Ekonomie krimp in derde kwartaal

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) het in die derde kwartaal van 2023 met 0,2% gekrimp, het Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se kwartaallikse syfers getoon.

Die inkrimping is minstens minder as wat verwag is, maar is nietemin tekenend van die uitdagings wat die landbou-, vervaardiging- en mynbousektor ondervind. ʼn Resessie wink indien die ekonomie in die vierde kwartaal verder krimp.

Volgens StatsSA is een van die grootste bydraende faktore tot die negatiewe syfer ’n afname van 9,6% in die landbousektor, waar ekonomiese aktiwiteite ten opsigte van veldgewasse, diere- en tuinbouprodukte heelwat laer was.

Maroela Media het vroeër berig dat die landbousektor boonop voortdurend deur die instelling van beurtkrag geknou word.

Die vervaardiging-, konstruksie- en mynbousektor het ook onderskeidelik met 1,3%, 2,8% en 1,1% gekrimp.

Volgens StatsSA het agt van die tien vervaardigingsafdelings negatiewe groeikoerse in die derde kwartaal getoon.

Die voedsel-, drank- en tabakafdeling was vir die grootste bydrae tot die afname in die derde kwartaal verantwoordelik.

Die afdeling vir petroleum, chemiese produkte, rubber en plastiekprodukte het ook beduidend tot die inkrimping van dié bedryf bygedra, asook die afdeling vir basiese yster en staal, nie-ysterhoudende metaalprodukte, metaalprodukte en masjinerie.

Wat die boubedryf betref, is afnames in residensiële geboue, nie-residensiële geboue en konstruksiewerk aangeteken.

Die mynbou- en steengroefbedryf het in die derde kwartaal met 1,1% afgeneem. Laer ekonomiese aktiwiteite is aangemeld vir platinumgroepmetale, goud, ander metaalminerale en mangaanerts.

Die handel-, spyseniering- en verblyfbedryf het in die derde kwartaal met 0,2% gedaal, onder meer weens minder ekonomiese aktiwiteite vir groothandel, motorhandel, asook voedsel en drank.

Besteding aan reële BBP

Huishoudings het luidens StatsSA se statistieke in die derde kwartaal 0,3% minder as die vorige kwartaal bestee. Dit het uiteraard tot die laer ekonomiese groei in die derde kwartaal bygedra.

Verbruikers het oor die algemeen minder geld spandeer – nie net aan duursame items nie, maar ook nie-duursame goedere, produkte en dienste.

Uitgawes aan vervoer, behuising, water, elektrisiteit, gas en ander brandstowwe het hoofsaaklik daartoe gelei dat huishoudings minder geld spandeer. Huishoudings het ook minder geld aan ontspanning en kultuurbedrywighede bestee.

Positiewe bydraers was besteding aan klere en skoene, restaurante en hotelle, gesondheid, onderwys, en die aankope van kos en nie-alkoholiese drankies.

Finale verbruiksbesteding deur die staatsdiens het hoofsaaklik in die derde kwartaal met 0,3% toegeneem. Dit is aangedryf deur ’n verhoging in die vergoeding van staatsamptenare.

Vastekapitaalvorming by ondernemings het met 3,4% gedaal.

Die waarde van invoere het ook met 8,6% geval terwyl die waarde van uitvoer met 0,6% gestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Dit is logies dat die landbou krimp. Wie wil boer as jy nie krag kry nie,of jy word gedreig met onteiening,gedreig met water lisensies en gedreig met uitvoere. Dit is nog n wonder dat hier boere is.

Johann ·

Glo nie ‘n WOORD wat StatsSa loslaat nie. Net nog ‘n disfunksionele instelling wat die ANC se beul blaas. Daaers mos nie ‘n MANIER wat StasSa ook deurtrek is met kaders en kamerade nie. Kyk na wat jou R100 elke week probeer koop. Maar hey…RamaNocio en sy pelle lieg’n leefstyl van euforia om.elke hoek en draai.

A ·

Vergelyk dit met die VS se ekonomie wat 5.2% gegroei het in die 3de kwartaal.

Ek wens ons kry bietjie Bidenomics hier.

Kosie ·

Hoe dan nou anders? Die land het dan nie krag nie?
Maar volgende jaar verander hulle weer die definisie van ‘n resessie, depressie en inflasie, en vertel vir ons, ons het eintlik ‘n vreeslik sterk groei gehad, maar oral waar jy kyk sien jy net verval en ineenstorting. Die land is nou goed vernietig, en nou, wat nou? Wie se skuld is dit nou die keer? Seker weer apartheid, of dalk is dit kolonialisme.
Dit is duidelik die “Nuwe Suid-Afrika” eksperiment is net een groot mislukking.
Ek het net twee vrae:
1) Wie verkwalik ek die meeste vir die gemors waarin ons nou is? Die “superior logic” en “natural intelligence” brigade, of vir die wat vir hulle die beheer gegee het sonder enige “wigte” of “teen wigte”?
2) Hoe kom ons nou uit die gemors uit?

Papsak ·

Jip hy krimp nog al die tyd van af anc oor gevat het en ja nou help loadshedding hom net beter aan en Ramaghopa help dit ten sterkste aan hulle leer mos niks nie daar die antw ????????

tweeling ·

Sodra jy totaal (bedoelende geen uitvoerende mag) van die cANCer ontslae raak sal die beter gaan

Wielspore ·

Die ANC regering moet tog net wakker skrik, bestuur lisensie kaart is al van Aug 2023 uitstaande, my nuwe ID kaart is 5 maande laat, my vrou en dogter het hulle ID kaarte alreeds gekry, dieselfde dag hernu.

Net-my-opinie ·

Ons land se ekonomie bloei R1000 000 000 per dag weens beurtkrag. Geen wonder ons het negatiewe groei nie….want niks werk nie! Viva en dankie ANC, julle is absoluut fantasties, ware landsheersers. Julle nalatenskap van korrupsie en wanbestuur sal ñ hele paar geslagte lank gevoel word terwyl julle kinders se kinders en dalk nog die se kinders ook nog, sal bars om uit die siklus van armoede te ontsnap waarin julle die hele land geleidelik gedompel het.

Republikein in die Wes Kaap ·

SA sal nie gou, indien ooit herstel, nie. Die land in sy huidige formaat is bloot nie volhoubaar nie. Nuwe staatkundige modelle is nodig. Indien ons aanploeter gaan ons voor 2050 lyk soos ‘n verarmde woestynland. Mense sal kus toe trek om darem van seekos te lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.