‘Ek sal haar seer, siekte vat,’ sê pa oor dogter (6) se stryd

José en Sumien saam met hul kinders, Mia Cara en Sofia (Foto: Facebook)

ʼn Gesin van Somerset-Wes in die Wes-Kaap veg verbete om meer as R6 miljoen in te samel sodat hul sesjarige dogtertjie die beste moontlike kans op lewe kan hê.

José en Sumien Ferreira, ouers van die jong Mia Cara, sê die gesin was verpletter toe hul oudste kind sowat twee jaar gelede met leukemie gediagnoseer is. Dit is sekerlik enige ouer se grootste nagmerrie, vertel hulle, maar oor een ding was hulle seker: Hulle sou dié kanker die stryd aansê én die geveg daarteen wen.

Mia Cara moes sowat 21 maande van intense chemoterapie, lumbale punksies en beenmurgbiopsies ondergaan, en die gesin was verheug toe hul kind glo in remissie gegaan het. Die ouers het egter in Mei vanjaar, kort ná hul eerste vakansie in twee jaar, gehoor dat sy ʼn terugslag gehad het en dat die chemoterapie van voor af sal moet begin.

“Dis ʼn terugslag vir ʼn mens se gesin ook,” vertel José, ʼn prokureur. “Wanneer die dokters sê sy is in remissie, is dit so byna asof jy begin glo dat dinge weer oukei sal wees. En dan kom dié nuus en dit verpletter jou van voor af. Sy het pas begin gesond raak, haar hare het weer teruggegroei en sy kon selfs weer skool toe. In ʼn oomblik het dit alles weer verander.”

Volgens hom het die dokters gesê Mia Cara sal weer met intense chemoterapie moet begin waarna sy ʼn beenmurgoorplanting én bestraling sal moet ontvang. Dié behandeling sal haar gesondheid erg benadeel.

“Die beenmurgoorplanting sowel as die bestraling hou erge newe-effekte in, veral vir jonger kinders. Dokters het gesê sy sou moontlik breinskade kon hê as gevolg van die bestraling. Ons sou moontlik vir jare nie eers die skade daarvan kan bepaal nie; sy sal moontlik leerprobleme ondervind. Die behandeling gee haar boonop nie die beste kans op lewe nie en die dokters wil nie ʼn prognose maak nie, maar dit lyk asof haar kanse op oorlewing net meer as 50% sou wees.”

Behandeling in die VSA wat as T-sel-terapie bekend staan sal in dié stadium haar beste kanse op oorlewing en ʼn volle herstel wees, vertel José.

Met dié behandeling word haar witbloedselle in ʼn laboratorium geneties aangepas om die kankerselle aan te val en te vernietig en dan weer in haar liggaam “teruggeplaas”. Die liggaam se eie witbloedselle vernietig in wese dan die kanker. In die geval van leukemie val die mens se selle juis nie die kanker aan nie, omdat die kanker in die witbloedselle voorkom en die liggaam die selle erken as “deel van sy eie”. Dit is juis daarom nodig om die selle aan te pas.

Volgens mediaberigte bied dié behandeling ʼn beter kans op oorlewing – soveel as 83% tot 93% – én herstel omdat dit al die kankerselle verwoes. Selfs wanneer daar ʼn terugslag is, sou die selle die kanker bloot net weer vanuit die staanspoor vernietig. Met bestraling kan die kanker enige dag weer opduik.

Dié behandeling is egter baie duur. Die gesin moet minstens R6 miljoen aan die Philadelphia-kinderhospitaal oorbetaal om behandeling vir Mia Cara te verseker.

“Niemand weet hoe erg dit is tot jy hierdie pad begin stap nie. Sy is nou weer ʼn hele ruk uit die skool omdat sy geen weerstand het teen siekte nie. Vir twee jaar lank het ons basies niks gedoen nie, omdat ons vrees wat die gevolge sou wees as sy moontlik siek raak.

“Mia Cara is ʼn klein vegter. Sy het dié stryd aanvanklik met baie moed aangepak, maar sy is nou moedeloos. Sy vra nou haar mamma wanneer dit verby gaan wees. Geen kind verdien dit nie. Ek sou haar siekte in ʼn oomblik vat as sý net gesond kon wees. My enigste wens is vir my kind om gesond te wees sodat sy ook ʼn kans kan hê om ʼn jong dogtertjie te wees. Ek en my vrou is gelowige mense en ons glo en bid dat dinge sal verander. Maar dis ʼn stryd wat ons van dag tot dag aanpak. Ons hoop net vir goeie nuus.”

ʼn Trustfonds is in Mia Cara se naam gestig om die gesin te help om geld vir die T-sel-behandeling in te samel. ʼn Facebook-blad, Hope for Mia Cara, is ook gestig om lede van die publiek oor haar vordering op hoogte te hou. Om betrokke te raak, besoek dié Facebook-blad of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Liamari ·

Dit moet vreeslik wees om te weet daar is iets wat jou kind se lewe kan red, maar dat geld die bepalende faktor gaan wees…..Hoe lank gaan die mediese wereld vaskyk aan chemo en bestraling as die enigste behandeling? Seker solank dit ‘n biljoen dollar industrie bly…

dries ·

Dis baie hartseer en my beste wense en gebede vergesel julle gesin.

