Ekonomiese impak erger met elke hoër beurtkragfase

Weens die hoër brandstoffases – en die prys van diesel – word dit al hoe moeiliker en al hoe duurder vir ondernemings en huishoudings om self die ligte te probeer aanhou. (Foto: Maroela Media)

Hoewel talle sakeondernemings en huishoudings reeds maniere gevind het om rondom die laer vlakke van beurtkrag te werk, vererger die negatiewe uitwerking op die ekonomie met elke bykomende fase.

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) sê dit sluit in substasies wat meer gereeld die gees gee wanneer dit onderwerp word aan gereelde aan- en afskakel tydens beurtkrag. Dit lei tot langer as beplande kragonderbrekings.

Reservoirs in sommige munisipaliteite loop heeltemal leeg tydens beurtkrag en het nie genoeg tyd om weer opgevul te word nie, terwyl selfs verkeersligte met rugsteunkrag ná ʼn paar uur ophou werk.

Die BER sê alternatiewe maniere wat ingespan word om die uitwerking van beurtkrag te probeer versag, sukkel om by te hou met die verlengde tydperke sonder krag. Daar is dikwels ook nie genoeg tyd tussen onderbrekings om voldoende te herlaai nie.

Selfs meer permanente oplossings soos dieselkragopwekkers begin sukkel ná opeenvolgende dae van fase 4-beurtkrag.

Die BER sê Growthpoint-eiendomme het reeds aangedui dat hy steier om genoeg diesel te bekom om die kragopwekkers by sy eiendomme – wat verskeie groot winkelsentrums insluit – aan die gang te hou. Die dieselprys is boonop op ʼn rekord hoë vlak en al hoe meer ondernemings moet die som maak om te besluit of dit die moeite werd is om self die krag tydens Eskom se beurtkrag-onderbrekings aan te hou.

Nog ‘n skerp styging in die brandstofprys word vandeesweek verwag. (Foto: Maroela Media)

Die nuus op die brandstoffront is boonop nie goed nie – nog ʼn stewige styging in die prys van brandstof word vandeesweek verwag. Die R1,50-verlaging in die brandstofheffing word vandeesmaand tot 75 sent halveer, tensy die regering besluit om dit verder op dieselfde vlak te hou. Die verligting danksy die verlaagde heffing word na verwagting volgende maand boonop in geheel opgeskort.

Die beurtkrag wat in hierdie stadium ingestel word, word bestempel as die ergste nóg. Opeenvolgende dae van fase 6-beurtkrag, met fase 4 wat snags en oor naweke geld – en ʼn terugkeer na fase 6 later vandag – is veel erger as enige vorige beurtkrag wat Suid-Afrikaners vantevore moes verduur.

Eskom voer aan die verhoogde fase is veroorsaak deur die onwettige staking by talle van sy aanlegte en tot soveel as 90% van sy personeel by sommige van sy kragsentrales het nie opgedaag vir werk nie – soms omdat stakende werkers hul nie-stakende kollegas se toegang tot die persele versper het.

Die staking is veroorsaak deur ʼn loongeskil tussen Eskom en vakbonde en daar word na verwagting Dinsdag weer na die onderhandelingstafel teruggekeer.

Intussen sal verskillende vlakke van beurtkrag vandeesweek steeds geld en selfs al keer alle werkers terug, is belangrike instandhoudingswerk nou vertraag – wat die waarskynlik van meer en erger beurtkrag verder verhoog.

Die BER waarsku dat die situasie niks goed inhou vir ekonomiese aktiwiteit in die derde kwartaal nie. Eskom hou vol fase 8-beurtkrag is nog nie in die vooruitsig nie, hoofsaaklik omdat hy meer as gewoonlik staatmaak op sy oopsiklus-gasturbines wat ʼn gesamentlike 2 000MW kan lewer. Diesel het die reeds sukkelende kragvoorsiener tot dusver al meer as R4 miljard gekos en in Junie vanjaar het die dieselrekening R1,5 miljard beloop. Dit was meer as dubbel as waarvoor vir verlede maand begroot is.

