Ekonome: Ja, daar’s nog heelwat hoop

Ekonome sê daar is nog heelwat in Suid-Afrika om oor positief te wees. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika moet die sake begin prioritiseer wat die land op kort termyn kan help groei – en hy moet begin by ʼn oplossing vir die energiekrisis.

Dít volgens Nicky Weimar, ekonoom verbonde aan Nedbank, wat Woensdag op ʼn webinaar gesê het verskeie probleme – korrupsie, misdaad, swak staatsdiensdepartemente en gebrekkige dienslewering – moet gepak word, maar dat die land sonder krag nie vorentoe gaan beweeg nie.

Weimar het saam met dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, en dr. Nthabiseng Moleko, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool, aan die webinaar deelgeneem oor of daar hoop vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is.

Sy voorspel ʼn groeikoers van 1,7% vir vanjaar, maar verwag dat die prentjie volgende jaar aansienlik gaan begin versleg wanneer ʼn verhoging in rentekoerse byvoorbeeld ʼn tol op verbruikers gaan begin eis.

Hoewel daar tans meer vastekapitaalbeleggings gesien word, kan Suid-Afrika eenvoudig nie die groei behaal wat nodig is nie indien die ligte nie aan is nie. Weimar sê op kort termyn benodig Suid-Afrika onder andere beter pad- en spoorinfrastruktuur, ʼn oplossing vir lang vertragings by hawens en behoorlike onderrig vir elke Suid-Afrikaner.

Maar “uiteindelik benodig ons ʼn bevoegde regering”, sê Weimar.

Botha meen egter die idee dat beurtkrag binnekort iets van die verlede gaan wees, is “soos Alice in Wonderland; dit gaan nie gebeur nie”. Hy sê Suid-Afrikaners is wel innoverend genoeg om rondom beurtkrag te werk indien dit in die ergste scenario op fase 3 ingestel word, of fase 2 snags in spitstye.

Hy waarsku egter dat verkeerde beleid ʼn land kan knak en het na Venezuela en Zimbabwe verwys as lande wat verwoes is weens verkeerde beleid en die leiers aan die stuur daarvan.

“Beleid is deurslaggewend. In Suid-Afrika moet ons onsself herinner aan die feit dat ons ʼn dekade van patetiese regering gehad het – om dit sagkens te stel.”

Nou het Suid-Afrika ʼn president wat ekonomiese beleid verstaan, sê hy.

Botha sê die enigste manier om ʼn groeikoers van tussen 4% en 5% te behaal, is groter samewerking met die private sektor. Hoewel daar in sekere kringe, veral onder sommige vakbonde, gesidder word wanneer privatisering ter sprake kom, glo hy die private sektor kan duisende werkgeleenthede help skep.

Sowat 400 000 nuwe werkgeleenthede is volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste syfers in die tweede kwartaal van vanjaar geskep en volg op die duisende wat in die vorige kwartaal geskep is. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het boonop miljarde rand meer ingesamel as waarvoor daar begroot is, sê Botha.

“Dit is verstommend hoeveel goeie nuus daar is,” sê Botha.

Hy glo ook talle van hierdie werkgeleenthede is nuut geskep in nuwe bedrywe wat al hoe meer na vore kom. Botha stel voor dat die regering by sakelui gaan aanklop vir planne oor hoe om werk te skep. “Hulle wéét hoe om dit te doen,” sê Botha.

Hy sê wetgewing moet ook gewysig word om in die guns van werkgewers, en nie werkers nie, te wees sodat nog werk geskep kan word.

Hy verwys na die sowat 100 000 onwettige stortingsterreine in Suid-Afrika wat as geleentheid gesien moet word. “Dit kan omskep word in ondernemings wat ʼn inkomste genereer en duisende werkgeleenthede skep – met die private sektor se betrokkenheid.

“Dit kan gedoen word, maar ons moet minder praat en begin implementeer.”

Botha en Weimar meen die regering moet sy bestaande beleid vinniger in werking stel om die ekonomie se wiele aan die rol te sit, maar Moleko meen die planne wat die regering tot dusver beraam het, het nie die gewenste uitwerking gehad nie.

“Ons regering het net nie voldoende planne om al die probleme te hanteer nie. Dit is nie voldoende om ʼn uitwerking te hê waar dit nodig is nie.”

Suid-Afrika is steeds een van die mees ongelyke lande ter wêreld, die land het rekordhoëvlakke van werkloosheid en steier onder armoede. Lewenskoste is op haas ongekende vlakke en Woensdag is daar landwyd opgeruk om hierteen te betoog.

Moleko sê bestaande beleid dryf nie verhoogde produksie nie en het nie tot die stabilisering van fiskale reserwes gelei nie terwyl die land se BBP-tot-skuldkoers boonop onvolhoubaar is.

Moleko sê daar moet veel groter belegging in veral provinsies soos Mpumalanga, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat– buite die bestaande ekonomiese nodes – wees sodat mense uit armoede gelig kan word.

Moleko sê die regte soort groei is belangrik, nie bloot groei nie. “Werkloosheid skep ʼn maatskaplike probleem; jy kan nie 12,5 miljoen Suid-Afrikaners hê wat nie werk het nie.

“Indien ons nie transformerende en herstrukturerende groei het nie, gaan ons nie iets aan ongelykheid en werkloosheid kan doen nie.”

Moleko sê Suid-Afrika het sterk bestaande infrastruktuur en daar is belegging, veral in die hernubare energiesektor, sowel as kapitalisering en talle maatskappye wat goed vaar.

“Is daar hoop vir die Suid-Afrikaanse ekonomie? Absoluut.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is in sy maai, ongeag wat die hoopvolles dink en sê. Jy kan net elke oggend die Vader dank jy is gespaar. As jy weer jou oë uitvee woon Botha in Portugal.

Vrijburger ·

Al jare dat ek alles wat die makker se met ‘n groot knip sout neem.

Nie Verbaas ·

“korrupsie, misdaad, swak staatsdiensdepartemente en gebrekkige dienslewering” En die slim persoon dink dit gaan gebeur? Droom gerus voort. Eskom sal ook nie vorder totdat daar van die korruptes en hopeloses ontslae geraak word nie en dit sal nooit gebeur solank die ANC aan bewind is nie. Weereens, droom voort.

Nico ·

Bring terug wat was in die sogenaamde apartheids regering, die huidige regering eet nie hoe om ‘n land te regeer nie, hulle maak net droog op groot skaal.

Republikein in die Wes Kaap ·

En die amptenare is hopeloos. In die ou bedeling was daar soms swak ministers, maar goeie amptenare het die fort gehou.

Treurwilger ·

Enigeen wat Zuma alleen vir alles wat sleg is in SA blameer, en dan boonop verkondig Ramaphosa is ‘n ridder op ‘n wit perd, het geen geloofwaardigheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.