‘Ek kon net een kyk’ sê LUR oor slaanvideo’s

‘n Skermgreep uit die video.

“Ek kon net een van die video’s kyk en ek was só ontsteld vir die res van die dag. Ek was skoon gister nie myself nie.”

Só het Nandi Mayathula-Khoza, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Vrydag in gesprek met Maroela Media gesê nadat verskeie video’s Donderdag aan die lig gekom het waarin ʼn onderwyseres van ʼn kleuterskool in Carletonville aan die Wes-Rand ʼn kind by dié skool aanrand.

Die LUR vertel dat sy eers gistermiddag van die video’s ingelig is waarna sy summier besluit het om self te gaan kyk wat bedags by die nou omstrede skool aangaan.

Een van die video’s wat teen Donderdagmiddag op talle sosialemediaplatforms gedeel is, wys hoe dié onderwyseres ’n dogtertjie herhaaldelik oor haar kop en op die boude slaan. Die dogtertjie het vermoedelik op ʼn plastiekstoeltjie en -tafeltjie opgegooi waarna die onderwyseres haar dwing om dit skoon te maak en haar dan herhaaldelik bydam.

Mayathula-Khoza het die skool omstreeks 15:00 besoek waarna sy besluit het om die kleuterskool te sluit. “Ons het besluit om die Ninnie’s Neurons-kleuterskool te sluit nadat die skoolhoof tydens my besoek bevestig het dat dié skool sedert 2016 nie by die departement geregistreer is nie,” het Mayathula-Khoza verduidelik.

Volgens die LUR was die kleuterskool aanvanklik by die departement geregistreer, maar dié registrasie is egter nie hernu nadat dit aan die einde van 2015 verval het nie.

“Hulle het nooit weer registreer nie. Dit beteken dat die kleuterskool boonop onwettig is. Om jou registrasie te laat hernu moet jy aan sekere voorwaardes voldoen wat strook met die kinderwet. Dié skool kon dit nie doen nie,” verduidelik Mayathula-Khoza.

Vyftien kleuters tussen die ouderdomme van twee en vier jaar oud was by die kleuterskool ingeskryf teen R1 500 per maand.

Toe bars die bom.

Mayathula-Khoza vertel dat die kleuterskool gister oorval is deur ouers wat hulle kinders kom haal het nadat die video’s op sosiale media versprei is.

“Ouers het hulle kinders kom haal om hulle by ʼn ander skool in te skryf wat werklik na hul kleingoed sal omsien. Ek het gister gehoor dat daar selfs ouers is wat hulle kinders uit die skool gehaal het nog voordat die video’s versprei is,” sê sy.

Volgens die LUR is die video’s reeds sowat 18 maande gelede deur ʼn versorger by die skool geneem waarna dit eers gister die lig op sosiale media gesien het.

‘n Skermgreep uit die video.

Mayathula-Khoza vertel dat sommige ouers by vorige geleenthede kneusplekke aan hulle kleuters opgemerk het. Dié kleuters was ook teruggetrokke en huilerig waarna hulle dit by die skoolhoof aangemeld het.

“Die skoolhoof het bloot gesê hulle verbeel hulself en het nooit ondersoek ingestel nie,” vertel Mayathula-Khoza.

Die skoolhoof het ook nog nie bevestig of die onderwyseres in die video wel gekwalifiseer is vir haar pos as versorger en juffrou nie. “Ons weet nie eers of sy gekwalifiseer is om met kinders te werk nie,” het Mayathula-Khoza gesê.

Op Maroela Media se vraag oor hoe die onwettige skool vir drie jaar ongesiens by die departement kon verbygaan, het die LUR geantwoord dat sy onwettige skole sedert haar aanstelling in 2014 prioritiseer.

“Die departement het sedert my aanstelling 55 onwettige skole gesluit wat nie geregistreer was of aan die nodige voorwaardes in verband met die kinderwet voldoen het nie. Die land het egter ʼn hoë werkloosheidsyfer en ons probeer om skole eers te help om aan die vereistes te voldoen en dan te registreer voordat ons skole summier sluit.”

Maroela Media kon na verskeie pogings nie die skoolhoof se regsverteenwoordiger vir kommentaar bereik nie.

Die onderwyseres (40) is sedertdien in hegtenis geneem. Sy het op 28 Maart vlugtig in ʼn hof in Carletonville verskyn op aanklagte van die aanranding van ʼn minderjarige waarna sy op borgtog vrygelaat is. Sy sal weer op 7 Mei in die hof verskyn.

