‘Ek wou dit nie gehad het nie,’ huil Senekal-man

Abraham Fourie bedek sy gesig tydens sy verhoor in die rondgaande hof in Bethlehem [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Meda]

“Niks gaan haar terugbring nie. Ek kan nie glo sy is weg nie.”

Abraham Fourie (54) het Dinsdag in die rondgaande hof in Bethlehem in die Vrystaat in trane uitgebars toe hy vertel het van die aand toe hy sy lewensmaat, Maryna Venter (49), se liggaam in die paar se huis aangetref het. Fourie staan tereg vir die moord op Venter.

Fourie het herhaaldelik daarop gedui dat hy daardie aand in totale ongeloof en getraumatiseerd was oor die toneel waarop hy afgekom het. Fourie het getuig hy het op 13 Junie vroegoggend Venter se erg verbrande liggaam op die slaapkamervloer langs die bed aangetref.

Volgens Fourie het hy nie die aand van Venter se dood (12 Junie) in die huis geslaap nie, maar in sy vragmotor wat voor die huis geparkeer was. Hy het in daardie stadium vragmotors bestuur.

Fourie het in die hof erken hy was moedeloos oor Venter se “drinkery” en dat sy daardie einste aand na alkohol geruik het.

Hy voer aan hy het die Sondagoggend teruggegaan huis toe. Hy is badkamer toe waar hy sy hare wou was en het opgelet die badkamervloer is nat. Hy is daarna na die slaapkamer waar hy toe vir Venter op die vloer aangetref het.

“Ek het gedink sy slaap of is weer uitgepass nadat sy te veel gedrink het. Ek het na haar toe gestap en gesê: ‘Ag nee liefie’,” getuig Fourie.

Fourie vertel hy het ʼn bottel brandewyn tussen Venter se knieë gesien en haar kop was vooroor gebuig.

“Ek het die bottel brandewyn gevat en op die bedkassie gesit. Dit is toe dat ek sien sy is naak. Sy het ook seergekry in haar gesig en het brandmerke gehad.”

Fourie het met sy wit sakdoek die trane uit sy oë gevee terwyl hy getuig het dat Venter nie gereageer het of enige asemhaling of pols gehad het nie.

“Ek het kunsmatige asemhaling (KPR) gedoen om haar wakker te kry. Ek het aan niks anders gedink as om haar wakker te kry nie.”

Volgens Fourie het hy met sy hele gewig op Venter se bors gedruk tydens die kunsmatige asemhaling. “Ek het opgehou toe ek een van haar ribbebene hoor kraak het.”

Fourie het voorts getuig hy het ’n flitslig wat op die bedkas gestaan het, gevat en in Venter se oë geskyn het. “Haar pupille het nie beweeg nie. Ek het besef sy is dood. Ek kon dit nie glo nie. Ek wou dit nie gehad het nie.”

Fourie het Venter daarna op die bed getel. “Van haar vel het op my hande en arms agtergebly.”

Fourie het snikkend vertel hoe hy toe vir Venter klere aangetrek het, omdat hy nie wou hê “dat hulle haar so naak sien nie”.

“Ek het toe langs die bed gesit en kliphard begin bid en met Maryna gepraat.”

Volgens Fourie se getuienis het hy later vir sy vriend, Barry Stander, en sy lewensmaat, Mageretha Visagie, gesê dat “Vlooi dit reggekry het om haarself dood te drink”.

“Magriet het gesê dat sy twee dae tevore boodskappe van Maryna gekry het, waarin sy van selfdood gepraat het.”

Visagie het in Maart in die hof getuig dat Fourie senuweeagtig by hul huis opgedaag het en vir haar gesê het hy is in groot moeilikheid en dat Venter of “Vlooi” – soos sy by naastes bekend gestaan het – dood is. Stander het getuig dat Fourie geïmpliseer het dat Venter selfmoord gepleeg het.

Twee patoloë het reeds in die hof getuig dat ’n persoon weens die liggaam refleksiesisteem nie hom- of haarself met warm water kan doodbrand nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cleo ·

Sies, wat van die bloed op die mure en deurrame? Het hy dit nie gesien? Wat van die hare wat uit haar kopvel getrek is en in die badkamer, gang en kamer gele het? Het sy dit ook self uitgetrek? Die bebloede onderklere? Twee wonde tussen haar oe? Hoekom eers na die tjomie se huis en nie net die polisie gebel ne? Lekker rustug agter jouself probeer skoonmaak nou se jy jy was in die trok, gerieflik

Gerhardus ·

Nog ‘n “Oscar” geval. Huil nie regtig omdat sy dood is nie, maar omdat hy simpatie wil wek omdat hy weet hy kan tronk toe gaan. Géén mens sal op só ‘n manier selfdood pleeg nie.

En waarom sy gesig probeer wegsteek? Almal weet al hoe hy lyk.

Johan ·

Sy storie maak maar min sin, selfs ou “blade runner” se storie het meer sin gemaak.

piet ·

Daar was ‘n ruim periode tussen die “ontdekking” van haar lyk en toe hy alarm gemaak het, hoekom? Ook sy optrede is nie normaal nie. As dit ek was en ek het haar in daai posisie dood aangetref sou ek haar net so gelos het en miskien ‘n laken oor haar getrek het om haar naaktheid te bedek en die polisie DADELIK gebel het. Hy’t eers ‘n ruk daarna sy tjommies gebel en eers na hulle toe gery om plannetjies te beraam. Hy het mos ook die plek eers probeer skoonmaak….

Christine ·

Die siek storie gee my hoendervleis. Geen mens gaan hom glo nie. Hy moet uit die sameleweing verwyder word.

Wondermaarnet ·

Hy soek nou die wêreld se simpantie deur Maryna sleg te maak. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg.

ES ·

Ek sluk maar swaar aan sy storie. Hulle sal hom wel uitvang onder kruisondervraging. Geen mens kan als onthou wat hulle lieg nie, iewers gaan hy homself weerspreek.

AH ·

Krokkediltrane…….sy storie is so ongeloofwaardig as kan kom. Niemand sal op so ‘n aaklige manier selfdood pleeg nie. Geen simpatie vir hom nie! Hoop hy kry lewenslank ++

Swerwer ·

As jy die nie so wou gehad het nie, hoekom het jy dan soos ‘n maniak opgetree. Trane is nou bietjie laat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.