Ekonome verwag paar truuks van Godongwana

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Elke begrotingsrede is in ’n mate uniek en ’n begrotingsrede in ’n verkiesingsjaar kan teoreties heel anders lyk as die vorige jaar, sou die minister van finansies die begroting só bestuur om kiesers vir die regerende party te werf.

Hoewel kenners meen die regering het min speling om vanjaar werklik ’n haas uit ’n hoed te pluk in aanloop tot die 2024‑ nasionale verkiesing, verwag hulle tog dat minister Enoch Godongwana op enkele maniere gaan probeer om Suid-Afrikaners te paai.

Die bekende ekonoom Dawie Roodt voorspel dat Godongwana ’n paar truuks in die mou gaan hê om dinge beter te laat lyk as wat dit werklik is.

“Die staat is baie diep in die moeilikheid wat finansies betref, veral wanneer dit by skuld kom.

“Hulle spandeer hopeloos te veel geld en dit gebeur in ’n omgewing van swak ekonomiese groei en hoë vlakke van werkloosheid, maar óók wanneer daar ’n verkiesing om die draai is.”

Roodt glo die ANC is ongetwyfeld daartoe in staat om die begrotingsrede as instrument te gebruik om herverkies te word, ten spyte daarvan dat hy geen finansiële ruimte het om dit te doen nie.

Daarom voorspel Roodt nie enige noemenswaardige belastingverhogings in Woensdag se begrotingsrede nie.

“Nié net omdat die ekonomie dit eenvoudig nie meer kan bekostig nie, maar ook omdat dit polities ’n verkeerde skuif is om belasting kort voor ’n verkiesing te verhoog, sê Roodt.

“Dit sou byvoorbeeld teoreties moontlik wees om BTW te verhoog om meer geld in te bring,  maar polities is dit ’n no go. Die mense sal jou ophang.”

Theuns du Buisson, navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, stem saam.

Hy meen wel dit is moontlik dat die minister die sogenaamde inkomstebelastingkerwe met minder as inflasie kan aanpas “om ’n effense verhoging in belasting te probeer wegsteek”.

Die regering sou natuurlik ook kon probeer stemme “koop” deur die R350- maatskaplike toelaag te verhoog, of beloftes oor die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering te maak. Du Buisson is egter van mening daar is eenvoudig nie meer geld om die R350-toelaag met veel te verhoog óf om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te implementeer nie.

“Hulle [die regering] sit dus met ’n probleem, want dis verkiesingsjaar en daar is nie geld om die president se beloftes na te kom nie.”

Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit, dink daar gaan ’n wesenlike verskil wees tussen wat die minister Woensdag in sy toespraak sê, en dit wat die syfers wys.

“Ek dink hy gaan beklemtoon wat die regering vir die kwesbare groepe gaan doen. Hy gaan dus in die bietjie speelruimte tot sy beskikking sê die regering gee darem nog die R350-toelaag en daar is ’n klein verhoging daarop.

“Maar wanneer dit kom by die ware syfers, gaan daardie toename bitter klein wees.”

Roodt voorspel voorts dat die minister ook nog geld vir sukkelende staatsentiteite soos Eskom en Transnet gaan gee, maar dit nie voor die voet ’n reddingsboei gaan noem nie.  “Hy gaan hierdie syfers waarskynlik so ʼn bietjie masseer deur die geld nie as ’n sogenaamde gewone uitgawe voor te stel nie, maar eerder as ’n spesiale uitgawe.

Roodt meen Suid-Afrika het nou fiskale konsolidasie nodig, “wat beteken dat die staat vir ons ’n plan moet gee oor hoe hy sy uitgawes oor tyd gaan verminder. Die minister gaan dit miskien Woensdag vir ons gee, maar hy gaan nie nou al hierdie plan in werking stel nie.  Nie voor die verkiesing nie.

“Intussen raak ons al dieper in die moeilikheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Die regering betaal reeds 20% van sy totale inkomste aan rente op skuld.

Papsak ·

Ja hulle sal alles try om in te bly dan se ek nou good bye vir SA dan bly niks oor nie regtig dit gaan verskriklik in die land regtig streep moet getrek word

Johan ·

Dis waar en skokkend wat Manie hierbo sê! Wanneer gaan die werklike skuld begin betaal word as hulle reeds sukkel om net die rente daarop te betaal…

Casper ·

Eerstens is die staatsdiens te groot Ek was self ‘n staatsamptenaar en het 2 mense se werk gedoen.Toe ek met pension is toe word 2 adisionele mense aangestel.Reis en verblyf is ook ‘n sondebok.As jy ‘n vegaderig bywoon 100km van jou werksplek af mag jy oorslaap.Ek het al van Piet Retief af gery Beitbrug toe deporteer mense en as jy wil oorslaap is daar nie geld nie maar die kantoorhoof ry Witbank toe dan slaap hy oor. Die staatsbesteding kan gesnoei word.

KB ·

Ek het nog nooit gesien dat die regering ʼn haas uit ʼn hoed kon lig nie!????

hpven ·

@ KB. Hulle kan egter geld en infrastruktuur soos mis voor die son laat verdwyn, geen kulkuns maar realiteit!

Manie ·

Ek lees in ‘n onlangse dokument, uitgereik deur ‘n Groot Moontheid dat die ANC se korrupsie en diefstal op dieselfde vlak as die Mafia en Pablo Escobar geplaas word.

Andre ·

…die A en C hoe nie verder as die verkiesing te beplan nie; want dan is alles weer terug na normaal en het hulle weer vyf jaar by die trog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.