‘Ek kon dood gewees het,’ sê musikant ná ontvoeringsdrama

Corneille Hutten (Foto: Facebook)

Corneille Hutten, stigterslid van die gewilde kitaarduo CH2 waarvan Dirkie van Staden die ander lid is, sê hy is “gelukkig om te leef” nadat ʼn groep verdagtes hom Donderdag in Johannesburg ontvoer, in die agterkant van ʼn bakkie gegooi en etlike ure met hom rondgery het.

Hutten het Vrydag aan Maroela Media vertel hy is steeds “geruk” na dié voorval wat hy nie eens sy “grootste vyand sal toewens nie”.

Die musikant vertel hy was Donderdag in Johannesburg om klanktoerusting, wat hy enkele dae vantevore aangekoop het, na Pretoria te bring wat bedoel is vir ʼn klankinstallasie wat hy in Queenswood in Pretoria doen.

Volgens die kunstenaar het hy sy eie voertuig by die Campus Square-winkelsentrum in Johannesburg parkeer en toe twee blokke verder na ʼn onafhanklike huurmotormaatskappy gestap waar hy ʼn afleweringsvoertuig gehuur het.

“Ek het dié maatskappy op die internet opgespoor omdat sommige van die groter huurmotormaatskappye vir my te duur was. Dit word eintlik maar bestuur deur een persoon wat oënskynlik ook net een of twee vragmotors het. Die eienaar het gesê hy moet saam met my ry, maar ek het gevra of ek die vragmotor kan bestuur om die klanktoerusting te gaan oplaai. Hy het ingestem. Nadat ons die toerusting opgelaai het, het ons in Empireweg afgery toe die voorval plaasgevind het,” sê hy.

Volgens Hutten was sy motorruit afgedraai omdat die vragmotor nie lugversorging het nie. “Ek het in die pad gekyk terwyl ons by ʼn stopstraat gewag het om te ry en toe ʼn man se stem gehoor wat sê: ‘Excuse me.’ Ek was nie seker of dit ʼn bedelaar is nie, en toe ek kyk, het ek net iets in die rigting van my gesig sien swaai. Dit het gelyk soos ʼn knopkierie waarmee hy my oor die kop geslaan het. Hulle het my daarna uit die voertuig gepluk en my in die agterkant van ʼn bakkie ingeboender. Daar was geen vensters nie, en hulle het net begin ry.”

Volgens Hutten moes die eienaar van die maatskappy moontlik uit die vragmotor gespring en toe weggehardloop het omdat hy alleen in die bakkie gegooi is. Die verdagtes het na bewering vir etlike ure met hom rondgery.

“Ek kan nie beskryf wat ek in die agterkant van daardie bakkie beleef het nie. Onsekerheid. Ek het twee dogtertjies tuis en ek het net bly dink dat ek nié my dogtertjies sonder ʼn pa sal laat grootword nie. Ek het geweet hulle moet óf soek na ʼn geleentheid om my af te gooi op ʼn verlate pad óf hulle wou my vermoor. Ek was vasberade om dit nie toe te laat nie.”

Hy sê die bestuurder van die bakkie het in ʼn verlate veld stilgehou. Hutten sê hy het dié geleentheid gebruik om twee mans af te weer wat die kap van die bakkie oopgemaak het.

“Toe die deur oopgaan, het ek met alle mag die eerste man ʼn vuishou gegee. Ek het probeer uitspring, my ribbes teen die skarnier van die kap gekap, en die tweede man ook weggestamp. Ek het die eerste man toe weer geslaan toe ek die grond tref en toe begin hardloop. Ek het geweet een van hulle het ʼn pistool gehad, maar was nie seker of die pistool gelaai was nie. Ek het net voor my bly kyk, gehardloop en konstant gewonder wanneer ʼn skoot sou afgaan wat my lewe sou beëindig. Ek moes seker langer as 15 minute gehardloop het voordat ek agter my gekyk het – dit was heeltemal verlate.”

Hy het ná sowat ʼn uur ʼn nou paadjie aangetref waarna ʼn taxibestuurder stilgehou het. Hy is daarna in ʼn informele nedersetting na die polisiestasie in Alexandra. Die polisie hier kon glo nie ʼn saak aanhangig maak nie omdat die saak in Brixton, waar die voorval plaasgevind het, aanhangig gemaak moet word. “Ek kon hulle telefoon gebruik om my mense te bel, maar hulle het nie ʼn voertuig gehad om my terug Pretoria toe te neem nie. Ek wou ook nie my vriend in die informele nedersetting instuur nie, so ek is na die Gautrein-stasie om per trein na Centurion te reis.

