Ekonomiese kenners: ‘Nou begin die regte werk’

Die ekonomiese kluster van die pres. Cyril Ramaphosa bestaan uit Tito Mboweni, Pravin Gordhan, Ebrahim Patel en Gwede Mantashe. Foto: Saamgestel van Gov.za, Twitter en ANA.

Kenners in die ekonomie en sakesektor sê dit gaan nie eintlik vir hulle oor wie in die kabinet aangestel is nie, maar eerder of daar goeie ekonomiese beleid ingestel word wat Suid-Afrika in die rigting van ʼn gunstiger sake-omgewing sal stuur.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand, ʼn uur later as beplan, sy nuwe kabinet aangekondig.

Die sakesektor het oor die algemeen die behou van Tito Mboweni, as minister van finansies, verwelkom. Pravin Gordhan het ook sy pos as minister van openbare ondernemings behou. Die departement van minerale bronne en energie is gekombineer en Gwede Mantashe sal hier aan die stuur van sake by die nuwe departement staan. Ebrahim Patel is nou die minister van ʼn departement wat ʼn samestelling tussen handel en nywerheid en ekonomiese ontwikkeling is.

“Die werk moet nou begin maar gaan dit die regte soort werk wees? ʼn Mens kan sien Ramaphosa het definitief besin oor sy kabinet. Hy het probeer om gerespekteerde aanstellings te maak en ek dink hy wil regtig die land op ʼn pad van ekonomiese herstel plaas,” het Gerhard van Onselen, senior navorser van Sakeliga, gesê.

Van Onselen meen die kabinet is nie net ʼn 50/50‑kabinet volgens verteenwoordiging nie, maar op ʼn dieper vlak het die kabinet ook ʼn 50%‑kans om Suid-Afrika op die regte pad te plaas, of ekonomies net verder te laat verval.

“Bestaande ekonomiese beleide is onvriendelik teenoor die mark en Suid-Afrika sukkel met ekonomiese traagheid en korrupsie. Sakeliga is steeds besorg oor watter beleidsrigting nou gevolg sal word.

“Ek dink hier byvoorbeeld aan die departement van ekonomiese ontwikkeling en nywerheid wat nou saamgesmelt het en onder die stuurmanskap van minister Patel staan. Patel was verantwoordelik vir die strenger mededingingswet en die vraag is of hy meer hiervan en selfs ʼn strenger swart ekonomiese bemagtigsbeleid sal volg.

“Suid-Afrika het beslis markvriendelike beleide nodig. Ramaphosa het egter in sy toespraak tydens die kabinetaankondiging gesê die regerende party bly verbind tot sy manifes en sal dit uitvoer. Ons by Sakeliga kan nie help om te wonder na watter verbintenisse hier presies verwys word nie en of dit iets soos grondonteiening sonder vergoeding sal insluit.”

Roland Henwood, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, het op sy beurt gesê hy het ernstige vrae oor die departement van kleinsakeontwikkeling.

“Hierdie departement het nog min resultate gelewer; inteendeel, die aantal kleinsakeondernemings het in die laaste paar jaar afgeneem. Dit kan natuurlik toegeskryf word aan die swak ekonomie en burokratiese rompslomp om ʼn onderneming te begin en uit te bou. Dié departement is nie verantwoordelik vir hierdie omstandighede nie maar dit is wel sy werk om dit te bestuur.

“Dit is ook natuurlik ʼn ope vraag of ʼn regerende party met ʼn ideologie teen besighede die sake van kleinsakeondernemings kan bevorder, maar ek dink die sakesektor moet krities teen dié departement staan en druk in die toekoms uitoefen dat hier veel beter resultate gelewer word.”

Kenners is dit ook eens dat daar sterk druk op die ekonomiese kluster van die kabinet is om onmiddellik resultate te lewer.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het gesê die oorhoofse ekonomiese boodskap wat aan die markte gestuur is, was ʼn positiewe een.

“Ramaphosa se behoud van ministers in die departemente van finansies, openbare ondernemings, handel en nywerheid, asook minerale bronne wys hy is ernstig daaroor om die ekonomie om te swaai.

