Ekonomie eerste op Mnangagwa se prioriteitslys

President Emmerson Mnangagwa word in Pretoria deur pres. Jacob Zuma en sy afvaardiging ontvang (21 Desember 2017). Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Emmerson Mnangagwa, die nuwe president van Zimbabwe, het Donderdag aan joernaliste in Pretoria gesê die hooffokus van sy administrasie is om die land se sukkelende ekonomie weer aan die gang te kry en samewerking met ander lande te versterk.

“My administrasie gaan op die ekonomie en handelsamewerking fokus,” het Mnangagwa gesê. “Suid-Afrika is Zimbabwe se grootste handelsvennoot. Daar mag dalk uitdagings wees, maar as broers en susters het ek gekom om pres. [Jacob] Zuma te verseker dat ons oop moet wees om enige uitdagings te bespreek sodat ons ons onderskeie ekonomieë kan uitbou, en tegelyk ons samewerking kan versterk,” het Mnangagwa gesê.

Hy het joernaliste toegespreek nadat hy met Zuma by sy amptelike woning in Pretoria vergader het.

Mnangagwa het gesê Suid-Afrika is nie net Zimbabwe se grootste handelsvennoot nie maar ook die naaste buurland aan Zimbabwe. “Ons het vir twee redes Suid-Afrika toe gekom. Die eerste is dat Suid-Afrika, tradisioneel en histories, Zimbabwe se naaste buurman is. Die tweede is dat [Zuma] tans die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is. En ek kan dalk ook derdens noem dat ek my 16 dae van bannelingskap hier deurgebring het,” het Mnangagwa geskerts.

“Ek beskou president Zuma as my ouer broer. Gedurende die gewapende verset, het ons onsself in dieselfde posisie bevind: Hy was betrokke by veiligheid in uMkhonto we Sizwe en ek was die hoof van militêre en burgerlike intelligensie in Zanla (Zimbabwe African National Liberation Army) in Mosambiek. Ons het in daardie tyd saam gewerk. Gegewe daardie agtergrond het ek gevoel dat ek op my 26ste dag in die amp na my broer toe moet kom om leiding te ontvang. Hy is ʼn baie ervare president. Ek het gedink met die uitdagings wat ek in die gesig staar, moet ek heel eerste by my kollega aanklop om te sê ek het die leierskap van Zimbabwe oorgeneem en ek het jou leiding nodig.”

Die presidente en hul onderskeie afvaardigings het gesprekke agter geslote deure gevoer. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Mnangagwa het gesê hy wou ook vir Zuma kom gelukwens met die vreedsame afloop van die ANC se 54ste nasionale verkiesingskonferensie. “Natuurlik was daar ander hartsake wat ons bespreek het, van ʼn presidensiële aard, natuurlik,” het hy gesê.

Zuma het Mnangagwa vroeër Donderdag hartlik verwelkom op sy eerste amptelike besoek buite Zimbabwe nadat hy verlede maand die presidentskap oorgeneem het. Mnangagwa is vergesel deur verskeie senior Zimbabwiese beamptes, insluitend Patrick Chinamasa, die minister van finansies, en ambassadeur Isaac Moyo, wat na bewering onlangs deur Mnangagwa as direkteur-generaal van Zimbabwe se intelligensiedienste aangestel is.

Die presidente en hul onderskeie afvaardigings het gesprekke agter geslote deure gevoer.

Mnangagwa het verlede maand tydelik na Suid-Afrika gevlug nadat hy deur voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe uit sy pos as adjunkpresident afgedank is. Hierdie gebeure het uiteindelik tot die ondergang van die 93-jarige president gelei wat 37 jaar lank die staatshoof van Zimbabwe was.

Mugabe het verlede maand onder druk van die Zanu-PF party, die weermag en die publiek geswig en as president bedank wat tot Mnangagwa se terugkeer na Zimbabwe en inhuldiging as president gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

maw hy kom kers op steek by ñ gewese florende land wat nou wil voortbou op Zim se foute! patete

Darren ·

Hoe groot is Zimbabwe se BBP deesdae? Miskien vergelykend met Soutpan/Oppermansgronde (hehe). Op die toppunt was hulle ekonomie min of meer vergelykbaar met die Pinetown/PMB/Durban gebied. Met die skade wat die laaste 20 jaar aangerig is, sal dit baie jare neem om te herstel en op dieselfde vlak te kom as voorheen. al is die minimum groeikoers 5%. Zim se ekonomie was grootliks boerdery en in ‘n mindere mate mynbou. Politici moet nog leer dat die ekonomie nie soos ‘n huis is wat jy laat agteruitgaan nie. Jy kan dit nie net opbou sois jy wil nie. Bellegers is nodig en hulle het hul eie behoeftes

Peet ·

My ou mater, as jy by Zoempie moet kom kers opsteek, kan jy maar net sowel nou al handdoek ingooi.

CHRISTA ·

As hierdie president van Zimbabwe by Zuma kom kers opsteek en raad vra, is hy ‘n groter paloeka as Zuma en Mugabe SAAM!!!

Lynette ·

Na dese en sy mening oor zuma, dink ek nie meer vedl van hom nie. Sy mensekennis stink.

bgj van der westhuizen ·

wat wil hy kom leer by zuma om die staat kis te plunder en geld te mors links en regs hy moet eerder zuma leer en wys wat gebeur as land nie reg betuur en besluite reg geneem word dan kan dit lys so soos sy land suid afika is die verkeerde land om raad by te kry hulle raad sal jou van die wal tot in die sloot help

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.