou nog nie wat dit was nie, maar hy het omgedraai en my klipsteenhard op die neus geskop.”

Sy vertel dat alles baie vinnig gebeur het.

“Ek het my bewussyn vir ʼn paar sekondes verloor en myself in ʼn groot plas bloed bevind toe ek wakker skrik.

“Toe ek aan my neus vat was daar niks nie, net ʼn stuk vel.”

Die ongeluk het haar met ernstige beserings aan haar bo-kaak, neus en sinusse gelaat.

“Die kraakbeen en al die klein bene in my neus is vergruis en my maksilla (die been in die middel van die skedel onder die neus) het in stukke gebreek.”

(Foto: Verskaf)

Sy is na die ongevalle-eenheid by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria vir mediese behandeling geneem omdat sy nie ʼn mediese fonds het nie.

“Die bloed het net uit my gesig bly stroom,” sê Barnard.

Toe die dokters na ses uur uiteindelik die bloeding onder beheer kry is Barnard na die tand-en-mond-afdeling van die hospitaal geneem.

“Daar was nie genoeg van my neus oor om die vorm te behou nie, my hele neus was eintlik weg. Hulle moes dadelik vir my ʼn nuwe neus bou.”

(Foto: Verskaf)

Sy vertel dat sy weens die dringendheid sonder narkose geopereer moes word omdat daar nie ʼn narkotiseur in daardie stadium aan diens was nie, maar dat sy uiteraard baie dankbaar was vir die werk wat die dokters gedoen het.

“Hulle het vir my gesê dat dit die eerste operasie van sy soort in die hospitaal is omdat die meeste pasiënte met soortgelyke beserings aan hul wonde beswyk voordat hulle ‘n operasie kan ondergaan.

“Ek was dankbaar ek kon nog lewe.”

Ná die ongeluk

“Ek kon nie meer vir myself in die spieël kyk nie. Ek was baie getraumatiseerd, ek is nou nog verskriklik versigtig wanneer iets te naby aan my gesig kom.”

Barnard sê sy kon vir ʼn maand nie eers lê en slaap nie, sy moes regop sit as sy wou rus.

(Foto: Verskaf)

“Alles was anders, ek moes soveel dinge van vooraf leer, selfs om water uit ʼn glas te drink.

“My sinusstelsel kon glad nie meer dreineer nie wat veroorsaak het dat ek konstant met asemhalingprobleme en sinusinfeksies gesukkel het.”

Op sommige dae was haar oë so toegeswel van die pyn dat sy nie kon funksioneer nie.

Sy kon vir ʼn jaar nie aan haar neus raak nie, en toe die pyn uiteindelik net ʼn bietjie meer draaglik raak, het konstante sinusprobleme en infeksies – wat na haar longe versprei het – haar lewenskwaliteit verder verswak.

“My huisdokter het verduidelik dat hy nie meer vir my antibiotika of pynmedikasie kan voorskryf nie, omdat my organe sou ingee.

“Dit was verskriklik en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie.”

Die stukkende bene in haar gesig het nie reg geheg nie en gespesialiseerde behandeling en verdere operasies was Barnard se enigste oplossing. Herhaalde pogings om ʼn afspraak by die staatshospitaal in Pretoria te maak het egter totaal nutteloos geblyk, en haar lêer het glo ook intussen weggeraak.

Haar opsies was min, maar Barnard kon na ʼn lang gewag ’n afspraak en kwotasie by The Nose Clinic in Pretoria kry.

Die prosedure wat sy benodig –  wat geen eksterne kosmetiese werk insluit nie – kos sowat R50 000.

Sy vertel dat sy uit pure desperaatheid ʼn persoonlike lening moes aangaan om ná meer as twee jaar se pyn en probleme weer ʼn “werkende” neus te kry.

Die operasie is onlangs suksesvol voltooi en sy het nou  ʼn lang herstelpad wat voorlê, finansieel ook.

“Ek besef dat ek nie die koste alleen kan dek nie, vir die volgende jare gaan ek hiervoor moet betaal, maar ten minste kan ek nou weer asemhaal.

“Ek kan weer vir myself in die spieël kyk,” sê Barnard.

Marissa se ma, Ansie Barnard, het intussen ’n skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur en die publiek gevra om haar dogter te ondersteun.

“My dogter het geen mediese versekering nie en die noodsaaklike operasie van R50 000 moet nou uit haar eie sak betaal word. Hiermee neem ons die volgende stap om hulp te vra van die publiek sodat sy haar passie en liefde vir kinders en perde weer kan uitleef.”

Sedert die bekendstelling van die veldtog is meer as R7 000 reeds ingesamel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

N perd van n ander kleur.Perde is so onvoorspelbaar bly weg van hulle agterkante my broer amper doodgeskop deur n perd.Sy is so gelukkig sy besef dit nie.Ek sou die perd n les geleer het.

TruthDealer ·

Ek glo nie die perd sou eens verstaan waarom jy hom n les leer nie. Dis n dier en dink nie dieselfde as ons nie. Wat ek persoonlik voel: Perde is pragtige diere om te bewonder Op n Afstand. Te onvoorspelbaar. As n blaar van n boom afval skrik hulle byna hul niere weg. Of sommer vir glad niks. Nee wat, te onvoorspelbaar en senuagtig, in die algemeen. Ek het meer as 30 jaar gelede n meisie ontmoet in Jhb met n glasoog en helfte van haar gesig skeef, weens haar eie perd wat haar geskop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.