Ekonomie krimp vanjaar reeds met 2%

geld ekonomie suid-afrika

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) in die eerste kwartaal reeds met 2% ingekrimp.

Risenga Maluleke, die statistikus-generaal, het die jongste syfers Dinsdag bekend gemaak.

Die mynbedryf het met 21,5% ingekrimp en het 1,7% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra. StatsSA sê produksie in die ystererts-, mangaanerts-, ander metale en chroom het gedaal.

Die vervaardigingsbedryf het met 8,5% in die eerste kwartaal ingekrimp en sewe van die tien vervaardigingsafdelings het negatiewe groei in die eerste kwartaal ondervind. Petroleum, chemiese produkte, metaalprodukte en masjinerie, rubber- en plastiekprodukte, basiese yster en staal en motorvoertuie was van die grootste bydraers tot die afname.

Die elektrisiteit-, gas- en waterbedryf het in die eerste kwartaal met 5,6% ingekrimp, volgens StatsSA grootliks weens die afname in elektrisiteitsverspreiding en watergebruik.

Die boubedryf het ook met 4,7% ingekrimp.

Landbou, bosbou en visserye het beter gevaar en het groei van 27,8% ondervind.  Dit het 0,5% tot BBP-groei bygedra. StatsSA sê die toename is grootliks te danke aan stygings in die produksie van veldgewasse, tuinbou- en diereproduksie.

Finansiële, eiendom- en sakedienste het in die eerste kwartaal met 3,7% toegeneem.

Algemene staatsdienste het met 1% gegroei, veral weens ʼn toename in indiensneming by provinsiale regerings en hoër onderwysinstellings. Staatsbesteding het in die eerste kwartaal met 1,1% toegeneem en daar was ʼn toename in indiensneming en besteding op goedere en dienste.

Huishoudelike besteding het met 0,7% in die eerste kwartaal gedaal en het 0,4% tot die algehele BBP-groei bygedra. Die grootste positiewe bydraers tot huishoudelike uitgawes was vir kos en nie-alkoholiese drankies, meubels, huishoudelike toestelle, onderhoud, behuising en diensterekeninge.

Mense het egter minder geld op vervoer, klere en skoene bestee.

Uitvoere het in die eerste kwartaal met 2,3% gedaal en invoere is 16,7% minder.

Die nuus kom sowat ʼn week nadat Tito Mboweni, minister van finansies, sy aangepaste begrotingsrede in reaksie op die Covid-19-pandemie bekend gemaak het. Die tesourie verwag dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met tot 7,2% kan ineenkrimp, hoewel talle ekonome ʼn selfs groter insinking voorspel.

StatsSA het verlede week ook die uitslag van sy kwartaallikse arbeidsmagopname bekend gemaak. Luidens dié opname het 7,1 miljoen Suid-Afrikaners, meer as 30% van mense, in die stadium nie werk nie.

Die uitwerking wat die staat van landwye afsondering wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, tot dusver op indiensneming gehad het, word grootliks nie in dié syfers weerspieël nie en ʼn indiensnemingbloedbad kan volg. Die volle omvang van die afsonderingstydperk gaan na verwagting eerste in die tweede en derde kwartale duidelik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Verstaan ek reg, dis VOOR enige virus of ingroei toon nael of suur melk of wind of weer of wat ook al die ICONOMI in sy @$$&$ in gehad het?

Pieter ·

Niks nuut vir my met ANC aan stuur en hulle maatjies Eff nie. En raai wat- “Alles gaan op with en apartheid geskuif word.” Die gaan aanhou tot Zimbabwe 2 hier is en dan nogsteeds tot almal glad nie meer hier is nie. Want daar is een ding, niemand kan se ons het fout gemaak nie, want dit is almal behalwe hulle. Is so jammer, want die land Ons almal se land Suid Afrika is so mooi plek en kan die beste ooit wees as alle rassisme stop, haat stop ensovoorts. (Die bedoeling is aan alle volke in die mooi land).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.