‘Ek loop vir ewig met die merk’ – boervrou ná aanval

Alison Oates. Foto: Facebook.

“Ek is verlig dat geregtigheid uiteindelik geskied het. Dit was ʼn moeilike vyf jaar.”

Só vertel Alison Oates nadat die man wat haar vyf jaar gelede op haar plaas naby Harrismith aangeval, gemartel en verkrag het Woensdag in die streekhof swaar gestraf is.

Themba “Steen” Makhubo is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Oates se verkragting, asook 15 jaar vir gewapende roof met verswarende omstandighede.

Oates is in Oktober 2015 op haar plaas aangeval nadat sy van ʼn vergadering in Bethlehem teruggekeer het.

Twee onbekende mans het haar destyds by haar huis ingewag. Hulle het haar in haar huis ingedwing waar hulle haar met kledingstukke vasgebind het. Sy is onder meer met ʼn mes gesteek en met ʼn warm strykyster gebrand terwyl haar aanvallers op geld aangedring het.

Sy het vir hulle gesê sy het nie baie geld nie, net dit wat sy by haar gehad het. Die mans het haar verkrag voordat hulle met haar wit Mahindra-bakkie gevlug het. Hulle het die geld wat sy by haar gehad het en ʼn selfoon gesteel.

Hoewel drie verdagtes vroeër in verband met die aanval in hegtenis geneem is, is Makhubo die enigste wat in dié stadium deur DNS met die aanval verbind kon word. Die tweede verdagte kon slegs deur Makhubo geïdentifiseer word, maar hy het besluit om dit nie te doen nie.

“Daar is gerugte dat die tweede verdagte deur ʼn vragmotor raakgery is en gesterf het toe hy van ʼn misdaadtoneel probeer vlug het. Maar dit is slegs gerugte,” vertel Oates.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê die landdros het tydens vonnisoplegging gesê ernstige misdaad in Suid-Afrika neem toe en dat dit duidelik is dat hierdie oortredings vooraf beplan word.

Hy het gesê die aard van die misdaad moet in ag geneem word wanneer misdadigers gevonnis word. Die vonnisse moet ook voornemende misdadigers afskrik.

“Die landdros het die emosionele uitwerking van die misdaad op Oates met die vonnisoplegging in gedagte gehou. Hy het die feit dat Makhubo geen berou getoon het nie, asook die toename in misdade teen vroue en kinders, in berekening gebring.”

Oates sê die afgelope vyf jaar wat sy moes wag dat geregtigheid geskied, was emosioneel uitmergelend.

“Hoewel hierdie afgelope vyf jaar nou agter die rug is, kan ek nie vergeet wat aan my gedoen is nie. Ek kan nie die verkragting net uit my gedagtes weer en bloot aangaan met my lewe nie. Dit is so asof die man my met ʼn warm yster gebrandmerk het. Ek sal nou vir ewig met die merk moet rondloop.”

Dié kranige boervrou is wel verlig dat die vonnisoplegging nou verby is.

“Hierdie vonnis moet as voorbeeld dien vir ander misdadigers dat geregtigheid sal geskied.”

Oates sê sy is ongelooflik dankbaar vir haar vriende en familie wat in hierdie tyd by haar gestaan het. Sy het ook haar dankbaarheid betuig aan Vrystaat Landbou en die DA wat haar in die hof bygestaan en gehelp het.

Die DA verwelkom die vonnis.

“Oates moes vir vyf jaar haar verkragter voor haar in die hof sien staan en is deurlopend aan die aanval herinner. Daar was ook gereeld vertragings en ʼn gebrek aan vordering en inligting met die hofsaak en daarom het die saak so gesloer,” sê Steyn.

“Juis om hierdie rede het die DA sy program vir die monitor van hofsake op die been gebring om te verseker dat gereelde terugvoer rakende ondersoeke na plaasaanvalle en plaasmoorde, asook die hofverrigtinge gegee word. Dit dien ook om te verseker dat ondersoeke deeglik gedoen en sake deurgevoer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

FM ·

Ek is dankbaar dat daar ondersteuning vir hierdie dapper vrou is.

