Ekonome skepties oor ‘reddingsplan’ vir SAL

SAL-SAA

Verskeie ekonome waarsku finansiële instellinge raak nou traag om SAL se lenings te verleng of om meer geld te leen. Foto: Commons.wikimedia.org

Telkom het verlede week sy aandeelhouers gewaarsku om versigtig met aandele om te gaan na aanleiding van die Suid-Afrikaanse regering se aankondiging dat hy oorweeg om sy ongeveer 39% aandele in die telekommunikasie-maatskappy te verkoop om sodoende die sukkelende SAL ʼn geldelike reddingsboei te gee.

Ekonome is egter skepties of hierdie plan van die regering werklik sal help om die nasionale lugredery te red. Deur die bank word drie probleme uitgewys, naamlik die gebrekkige bestuur, beweerde staatskaping en politieke inmengery wat SAL se finansiële planne beduiwel.

Volgens dr. Azar Jammine, hoofekonoom by Econometrix, is SAL se grootste probleem sy bestuur en die feit dat hy nie van sy voorsitter, Dudu Myeni, ontslae kan raak nie. Jammine sê dit lei grootliks tot kommer dat die SAL deur ‘n sekere faksie gekaap is en uitgebuit word.

Hy meen die beplande verkoop van Telkom-aandele sal ‘n vermorsing van ʼn goeie bate wees en maan teen die beplande gebruik van staatspensioenfondse se geld om die lugredery te help. Hy sê dit kan arbeidsverhoudinge in die staatsdiens beduiwel.

Die SAL se droewige finansiële posisie word onderstreep deur Standard Chartered wat sy R2,2 miljard leningsfasiliteit opgeskort het. Dit is gevolg deur Citybank wat sy fasiliteit van R1,8 miljard opgeskort het.

SAL het lenings ter waarde van R6,8 miljard wat einde September afgelos moet word. Verskeie ekonome waarsku finansiële instellinge raak nou traag om dit te verleng of om meer geld te leen.

In samesprekings tussen Nedbank, SAL en die nasionale tesourie wat Donderdag gehou is, het Nedbank na berig word aangedui dat hy nie geneë sal wees om nog geld aan die lugredery te leen terwyl Myeni op die raad dien nie. Myeni se posisie is lank reeds in omstredenheid gehul. Sy is al agt jaar lid van die SAL-raad. Dit druis in teen die aanbevelings van die King-kommissie wat ʼn termyn van ses jaar op direkteure van ʼn raad plaas.

Myeni sou op SAL se jaarvergadering vervang word, maar die vergadering is tot November uitgestel. Sy het die naweek aan City Press bevestig dat sy as voorsitter sal aanbly tot pres. Jacob Zuma se ampstermyn ten einde loop.

Jammine is egter nie beïndruk nie. Hy sê SAL plaas bykomende druk op Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte. En dít, tesame met lae ekonomiese groei wat belastinginvordering kniehalter, kan tot nóg ʼn ekonomiese afgradering lei.

Volgens hom is Malusi Gigaba, minister van finansies, ook nie opgewasse om die probleme by SAL op te los nie. Jammine is skepties oor Gigaba se toegewydheid om persepsies van staatskaping uit die weg te ruim. Hy meen dat SAL waarskynlik die land ten duurste sal kos en sê onthullings rondom Eskom toon ook dat korporatiewe en politieke leiding in gebreke bly.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep, het kort en bondig gesê SAL se probleme sal nie opgelos word nie weens politieke inmengery.

Dit is nie net ekonome wat eis dat Myeni se kop moet waai nie. Die vakbondfederasie Fedusa het ook sy stem by talle ander gevoeg wat van haar ontslae wil raak.

Nog ʼn ekonoom wat verkies om anoniem te bly, het gesê SAL het goeie bedryfsleiers gehad. Volgens hom het Nico Bezuidenhout Mango in ʼn suksesverhaal omskep, terwyl Andre Viljoen daarin geslaag het om Air Mauritius van ʼn sukkelende tot suksesvolle lugredery om te swaai. Hy is nou by Fidji Air.

Volgens die ekonoom moet dus gevra word wat die werklike redes is waarom SAL met sy huidige voorsitter volstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris Ws ·

SAL moet insolvent verklaar word en dan aan redery wat die hoogste bod maak gesmous word.Ons land het SAL nie nodig nie want hy is nie ‘n aanwins nie,net ‘n bodemlose put.

JoeV ·

Maak die plek toe of skaal af soos al die ander Afrika lande. Hoekom nou juis ‘n bodemlose put maak van die ding, daar kan tog baie meer met die geld gedoen word, en toeriste sal kom al is dit op buitelandse rederye

Hanna ·

Geloofwaardigheid voor kundigheid… Daardie twee suksesvolle mans wat in die berig genoem word is ongelukkig albei blank en dit alleen is genoeg rede om SAL maar te laat aankruie onder die leiding v die president se vriendin-met-voordele.

susan ·

Maak SAL TOE finaal!!!! Of privatiseer SAL.. Hoe maak die ander lugleërderye dit!!!! Want regering is nie betrokke nie ???

Superman ·

Maak nie saak wat daar gesê word nie, ‘n land kan NIE sonder ‘n lugredery wees nie. Jy kan tog nou nie jou besigheidsmense op ‘n skip sit om twee weke later ‘n vergadering in Europa by te woon nie, kom nou!

pieter ·

RAAK VAN DIE ANC EN ZUMA ONTSLAE DAN IS AL RSA SE PROBLEME WEG

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.