‘Ek sal weer ‘n Loflied sing’

Karen Swanepoel se boek Ek sal weer ʼn Loflied sing het pas verskyn

Dit was ʼn moeilike en uitdagende proses om haarself uit haar huidige omstandighede te haal, weer daai emosies te beleef en dit dan neer te skryf.

Maar vir Karen (45) was dit ook ʼn proses van genesing. Ek sal weer ʼn Loflied sing is haar storie van genade en hoop waarmee sy vir ander hoop en bemoediging wil gee.

Karen en haar man, Schalk (39), was op 10 Januarie 2012 saam met hul kinders, Jeanelle (5) en Juan (2), op pad Bloemfontein toe, toe hulle in ʼn botsing reg van voor op die N1-hoofweg tussen Ventersburg en Winburg betrokke was. Schalk en hul dogtertjie is op die toneel dood verklaar. Klein Juan is kort ná sy aankoms by die hospitaal dood.

Karen is met ernstige beserings in die Mediclinic Welkom opgeneem. Sy was aan ʼn ventilator gekoppel en is onder verdowing gehou. Sy het eers tien dae later uitgevind haar man en kinders is dood. Sy was drie weke lank in die hospitaal. Eers twee weke nadat sy ontslaan is, kon daar ʼn roudiens vir haar man en kinders gehou word.

“Vertrou op God. Ja, ek sal weer vir Hom ʼn loflied sing. Hy is my helper en my God,” (Psalm 43:5) was die Bybelvers wat op die roudiens voorgelees is. “Ek glo dit is ʼn belofte wat die Here aan my gemaak het … dat ek weer ʼn loflied sal sing.”

Karen Swanepoel, haar man André en hul tweeling Reynard en Desiré.

Deur baie genade sing sy vandag weer ʼn loflied. Karen het André (49) in Oktober 2014 ontmoet. Hulle is in Desember 2015 getroud en het in Februarie 2018 verneem hulle verwag ʼn tweeling. Reynard, “wyse beskermer”, en Desiré, “verlangende begeerte”, het op 14 September twee jaar oud geword.

Die idee om ʼn boek te skryf het eintlik kort ná die roudiens gekom. Sy was besig om hul huis in Kathu saam met ʼn vriendin op te pak en het vir haar van al die belewenisse na afloop van die ongeluk vertel. “Sy het vir my ʼn joernaal persent gegee. In die joernaal het sy geskryf sy gee dit vir my sodat ek die gebeure kan opteken en my getuienis kan gebruik tot eer van God.”

“Dalk skryf jy eendag ‘n boek. Ek glo deur dinge neer te skryf bring heling en dit gaan nog baie waardevol vir jou wees in die toekoms,” het die inskrywing in die joernaal gelui.

Deur die jare het nog mense Karen aangemoedig om ʼn boek te skryf. Sy het begin dink dit is moontlik die rede hoekom die Here haar gespaar het. “Maar ek het gedink ek is nie ʼn skrywer nie en sal iemand moet kry om te help.” Sy het ʼn boek gekoop oor hoe om ʼn boek te skryf en besef dit is nie so maklik soos wat sy gedink het nie. Sy het begin soek na iemand wat haar kon help skryf.

Karen Swanepoel tydens haar swangerskapfotosessie. Foto: La’ane Photography

Baie water het in die see geloop en in 2017 het sy deur ‘n vriendin van haar iemand gekry om die boek te help skryf. Nadat meer as ‘n jaar verloop het vandat die manuskrip aan ‘n paar uitgewers voorgelê is vir publikasie, het sy besluit om selfpublikasie te oorweeg. Op 1 Junie 2020 het ʼn Facebook-plasing oor ʼn vrou wat ʼn stilgeboorte gehad het, Karen so aangegryp dat sy dit na ʼn Facebook-groep gedeel het en dit het tot ʼn uitgewer en spookskrywer gelei.

Die spookskrywer het aanbeveel dat Karen eers self objektief deur die manuskrip lees en dan self besluit wat sy wil byvoeg en weglaat, voordat sy die manuskrip aan haar stuur. In die proses het Karen egter die hele boek in ‘n nuwe formaat binne twee maande self oorgeskryf en die spookskrywer het toe niks aan die manuskrip verander nie. “Toe besef ek. Eintlik wou die Here gehad het ek moes dit van die begin af doen.” Karen was vasbeslote dat nog ʼn jaar nie sou verbygaan wat die boek nie die lig sien nie.

Sy het die boek tydens die inperking geskryf. Die tweeling was egter in dié tyd tuis en sy moes lang nagte en vreemde tye werk wanneer hulle geslaap het. “Toe ek eers begin skryf het, was ek geïnspireerd en gemotiveerd en die woorde het uit my gevloei.”

André en Karen Swanepoel tydens ‘n swangerskapfotosessie. Foto: La’ane Photography

Karen het voor die noodlottige ongeluk wat haar gesin geëis het ook haar ouer suster in ʼn motorongeluk verloor. Sandra Schutte is in Mei 1995 in die ouderdom van 22 in ʼn motorongeluk in Walvisbaai dood. Karen se ma, Elsa Koorsen, is in 2017 aan ovariumkanker oorlede.

“Ek het die boek aan my ma opgedra ná haar twaalf jaar lange stryd teen kanker. Sy was my grootste rolmodel en inspirasie dwarsdeur my lewe.”

Karen hoop dat elkeen wat haar boek lees aangeraak, bemoedig en geïnspireer sal word deur haar verhaal. “Dat elke leser sal raaklees dat daar ten spyte van die ontsaglike verlies, pyn en swaarkry wat ek moes deurmaak, tog ‘n goue draad van genade en hoop regdeur my lewensverhaal verweef is. Dat jy ‘n nuwe perspektief op jou eie swaarkry en pyn sal kry. Dat jy sal volhard om jou eie pynpad te stap.

“Dat jy deur die pynlike proses sal groei ten einde jou lewensroeping en skeppingsdoel te bereik.

Ek bid dat jy genade sal ontvang in jou reis na heelwording, dat jy ʼn reënboog na jou storm sal ontvang en dat jy ook weer ‘n loflied sal kan sing.”

  • Die hardekopie van Ek sal weer ʼn Loflied sing kan by Mar-Leo Publiseerders bestel word. Die e-boek-weergawe is op Amazon beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Dis voorwaar ñ artikel wat baie mense hoop gee in tye van hul eie wanhoop.

Opdiemanaf ·

Here, hoe doen ‘n mens dit? Jy moet ‘n ongelooflike sterk mens wees!!

AmY ·

Ek bewonder jou.
Ek weet nie of ek sou kon aangaan as só iets met my moetsgebeur nie.

Andries ·

Hi Amy ek is n pa my seun is op 4 jarige ouderdom met klas 4 breinkanker gediagnoseer. Wat het ons gehelp en sterk gemaak, was toe ek die Here vra dat Hy sy wil sal laat geskiet. Die dokters het hom 4 maande gegee om te lewe en hoe lewe jy vir 4 maande met so n gedagte jou kind van 4 gaan sterf. Maar met die vrede, genade,liefde en geduld van die Here is ons daar deur ons seun is vandag 27 jaar oud die enigste wat ooit daai tiepe kanker oorleef. So al wat ek wil se is as mens sal jy nooit sonder die Here so iets kan vewerk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.