Kry egter asb onverwyld n kopie van n chemiese patoloog se boek CANCER DIAGNOSED – WHAT NOW?
Wyle dr Serfontein het Verskeie deskundige publikasies oor die onderwerp die lig laat sien. Gebruik dit intussen om die kanker te beperk, tot julle VSA toe gaan.

Daar is ook baie omvattende info van Ty Bollinger – TTAC, (The Truth About Cancer.)

Bemagtig julle met kennis!

Groetnis
Groetnis

Johann ·

Hoe vêr is te veel…hoe veel is te veel? En JA ek vra dit as n pappa. Doen ek dit vir my onthalwe? Doen ek dit vir my kind se welbeing? Waar en wanneer en hoe maak jy vrede en aanvaar? Is dit enigsins moontlik? En watter vlak van SPESIALIS regverdig sulke absurde bedrae???????

Lea ·

Ja, so jammer as wat ek voel vir hierdie familie, God sal besluit want Hyt Klein engele ook nodig. Ek hoop jul vind berusting.

ouma ·

Johann. Ek is n moeder en n ouma. Ek stem saam met wat jy se.
Vir hierdie ouers wil ek ook dit se, laat haar gaan, na Jesus toe. Ek weet waarvan ek praat,dis seer! Maar,die lyding wat vir daardie kindje voorle is ondraaglik en onmenslik. Wat sou sy se as sy die keuse kon maak? Ons kindertjies word net aan ons geleen,en ons weet mos ons sal weer saam met hulle wees. Soms dink ek die mediese wetenskap gaan net te ver. Iewers moet daar n streep getrek word.

net nog n pa ·

JAMMER EK SE DIT HIER MAAR OUMA HET JY AL SO JONG KINDJIE VERLOOR!!!! EN AS JY HET EN JY SE NOG DIT NOG STEEDS ONTHOU ALMAL IS NI SO GEWEETENLOOS NIE

Maggie van Zyl ·

Hulle moet dadelik die kind met ‘n reeks cannabis olie, en ook daagliks ‘n dosis koeksoda begin behandel. Die cannabis sal help om die kanker selle dood te maak, terwyl die koeksoda (of soortgelyke produk) help om die suur te neutraliseer. Kanker teer op die suur in jou liggaam.. lees gerus daaroor op…

Heinrich ·

Presies Maggie! Meeste mense is te gou om dit af te skiet, maar sit die tyd in en doen navorsing, dan sal dit jou verbaas wat die wonder plant kan genees. Daar is 1000de verskillende ‘strains’ van cannabis, moet maar net een probeer kry wat ten minste 10-20% CBD bevat en weglaatbaar min THC. En dit help ook nie net met Kanker nie, maar met Parkinsons, arthritis, basies enige siekte wat veroorsaak dat jou lyf se inflamasie telling die hoogte inskiet. Hulle kan selfs bietjie oplees oor Madagascar Periwinkle, dit help vir Multiple Sclerosis, so dit behoort ‘n positiewe uitwerking op die Kanker ook te hê.

Penellope Jones ·

Watter ouer gaan nie alles in hulle vermoe doen om hul kind te help nie?

Ek dink as mens nie persoonlik in sulke omstandighede is nie, kan mens nie regtig enigiets se anders beste wense, gebede en voorspoed nie.

Niemand kan namens God besluit nie.

Liefste pop ·

Liewe Mia Cara. Jy is so dapper. God gebruik jou reeds om vir ons te leer om nie elke dag so te kerm oor ons klein onbenulige probleme. Ek hoop en bid vir jou dat jul vinnag daai R6m sal kry. Selfde vir jou familie. Julle almal het ons gebede nodig. Ek het ook 2 dogters(klein bietjie ouer) en more sal ons praat, sakgeld moet vir iets beter die maand gebruik word. Ek hoop en bid dat jul nog baie vakansies sal saam hê.

Racheltjie ·

Johann en ouma…..ek hoop ons Liewe Vader bring nie so iets oor julle pad nie! Ek sal my huis, my motor, alles verkoop as ek my kind of kleinkind se lewe enigsins kan red!

Christa ·

Stadig mense, moenie vir ouma en Johann kruisig nie. Ons is daardeur. My kleinseun was gebore met baie aggresiewe breinkanker. God het beter geweet en hom kom haal op 4mnde 3 weke. Dit was nie aangenaam om die babatjie te sien met ogies oop, maar focus nie. Sal ons weer daardie pad stap as ons moet, ja beslis . Het babatjie bly leef, sou hy blind, doof, verlam en epileptiese aanvalle gehad het. Kom ons bid eerder dat God se wil geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.