Ekonomiese groei ál minder van Eskom afhanklik

(Foto: pixabay)

Suid-Afrika se jaarlikse ekonomiese groei raak ál minder afhanklik van die hoeveelheid krag wat Eskom opwek en spreek van ons uiters veerkragtige privaat sektor.

Só het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, Woensdagaand gesê in reaksie op Enoch Godongwana, minister van finansies, se begrotingsrede.

Eskom se voortslepende bedryfsprobleme is herhaaldelik in die begroting aangedui as dié grootste struikelblok vir ekonomiese groei. Hierdie tekortkominge vreet beleggingsekerheid weg en vererger die mark se vermoë om werk te skep.

Sedert beurtkrag in 2007 ʼn aanvang geneem het, het die Suid-Afrikaanse ekonomiese orde egter ál meer weerstandig geword teen dié staatsmonopolis se probleme.

Bron: Dawie Roodt, Efficient Groep

“Die aantal ‘BBP-eenhede’ wat ons elke jaar lewer, is ál meer in vergelyking met die hoeveelheid krag wat Eskom lewer,” verduidelik Roodt.

Dit beteken twee goed: Eerstens dat Suid-Afrika elektrisiteit, wat toenemend ʼn skaars hulpbron word, ál meer doeltreffend begin gebruik. Tweedens beteken dit ook dat die land meer privaat alternatiewe ontwikkel het sedert beurtkrag aanvanklik in werking gestel is.

Roodt verduidelik hoe die privaat sektor ál meer weë rondom en deur Eskom se mislukking begin vind, eerder as om saam met Eskom te verval. Die regering se vasskop teen die nodige strukturele hervormings wat Eskom benodig, noodsaak toenemend alternatiewe oplossings.

Eskom onredbaar sonder herstrukturering

“Die ramptoestand is nie die oplossing nie. Eskom moet eerder in sakeredding geplaas en geheel en al herstruktureer word. Meer privaatsektordeelname is ʼn absolute noodsaaklikheid in die oplossing van die elektrisiteitskrisis,” meen Roodt.

Politici is volgens Roodt nie bereid om die nodige ingrypende strukturele hervorming van Eskom met die 2024- nasionale verkiesing om die draai deur te voer nie.

“Boonop is hulle ideologies ongeneë om staatsbeheerde instellings te privatiseer en desentraliseer,” sê Roodt.

In sy staatsrede vroeër vandeesmaand het pres. Cyril Ramaphosa egter aangedui dat privaat samewerking met Eskom wel verhoog sal word. Volgens Roodt is dít ʼn soort agterdeur-privatisering waardeur Eskom se monopolie mettertyd verbreek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

domheks ·

Dawie, dankie dat jy die ding by sy naam noem! Regering dink ons moet vir hulle ‘n sterretjie opplak – maar intussen is die die private mense wat die sterre moet kry.

De Bok ·

Cool grafiek. Hoekom swaai die syfer so wild rond in 2021?

Althes ·

Dankie Dawie, jy is altyd so positief al berig jy oor slegte nuus.
SA het gewys dat die ANC wat oor hul mag wil klou in Eskom eintlik verloor het – oor die volgende maande sal dit bewys word.
Wie is Eskom? O ja, die trog van ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.