“Die onus rus nou op dié ministers om meer duidelikheid rondom beleidsrigting te verskaf en beleidsekerheid te skep sodat die ekonomie kan groei.”

Parsons het dit benadruk dat Suid-Afrika moet ophou om te baklei oor die ekonomie en eerder moet saamwerk om dit te herstel sodat die land so gou as moontlik uit die trae ekonomiese groeitrajek kan ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marous ·

Laat die kundige in detail verduidelik hoe die ekonomie en die land herstel gaan word , en deur wie.

Jerry ·

Daar kan geen twyfel by enige regdenkende Suid Afrikaner bestaan nie dat die ANC inderdaad ernstig is om die ekonomie om te swaai vir die ANC ten koste van gewone burgers wie daarvoor gaan moet betaal!

Andreas ·

En vir die Taal wat ons so lief het. Ek sien juis die nuwe dame in Lesufie se plek sê sy volg sy beleid volstoom, gaan die ‘n milliemeter afwyk nie, so Blade het ook mos Afrikaans op die universiteite laat vergaan, dus kan ons van daardie kant geen hulp verwag.

Maar my roep is, laat ons hulle eers in die tuig sien met die graaf in die hand die grond omspit, water lei, voor ons te opgewonde raak.

Deon ·

Die SA ekonomiese struktuur is verouderd en uitgedien. Ekonomiese beleid is sonder skop. Ons sal net verder wegsink in die moeras. Ramaphosa praat van 4de Industriële Revolusie, maar sy kabinet sukkel om die 1ste revolusie te bemeester.

Wielspore ·

Daar is net te veel kapitaal wat SA verlaat deur maatskappye wat SA se mineraal bronne vanuit die buiteland bestuur deur dit te ontgin. SA werkers verdien minimum salaris, daar is min tot niks sosiale belegging in die werkers soos behuising na aftrede. Intussen word die groot winste deur eienaars opgeraap en eindig in buitelandse bank rekeininge. Ons kan nie hierdie probleme voor die deure van die regering lê nie.
Ek sluit my kommentaar met ‘n vraag af.
Hoeveel lesers het met die dag van hulle aftrede dit kon reg kry om hulle eie huise te koop en is of klaar betaal op die dag?

Koos Kotze ·

Die probleem bly die ANC wat teen enige ontwikkeling is, vernietiging van enigiets, wat werk, is hul doelwit. Die ministers is ANC lede en moet die beleid van die party uitvoer. Dit beteken geen groei, behalwe hul sakke.

Kallie ·

Patel is ‘n ou kommunis en vakbondbaas. Hy het die tekstielbedryf in die Kaap vernietig. Tot nou toe het hy zero bereik in terme van ekonomiese beleid.

Andreas ·

Ek wou sê Patel “is the weakest link”, maar ai al vier nie maar kommuniste nie?

Jacobus Krynauw ·

Is ekonomiese kenners persone wat teen ‘n baie billike prys bekom is? Skreeusnaakse taalgebruik ????

Skepties ·

Solank die regerende ANC vasklou aan sy SOSIALISTIESE beleid, sal ons geen vooruitstrewende ekonomiese toekoms tegemoet gaan nie.!

Justice ·

Die ANC se ekonomiese beleid misluk omrede hulle nie behoudend is tov kennis, ervaring en kundigheid nie. Daar word n ideologiese benadering gevolg instede van n pragmatiese benadering. Net n dwaas sal geld in SA bele met hierdie oorhoofse realiteit. BEE en AA doen die ekonomie meer skade as enige iets anders. Die ANC beskou 10% ekonomiese groei vir die swart elite as groei, al is dit dan 1% groei vir die algemene ekonomie. Die mense wat vir die ANC gestem het moet maar hulle voete deurloop vir werk, en werkskeppers moet met hulle voete stem en werk skep elders. Dis wat ek doen.

Eerste prys vir die ANC is om my alle ekonomiese geleenthede in SA te ontgun. Eerste prys vir my is om hulle verkeerd te bewys elders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.