‘Ek sal staatstenders ondersoek’, sê OB-kandidaat

Regter Sharise Weiner. Foto: Facebook

Regter Sharise Weiner. Foto: Facebook

Regter Sharise Weiner, die tweede kandidaat met wie ʼn onderhoud gevoer is vir die pos van openbare beskermer (OB), het Donderdag aan LP’s gesê dat daar meer op staatstenders gefokus moet word aangesien dit die hoofbron van die korrupsie is wat deur Thuli Madonsela ondersoek is.

Weiner het op ʼn vraag van DA-LP Glynnis Breytenbach gesê staatstenders dra in groot mate by tot korrupsie in die land. Sy het ook ʼn aanmerking deur Makhosi Khoza, die voorsitter van die ad hoc-komitee, ontken dat die Suid-Afrikaanse ekonomie te swak is om die OB se begroting te vermeerder.

“Indien die staat korrupsie kan hokslaan, sal dit die grootskaalse verlies van belastinggeld wat eintlik aan dienslewering bestee moet word, verhoed,” het Weiner gesê. “Wanneer hierdie probleem hanteer is, sal die noodsaaklike instansies meer geld beskikbaar hê vir onderwys, gesondheid, en so meer.”

Sy het bygevoeg dat die OB se kantoor die departement van finansies moontlik sal moet vra vir meer geld omdat daar na verwagting ʼn vermeerdering in regsgedinge sal wees weens staatsdepartemente wat die OB se bevindinge teenstaan. “Daar sal meer [regsgedinge] wees aangesien staatsdepartemente nie meer net die OB se verslae kan ignoreer nie. So, haar verslae sal ongelukkig meer gereeld in die howe beveg word.”

Madonsela het vroeër gereeld aan die parlement gesê dat te veel van die OB-kantoor se beperkte hulpbronne aan litigasie met halsstarrige staatsentiteite bestee word.

Weiner het ook Madonsela se siening ondersteun dat die OB heeltemal onafhanklik van die nasionale wetgewer funksioneer. “Ons lewe in ʼn grondwetlike en nie ʼn parlementêre demokrasie nie,” het Weiner gesê. Sy het bygevoeg dat die OB nie verantwoording aan die parlement hoef te doen nie, behalwe om verslag te lewer in ooreenstemming met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Weiner is een van 14 kandidate op die kortlys om Madonsela op te volg. ʼn Ad hoc-komitee sal vandag onderhoude met al die kandidate voer wat na verwagting teen middernag tot ʼn einde sal kom. Die onderhoude is egter reeds ʼn uur agter skedule.

Adv. Michael Mthembu, die eerste kandidaat, moes tydens sy onderhoud erken dat hy in die moeilikheid beland het omdat hy versuim het om ʼn banklening terug te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jaques ·

Ons kan maar net hoop en bid vir ‘n nuwe OB met integriteit en volkome onpartydigheid.

jaco ·

Weiner se velkleur tel teen haar. Sy sal nooit die pos kry nie.

Frederik ·

Dalk tog. Die afgelope verkiesing het gewys dat Nammawan se apartheidspraatjies nie meer veel gewig dra nie. De Lille het skynbaar ook haar voorneme laat vaar om alle wittes die see in te jaag.

ina ·

Ek kry sommer ‘n knop in my keel en n naarheid op my maag as ek net dink Ms Madonsela moet gaan en hulle stel iemand korrup aan. Die eerste kandidaat het dan al klaar bagasie. Mag n groter Hand ingryp.

jaco ·

die “Groter Hand” gaan nie ingryp nie, want die ANC glo vas hulle gaan bly regeer “until Jesus comes again”. Wat my absoluut verstom as dat die enkele Jode en die Moslems en die kommuniste in die ANC dit saam met die res van die ANC glo…

Theresa B ·

Ek hoop ook dat iemand van Thuli se kaliber word aangestel. Maar hierdie spul gaan nie net louter aanvaar dat hulle geldput toegegooi gaan word nie. Alles draai vir hulle oor tenders en die een belowe die ander een en so help hulle mekaar. Dis hoe hulle ryk word ten koste van ander.

Komonstaansaam ·

Ja, mens kan net hoop en bid vir die regte aanstelling-dink egter hulle het hul les geleer met Madonsella-sy was te eerlik en onverskrokke vir die korrupte spul-hoekom sou hulle iemand aanstel wat hulle weereens in die verleentheid kan stel? Sal seker ‘n meer “gematigde” aanstelling wees. Zuma se private straler en sy betrokkenheid by ‘n verdere outokratiese besluit, nl. die kernkrag-ooreenkoms met Rusland, moet immers eers deurgevoer word ten alle koste en terwyl hy nog ‘n “finger in the pie” het! Die hele korrupte ou spul is van naar te word!

Lance ·

Ons gaan vir Thuli mis …sy kan maar president van SA word asb voel ek …sy het BAIE integriteit en het verseker n verskil gemaak met die klomp korrupte anc mense wat die geld so gesteel het en nogsteeds doen.

Riaan ·

Sy het so pas al die redes verskaf hoekom hulle haar NIE sal aanstel nie

Sus ·

Lyk na regte klein vuurvretertjie……nét die regter persoon!

Scalla ·

Deur die ondersoek van staats tenders soos deur haar gese het haar die job gekos, die staat haat kompetisie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.