Benewens die ontbering wat deur beurtkrag veroorsaak word, gaan verbruikers ook steier onder die uitwerking van die munisipale tariefverhogings wat Vrydag in werking getree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Burgermeester ·

War my bly verbaas van ons wonderlike regstelsel, is dat die klein mannetjie op die straat word vinnig vervolg (wat reg is), maar die Zumas, en die Magashules van die lewe wat die land soveel skade berokken het deur hulle korrupte optrede, word nie tot verantwoording gebring vir hulle aandeel in die land se ekonomiese verknorsing nie. Kan iemand asseblief dit vir my in mooi Afrikaans verduidelik?

Di ·

Sodom en Gomorra – daar is niks meer oor in die land nie, ANC kan maar handdoek ingooi. Oorsee se beleggings ook daarmee heen. Land het in algehele armoede verval, DIS waarvoor die meerderheid gestem het maar NOG STEEDS word APARTHEID en BLANKES blameer wil die totale verval van die land. Gelukkig is ons in die minderheid!

Bob ·

Die aanhoudende krag onderbrekings is ook besig om elektroniese toestelle soos DSTV dekodeerders te beskadig. Waar gaan dit eindig en wie gaan daarvoor betaal, versekering, dan gaan premies op!! Bodemlose put van gemors!

Lourens CFG ·

Selfs my CCTV kameras is besig om op te pak met die aan/af sittery.
3 is klaar buite werking, en die 4de een is ook nou besig om in te gee.
Weet nie of assuransie daarvoor sal betaal nie, meer as R8000 vir 4.

Pampoen ·

Almal se geysers, wasmasjiene, yskaste ens moet opvang in die tyd wat die krag aan is. Daarom trek die substasies swaar. Die piek aanvraag is hoog. Beurtkrag is nie die regte oplossing nie, dit is slegs ‘n kruk om die stelsel aan die gang te hou. Wat mens irriteer, is dat plekke soos Waterkloof en Arcadia geen beurtkrag het nie. Blykbaar omdat daar ambassades en politici daar woon en werk. Ag nee wat, ons moet almal gelyk dra aan die onfgerief.

Asgat ·

Ja en dele van die Oosrand sit elke keer sonder water as daar beurtkrag is. So al is Zone 1 aan maar Zone 2 is af het ons geen water ook nie. Ek is nou al letterlik SIEK vir al die beurtkrag. Jy ry in die oggende by die huis wat geen krag het nie, en jy kom huistoe as dit af is. En met ons gewone mense wat met niks verhogings sit vir die laaste 3 jaar kan ons nie wegneem etes elke dag bestel nie. Hierdie hele land in sy pekie in.

Tokkel ·

Fire almal wat staak by Eskom, daar is buitelanders wat wil werk en nie altyd demands het nie.

marius ·

Niemand kan staande bly teen die gemors nie . As die gewone mense verarm is dit net ‘n kwessie van tyd voor die konings huise inmekaar stort .

LANA is ELANè ·

Die ergste van als is dat ongeag ellelange verskonings die eindverbruiker aan die einde van die dag die hardste getref word, danksy ñ regering wat nie eens hulself kan regeer en beheer nie.
En wat ook pla daar gaan ure en ure verby wat mens geen elektrisiteit het nie, maar kry jy jou rekening word dit nerens inag geneem nie, jou rekening lyk asof jy 24/7 die reg tot elektrisiteit soos in enige ander beskaafde land, gehad het. O ja, ek het vergeet hier is nie juis ñ teken van beskaafdheid in Afrika nie.
Ek glo glad nie meer enige verskonings nie, daar is mense wat hieruit bevoordeel word ten koste van Jan Alleman!

Samuel ·

Ek wonder of hierdie totale verval van ons ekonomie nie alles maar deel is van dit wat die ANC wil hê nie? Hulle mag dit ontken, maar die regering lyk nie asof hy met dringendheid na die krag – en ekonomiese krisis kyk nie.

Martin ·

Die mense van die land moet eenvoudig nie weer vir die cANCer stem tydens die volgende verkiesing nie, een van die ander partye wat meer bevoeg is moet die geleentheid gegun word om ons land reg te ruk. Al ons land se probleme het begin sedert 1994.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.