‘Ekonomiese inperkings sal ‘n ramp wees’

(Foto: Henk Kruger/ANA)

Solidariteit het in afwagting op die aankondiging van moontlike nuwe regulasies gesê ekonomiese inperkings sal ‘n ramp wees.

Die regering se mag moet ook beperk word, mense moet meer self verantwoordelikheid neem en die gesondheidsorgsektor moet ondersteun word. Die vier punte van Solidariteit is geformuleer na honderde mense se insette op sosiale media.

Solidariteit het op sosiale media gevra dat mense insette moet gee oor hoe daar op die nuutste golf van Covid-19 gereageer moet word. Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is daar uit die honderde reaksies vier punte geformuleer.

“Die regering moet sy vingers uit die ekonomie hou. Ekonomiese inperkings gaan ‘n ramp wees. Die ekonomie is oorstrek en nog ekonomiese inperkings gaan grootskaalse armoede en verarming veroorsaak wat ons nie kan bekostig nie.

“Die virus het ons lewens totaal ontwrig, maar ons mag nie ophou leef nie. Ons moet onverskrokke teen die virus wees, maar onverskrokke vir die ekonomie en werk. Ons moet kies vir ‘n gesonde oop ekonomie en gesonde werk.”

Volgens Hermann is daar ‘n reuse vertrouensbreuk met die regering. “Die regering is mal oor mag en daarom moet daar so min as moontlik mag in hul hande wees. Die keuse moet altyd eerste vir vryheid wees. Die regering kies altyd meer mag vir die staat en minder vryheid vir mense. Met absurde en irrasionele regulasies het ons geleer dat ons hul ook nie met mag kan vertrou nie.

Dirk Hermann.

“Die boewe in die rowerspelonk het hulp geplunder en op grond van ras toegeken. Ons kan hul nie vertrou nie. Met meer mag gaan hulle meer plunder. As die bestuur van die virus in die hande van die regering is, sal die pandemie soos Eskom, die SAL en Denel bestuur word.”

Al meer mense ken iemand naby hul met Covid-19 of stoei self met die virus en baie ken iemand wat ernstig siek is. “Daar moet met groot selfverantwoordelikheid met die virus omgegaan word,” het Hermann gesê.

“Gesinne moet hulself oppas en werkgewers moet die nodige maatreëls in plek plaas om gesond te kan werk. Die regering moet so min as moontlik reguleer en die gemeenskap, werkgewers, gesinne en individue moet soveel as moontlik verantwoordelikheid neem. Ons moenie onverskillig oor die virus wees nie. Ons kan nie sê die staat moet nie inmeng en dan nie self verantwoordelikheid neem nie.”

Hermann sê alles moontlik moet gedoen word om die gesondheidsektor en spesifiek hospitale te ondersteun. “Hulp moet daarop fokus. Ons sien nou die gevolge van jarelange wanbestuur deur die regering. Ons leer dat gesondheidbestuur in die toekoms eerder meer as minder uit die regering se hande moet bly. Gesondheidwerkers is nou ons helde. Hulle moet ondersteun word op elke moontlike manier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.