Die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling het Vrydag geëis dat die onderwyseres na afloop van dié hofsaak op die nasionale kinderbeskermingsregister geplaas moet word sodat sy nie weer met kinders kan werk nie. Dié register hou boek van alle voorvalle van kindermishandeling en ‑verwaarlosing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Wilmarie ·

Die video is vir my vreeslik onstellend. Hoekom werk sulke mense met kinders? As jy nie tyd en liefde het vir kinders nie, hoekom doen jy daai tipe werk? Dis onaanvaarbaar! As dit my kind was……. jy het geen, maar geen reg om daai kinders só te slaan nie! Hulle is klein, kon seker nie eers vir hulle ouers vertel het wat aangaan nie. ?

Santjie ·

Ek hoop geregtigheid geskied hier. Die ander kindertjies waarvan hulle ook praat en die enetjie se ouers moet sommer alle klagte wat teen die vrou gelê kan word lê.

Dries Moolman ·

Waarom is daar nooit ondersoek ingestel na die kleuterskool se permit verval het nie? My liewe hel, mens word dag en nag getreiter en gedreig vir tv lisensie geld wat in elk geval van geen waarde meer is nie, maar plekke soos hierdie wat moet permitte he kan net voortgaan sonder enige vrae of ondersoeke? Hoe werk dit??

HESTER ·

As ek moet se wat ek regtig dink en wat ek aan haar sou doen ,sl ek gearresteer word..Lusufi moes lankal opgetree het teen hierdie skool se prinsipaal asook die werknemer. Daar word genoem dat dit al 18 maande terug opgeneem is. Hoekom nou eers. ? Aangesien daar alreeds ander videos is wat dit wil voorkom dat dit dieselfde persoon is.

Jacqueline ·

18 maande teruggeneem…so daardie persoon wat dit geneem het, het stil gebly tot nou? Indien so sal dit ongelooflik hartseer wees dat sy dit gedoen en en hoeveel ander kinders is in die 18maande seergemaak en verniel? So ‘n persoon is in my oë netso skuldig.

Jerry ·

Die kind gaan vir lank trauma behandeling moet kry! Slegs n geestesversteurde persoon sal n kind so aanrand en mishandel. Ek glo hulle sal die vrou vir waarneming stuur. n Mens kan maar net wonder oor wat sy dalk ook aan die ander kinders kon gedoen het. Hulle sou beslis nie aan haar geweldadige attensies ontsnap het nie! Die keuring en aanstellingsvereistes was in hierdie geval, seersekerlik nie nagekom nie.

Charlene ·

Jerry, jy sê slegs ‘n geestesversteurde persoon sal so iets kan doen. Ek stem. Ook ‘n psigopaat, wat geen gewete het nie.

Ek het gelees die persoon wat die opname gemaak het het dit (op haar tyd) gebruik om die skoolhoof mee af te pers. Dus, volgens my, maar dit van haar ook ‘n medepligtige.

John ·

Dis nie die enigste plek in die land waar dit gebeur nie. Kleuters word in badkamers toegesluit, sonder kos gelaat en met vuil doeke gelaat… hulle kan dit mos nie oorvertel nie. Geld wat stom is maak reg wat krom is?

Natasha ·

Wie ook al die videos gemaak het moet ook vervolg word. Hulle moes intervene her in plans van videos maak. Mense help mekaar nie meet nie. Maak liewers net videos vir fame en glory

Rentia ·

Kleuterskole/Skole moet bewys van registrasie lewer aan ouers en ouers moet seker maak dat die skool wel geregistreer is. Stel ‘n webwerf op waarop almal kan sien watter skole geregistreer is. Kan tog sekerlik nie so moeilik wees nie? Regulasie moet baie strenger toegepas word. Ouers moet op die webwerf klagtes kan registreer en dit moet opgevolg word. Tipe Ombudsman vir skole? Skande om te dink hoe ons kindertjies mishandel word deur onmenslike, gevoellose boelies!!!!! Wat gebeur nou met die boelie???