Ek sal swyg t. o. v. die straf vir marteling, verkragting en roof. Dit skrik nie die…………….

Niklaas ·

Een dapper en sterk boervrou daardie. Sulke traumas soos wat sy moes verduur, maak my net rooi sien met aaklige gedagtes…

Deon ·

Hy wil nie sy maat se identiteit bekendmaak nie, hiervoor moet n wet geskep word, iets in die lyn van sommer n lewenslange vonnis vir die die maat se part ook…. Mag God sy hand oor hierdie vrou hou en haar sterk hou vir die toekoms.

Maggies ·

Stem heelhartig link met jou saam. As hy nie sy “partner in crime” Wil bekend maak nie, moét hy sy strak ook bykomend kry. Want sy stilswye is dan die oorsaak dat die vent nog ‘n vrou kan verkrag.

Wonder net ·

Ja nee ek se ook hulle moet dit bekend maak. Maak sy straf erger omdat hy nie praat nie. Dit skep net n geleenheid (ongelukkig) vir hulle die geleentheid om terug te gaan. Hulle weet sy is vulnerable.

Persheks Adri ·

Ek haal my hoed af vir die tannie! Alle sterkte vir tannie en mag God tannie help om van die seer te herstel al gaan daai letsels vir altyd by tannie bly. My hart is stukkend vir tannie…

Mag die vonnis ‘n les wees vir die verkragters en mag dit aanlopend wees sonder parool!

Persheks Adri ·

Hulle haat ons blankes so ek vra jou mooi dink weer voor jy daai stelling maak. Glo my met die regering gaan hulle ons 1ste dood maak en nee ek baklei nie hoor

Miskruier ·

God gee krag om staande te bly, te vergewe en om later nie altyd aan hierdie pyn herinner te word nie.

Anon ·

As vrou gaan my hart na jou uit Mevrou. Vir die regering is dit so maklik om ons landsburgers van voldoende en gepaste geregtigheid te weerhou onder die dekmantel van “demokrasie”. In ‘n ware demokratiese land sou hierdie man niks minder as die doodstraf verdien en gekry het nie. Ek is jammer jy moes hierdie pad stap.

Nico ·

Sterkte vir Alison Oates. Wat sal dit help om teen hierdie regering te baklei en stry, hulle is mos in beheer van hierdie land.

Dries ·

Sterkte Mev Oates.

Die GBV aktiviste is verbasend stil. Hulle behoort gevalle soos hierdie wyd en syd te bespreek en aanhaal in die media en op sosiale media sodat GBV oortreders kan sien wat op hulle sou wag. Maar nou ja, soos ek se, die aktiviste is maar stil…

ES ·

Meerderheid van die sake sloer a.g.v. swak polisie werk – baie bly hierdie saak is afgehandel. Nou kan jy met genesing begin.

Anoniem ·

Iewers sal die Regering werklike stappe moet neem om veral teen verkragters strenger op te tree. Die Persoon(Persone) doen hierdie veragtelike daad, word in die hof skuldig bevind en gaan lewe lekker op die Staat se onkoste, word na paar jaar vrygelaat en doen dit daarna soms weer. Die slagoffer loop vir die res van Haar lewe met hierdie klad op haar nbaam!!!!

Regverdigheid ·

Sterkte bly God se hand was oor jou …..net jammer jy moes deur dit gaan en hul so lank gevat met die saak .

Vanessa ·

Ek kan my die eers indink deur watse hel sy is nie. Dit kan net God wees wat haar die krag gegee het om aan te gaan. Sy is sekerlik een van die sterkste mense wat steeds staande bly en elke dag vat soos hy kom. Dis presies wat hulle wil doen, hulle wil jou breek in so mate dat jy nie meer wil aangaan nie, maar die vrou bewys hulle verkeerd sy gaan nie toelaat dat Satan haar onderkry nie. Hou moed, hou aan, jy stel ‘n voorbeeld vir ons vrouens. Ek weet ek het nie ‘n benul waardeur jy is nie, maar jy maak ‘n verskil in ander se lewens en gee ons vrouens weer hoop dat niks ons moet onderkry nie.

Swerkater ·

Watse berou sal hy toon? Hulle doen dit dan met hul eie mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.