“Ek het in Centurion aangekom met ʼn gebreekte kleintoontjie en ʼn geskeurde hemp, maar dankbaar dat ek leef. Ons is terug na Campus Square om my voertuig te gaan haal en toe weer terug Pretoria toe. Ek moes intussen ook hoor dat ek harsingskudding opgedoen het weens die harde hou teen my kop. Ek het my kleintoontjie gebreek toe ek van die mans probeer vlug het. Ek kan steeds nie glo wat gebeur het nie – iets wat mens nooit verwag met jou sal gebeur nie. Ek onthou die ongelooflike vrees van as daardie bakkie tot stilstand gaan kom en wat hulle dan met jou gaan maak. Ons leef in ʼn siek land – ʼn siek land wat dringend ingryping nodig het.”

Hutten was ná die onderhoud op pad om ʼn saak in Pretoria aanhangig te maak en te versoek dat die saak na die Brixton-polisiestasie oorgeplaas word. Die polisie het glo aan hom gesê dat dié saak slegs in Brixton aangegee kan word omdat die voorval in daardie omgewing plaasgevind het.

Die eienaar van die maatskappy wat saam met Hutten in die afleweringsvoertuig was, is steeds soek. Die beweerde verdagtes is ook glo steeds op vrye voet met die afleweringsvoertuig.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het Vrydag gesê die polisie kan eers ʼn ondersoek begin en kommentaar op die voorval lewer wanneer ʼn saaknommer aan Hutten toegeken is.

Hutten het op dié navraag gesê hy is in die proses om ʼn saaknommer te kry. Hy het glo reeds aan polisielede die oorspronklike advertensie en ʼn foto van die afleweringsvoertuig gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frikkie ·

Frikkie dink dis opperse nonsens dat polisie nie mag/wil/kan help as dit nie in hulle area gebeur nie…! Is hulle dan bendes wat nie mekaar se têrritories ingaan nie of wat?

thinus ·

ek het ook al so voorval gehad waar die polisie man eenvoudig se dis nie hulle area nie dit kan net by die of daardie polisie stasie aangemeld word dink dis pure luiheid hulle is eenvoudig te sleg om hulle werk te doen en is bang hulle werk hulle dood

Esther Coetzee ·

Hulle wil nie werk nie. Is net daar om aan die einde van die maand salaris te ontvang

Kommissarisse van Ede ·

Dit is twak dat enige polisie stasie aanvoer dat dit hul nie saak kan oopmaak omrede die voorval nie in hul wyk plaasgevind het nie. ‘n Klag kan by ENIGE polisiestasie gelê word. Hul moet dan die dossier oorplaas na die regte stasie.

wonder maar net ·

klink vir my meer of die eienaar van die huurmotorplek kop in een mus is met die ontvoerders

Leahim ·

Dit is die rede hoekom ek nooit iets goed te se het oor die polisie nie .Hulle werk is om te dien en te beskerm .Ek verstaan nie hoekom die saak in brixton gerapporteermoet word nie hulle moet die dosier open en dit dan Brixton toe stuur maar hulle is of onosel of te lui.Die klomp is net n mors van belasting geld en niemand vertrou hulle in elkgeval meer nie .

christa ·

die polisie kan nogal baie treurig wees. So paar jaar gelede was ek in ‘n smash & grab by Eufeespad by die fonteine in Pta. Die polisie het my ook van die een polisiestasie na ‘n ander gestuur. Hulle ken nie hulle werk nie of is te lui en wil he ander moet die werk doen

jaco ·

Ons woon inderdaad in n baie baie siek land. Is bly die ou leef darem nog

Waarom betaal ons nog belasting ·

Waarom betaal ons nog belasting vir mense wat ons nie eers in nood wil help nie?

Ls ·

Wat ‘n nagmerrie ondervinding! Dankbaar jy is gespaar. Baie sterkte, voorspoed en genesing word jou toegewens.

Gesiggie ·

Kan net dink waste vrees jy moes deurmaak…. die feit dat die eienaar van die huurmotor plek nog steeds weg is… klink n bietjie verdag, maar as hy die eienaar was? hoekom sal hy saamwerk sodat iemand sy eie voertuig steel…”’ja stem saam so bietjie treurig van die Polisie… kan eers n saak open wanneer jy n saak nommer kry. Corneille ek hoop dat jy gou sal herstel en dat die Polisie hopenlik iets sal uitrig .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.