AC ·

Rentia ek wens dit was so maklik soos dit. ons het ons dokumente drie jaar terug ingegee, en dit het hulle so lank gevat om te reageer. uit die aard van die saak is daardie mense wat op die lys is weg en ander is aangestel. die proses het weer voor begin. ek stem saam dat ouers ten minste registrasie moet kyk want hulle kyk alles tot die verval datums op die bak met rys. dit IS n baie goeie maatstaf maar glo social development moet meer effektief wees. n ander kommentaar, jy kry twee tipes skole: die een wat wil geld maak want hulle het nie ander werk en dan besluit hulle dis n goeie tipe besigheid. hulle stel iemand aan en gaan doen ander goed in die dag. (daar is baie van hulle) en dan die ander een waar die eienaar passievol is vir kinders en wat hulle leer. die “triek” is om daardie skole te identifiseer want hulle is gewoonlik eerste vol.

Jeremia ·

Waarom werk sulke mense met klein kindertjies?
Dit is skandalig om so ‘n kleintjie te slaan.
Kyk, mens het darem nie ‘n hart as jy so met ‘n kleintjie aangaan nie.

MJ ·

In al die tyd wat ons nou al met kleuterskole te doen het met ons eie kinders se dinge… is daar een ding wat altyd na vore kom.. kies jou skool baie, baie versigtig. Gesels met almal, kyk na alles by die skool en daag onverwags daar op om te sien wat regtig aangaan. Jou kindjie se gewilligheid om daar te bly in die oggend is die eerste teken dat alles nie pluis nie. Want o wee daar is darem aardige ‘kleuterskole’.

Karen ·

Sy was reeds in die hof, waarom word haar naam nie bekend gemaak nie?

Joe ·

@Karen, met enige saak moet die beskuldigde eers pleit in die hof voor haar naam bekend gemaak kan word. Al is dit op video met n confession, sy moet eers pleit.

arina ·

En die video is al 18 maande oud? ‘n skreiende skande. Maak van hulle ‘n voorbeeld.

GM ·

Ek sal nie eers een video kan kyk nie, die beskrywing is vir my erg genoeg.

Ek het altyd by die skooltjie gebly as ek my dogtertjie soontoe gevat het om bietjie in aanraking te kom met ander kinders. Daar was ook ‘n vroutjie wat van die jonger kinders geknyp het, en as hul begin huil het, het sy vir die kind gesê sy speel net. En goed uit hul hande uitgeklap as hul grond of blare optel. Sy is gelukkig baie vinnig afgedank.

Dit sou wonderlik wees as alle ouers hul kinders eers in skooltjies kon sit as die kiddies kon vertel wat by die skool aangaan. Dis ‘n skande dat die lewe so duur geword het en so baie ouers ontneem word van die voorreg om by hul kinders te kan wees terwyl hul nog so afhanklik is.

B ·

Ek is self’n kleuterskool onderwyseres. Die kind kan miskien nie kommunikeer in soveel woorde nie maar as ‘n ouer is dit noodsaaklik om te kyk na gedrag veranderinge en meeste kinders wat aangerand of mishandel word wys ‘n ander gedrag. Gewoonlik kan jy dit raak sien as jy die kind goed ken. Self vir ons in onderwys moet ons ook oplettend wees vir mishandeling tekens vanaf die kind se gesin.

Daai so genaamde juffrou is defnitief nie gekealifiseer nie en het seker die pos aanvaar net om ‘n salaris te verdien. Skande dat LUR nie bewus was van hulle onwettige doen en late nie. Al die betrokkene families moet hulle kinders by ‘n terapeut kry die basis vir ‘n gesonde toekomstige skool opvoeding is daarmee belemmer. Baie sterkte aan die kinders!

Jozi ·

Ek het nie en sal ook nie daardie videos kyk nie.
Maar ek gaan wel een vraag vra – hoeveel babas/kleuters/klein kindertjies word nie op ‘n daaglikse basis aan presies dieselfde mishandeling blootgestel by die ouerhuis nie?
Wat verhoed die nanny/au-pair/versorger om dit aan die kinders wat in hul sorg geplaas word te doen?
Ouers let asseblief op na jul kinders se gedrag.
En indien moontlik, oorweeg maar ‘n weggesteekte kamera of twee in die huis waartoe u toegang het op u selfoon/rekenaar.

Ryan ·

CCTV by Kleuterskole en Laerskole moet wetlik verplig word. Ons weet maar net van die stories wat uitkom en myns insiens is dit maar net ‘n druppel in die emmer.

Sammy ·

Die persoon wat daardie videos geneem het, (ek het drie op Facebook gesien, met dieselfde juffrou), moet ook gearresteer word, hoe staan jy by terwyl sulke goed gebeur? Wie het die fotos geneem?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.