‘Ek weet ek het reg opgetree’

Pieter van der Westhuizen en sy vrou Antoinette. Foto: Facebook

“Ek is regtig baie verlig.”

Só het Pieter van der Westhuizen Woensdagoggend aan Maroela Media gesê nadat dit bekend geword het dat hy nie vervolg gaan word nadat hy twee rowers uit selfverdediging in ’n kerk in Centurion doodgeskiet het nie.

“Ek weet ek het reg opgetree.”

Tog was daar natuurlik altyd ’n bekommernis dat hy moontlik vervolg kan word, erken hy nou.

Maroela Media het vroeër berig Van der Westhuizen, broer van die oud-Springbok Joost van der Westhuizen, het op 26 Julie verlede jaar twee rowers gedurende ’n gewapende rooftog by ’n kerk in Wierdapark doodgeskiet.

Die polisie se geregtelike doodsondersoek om te bepaal of Van der Westhuizen onregmatig opgetree het, het intussen tot die gevolgtrekking gekom dat hy uit selfverdediging opgetree het. Sy optrede het na alle waarskynlikheid voorkom dat onskuldige kerkgangers seergemaak of vermoor is deur die gewapende rowers.

Hoewel Van der Westhuizen ʼn polisie-agtergrond het en uiteraard reeds in talle situasies was waar hy die sneller moes trek, bly die omstandighede van die voorval in Julie vir hom sleg.

“Dit was teleurstellend dat ek iemand in die kerk moes skiet. Dit was nie lekker nie. Dit bly ’n lewe. Daardie persoon is steeds deur God geskape.”

Van der Westhuizen het twee rowers doodgeskiet tydens ’n erediens by die Querencia Bedieninge-gemeente in Wierdapark.

Hy vertel dat die hele voorval maar in ses sekondes plaasgevind het.

“My vrou het daardie oggend vir my gesê iets voel nie vir haar reg nie. Die hele atmosfeer was nie lekker nie en die [klank in die kerk] het gesukkel.”

Toe storm drie verdagtes gedurende die erediens by die Querencia Bedieninge-gemeente in Escourtstraat in. Die verdagtes het deur gemeentelede se persoonlike besittings gekrap terwyl een van die verdagtes ʼn vuurwapen teen die pastoor, Kobus Erasmus, se kop gehou het. Erasmus is ook herhaaldelik met die vuurwapen oor die kop geslaan. Hy is nie ernstig in die voorval beseer nie.

Van der Westhuizen het ʼn gelisensieerde vuurwapen by hom gehad waarmee hy op die verdagtes in die kerk geskiet het. Twee van die verdagtes is op die toneel dood terwyl ʼn derde verdagte gevlug het.

Die owerhede op 26 Julie op die toneel. (Foto: Verskaf)

Van der Westhuizen sê hoewel sommige gemeentelede steeds berading by Erasmus ontvang, gaan dit sedertdien goed met die Querencia Bedieninge-gemeente wat intussen nog gemeentelede bygekry het.

’n Veiligheidswag hou egter deesdae tydens erdienste buite wag en die kerk se deure word gesluit.

Van Der Westhuizen sê hy beskou homself glad nie as ’n held nie; eerder as ’n lid van die publiek wat bloot opgetree het.

Van der Westhuizen sê hy is dankbaar dat hy binnekort sy gelisensieerde vuurwapen waarop verlede jaar na die voorval beslag gelê is, gaan terugkry en beoog nou om moontlik opleiding in die hantering van vuurwapens te gee.

“Ek wil graag ’n klein skietgroepie begin en opleiding gee oor wanneer jy mag skiet en hoe. Die grootste probleem is nie om die sneller te trek nie, maar wanneer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

Wonder waar die derde een is? Sy voete klap al seker daar in Ghana soos hy deur Afrika hardloop van die skrik! En dan wil ou Hoed die wittes se geweere weg vat. Gun Free South Afrika waar was julle toe die drie skurke in die kerk ingebars het!

Aai ·

Was ‘n puik polisieman het al die eer gehad om saam met hom te werk toe hy in polisie was.(Noord Rand hoofweg patrollie) Sterkte voorentoe

summie ·

Jy is ‘n yster Pieter, well done dat jy so vinnig opgetree het. Daar moet meer mense soos jy wees, en Suid Afrikaners moet meer parraat wees! Baie bly jy is onskuldig bevind, sou niks anders verwag het nie.

Barend ·

Dis reg, jy moet weet wanneer. Dis ‘n moelike ding om daarna jou kop reg te hou.

Cherokee ·

8 Maande na sy vuurwapen gekonfiskeer is, na aanleiding van ‘n insident wat elke Jan Rap en sy maat onmiddelik sou weet hy is onskuldig, word sy vuurwapen terug gegee.

Wat as hy op ‘n plaas gewoon het, en dìt sy enigste skietyster was?

Wàt ‘n polisiediens wat èintlik ter verdediging van de onskuldiges behoort op te tree.

Pieter J ·

Die manier hoe die polisie hierdie saak hanteer het, laat veel te wense oor. Dit was mos van die begin af duidelik dit was selfverdediging. Daar was meer as genoeg getuies om dit te bevestig. Hoekom moes hy so lank wag vir hul beslissing?

Strandloper ·

Met die wannabe cowboy voëlverskrikker aan roer van sake is ek nie verbaas nie

Charl ·

Het ná die skietvoorval gedink ja nou gaan die arme man die skuldige gemaak word en van moord aangekla word ongeag of hy uit noodweer opgetree het (is mos hoe ons “regstelsel” werk) maar toe gebeur die ondenkbare, hy’s onskuldig bevind ! Pieter, vir jou het reg en geregtigheid geskied vir jou vinnige optrede daardie oggend in die Kerk, God sorg vir Sy kinders. Alle Heil en voorspoed.

4ntj13 ·

Ek is dankbaar. Ook dat die laaste 9 maande sonder sy vuurwapen uiteindelik einde kry. Dis hartseer dat kerke gesluit moet word tydens dienste om veilig te kan wees. Ons wêreld het baie wreed geword.

Anoniem ·

Baie Sterkte Pieter, jou kaliber mens kry jy min!!!! nONS ONDERSTEUN JOU!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.