Ekonomiese moontlikhede binne selfbeskikking

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Tegnologie is die instrument wat enigiemand werklik vry gaan maak. Dit is gevaarlik en kan misbruik word, maar kan ʼn mens of groep ook bevry van die juk van die staat. Daarom is selfbeskikking nie noodwendig ʼn grondgebied nie, maar ʼn ander manier om ʼn gemeenskap te definieer, soos ʼn digitale gemeenskap. Dit is moontlik om aan ʼn klub te behoort sonder om naby die ander klublede te wees.

Dit is die mening van Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, wat Maandag deel van ʼn paneelbespreking was oor selfbeskikking en die ekonomie, aangebied deur die Vryheidsfront Plus.

Die paneellede was dit eens dat Suid-Afrika voor ʼn fiskale afgrond staan, met ʼn baie klein geleentheid – indien enige – om die val te keer. Volgens prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se sakeskool, het staatskuld handuit geruk en is staatsdienssalarisse totaal onvolhoubaar. Hy meen ook dat swart ekonomiese bemagtiging nie meer ʼn plek het in hierdie krisis nie en stel ʼn nuwe beleid van swart ekonomiese vaardigheidsoordrag voor, sodat meer mense tot ekonomiese groei kan bydra en die land ʼn permanente fiskale krisis kan vermy.

Dr. André Laäs, uitvoerende hoof van die finansieringskorporasie Beneficio, beaam dat die fiskus geplunder word en die fondse nie aangewend word om die mense van ons land te bevoordeel nie. Omdat belastinggeld misbruik word, wil mense nie belasting betaal nie. Dié situasie noop ʼn mens om ander moontlikhede wat uitkoms kan bied, te soek. ʼn Belastingtoevlugsoord is een so ʼn moontlikheid.

“So ʼn toevlugsoord is ʼn land of jurisdiksie wat min of nominale belastings van korporatiewe maatskappye of individue eis. Dit is belangrik dat die persone wat daar belê dit in geheimhouding moet kan doen. Verder moet die wette in so ʼn land ondeursigtig wees en dit moenie nodig wees vir jou om ekonomies aktief te wees in so ʼn toevlugsoord nie,” verduidelik hy en noem Monaco en Mauritius as voorbeelde.

Roodt glo ook dat belasting in Suid-Afrika ʼn groot probleem geword het en dat die moontlikheid van ʼn belastingtoevlugsoord daarom aantreklik is. Belastingveerkragtigheid is ʼn konsep wat talle mense reeds aggressief beoefen.

Is ʼn ‘wolkstaat’ die antwoord?

Moderne ekonomieë word al hoe meer dienste georiënteerd en meer gedigitaliseer, sê hy. Met nuwe tegnologie het nuwe tipe geld begin ontwikkel. Al hoe meer mense maak van privaat geld gebruik om handel te dryf. Bitcoin is ʼn voorbeeld van hoe geld ʼn ander tipe vorm aanneem en terugbeweeg na die privaat sektor.

“Geld is deesdae niks anders nie as inligting wat jou die reg gee om iets by iemand anders te koop. Dis deel van die moderne dienstebedryf, ons kan dit vir mekaar stuur. Dit word nie sentraal beheer nie, niemand monopoliseer dit nie, dis op ʼn platform wat beskikbaar is aan almal wat daaraan deelneem,” voeg hy by.

Die implikasies daarvan as privaat geld al hoe meer algemeen aanvaar word, is absoluut verreikend, glo hy. Dit beteken selfbeskikking kan in die wolke wees, mense dryf handel met mekaar op maniere waarop hulle onderling ooreengekom het, los van belasting, en die staat kan niks daaraan doen nie.

“Dié vorm van selfbeskikking is nie net van toepassing op geld nie. As jy aan ʼn klub behoort en twee lede het ʼn regsdispuut, kan julle ooreen kom dat ander klublede die geskil besleg en dit privaat hanteer. Dit is ʼn tipiese funksie van die staat wat jy dan privatiseer. Ek dink dis die manier van die toekoms,” sê Roodt.

Die virtuele voordele wat tegnologie inhou kan tog ook op ʼn geografiese gebied van toepassing gemaak word, voeg hy by. Mense kan hulself binne ʼn gebied organiseer om ʼn eie belastingstelsel, veiligheidsnetwerk, elektrisiteitsopwekking, skole, ensovoorts te skep. “Die wonderlike van ʼn sogenaamde wolkstaat is dat jy kan wegkyk van die vergrype van die staat.”

Moontlikhede soos privaat geld en belastingtoevlugsoorde gaan uitkoms bied aan mense wat oorbelas word, en dit gaan ʼn groot gat in regeringsinkomste beteken, voeg Rossouw by. Hy glo dat regerings oor die wêreld heen daarom hul burokratiese ooraanbod moet heroorweeg.

Hoe pak ons die toekoms aan? Laäs glo die enigste manier om vorentoe te gaan, is om ʼn ooreenkoms met die staat te beding wat tot hulle voordeel ook gaan strek. Een opsie wat Rossouw opper is dat die staat oorreed moet word om meer mag na die provinsies af te wentel, weg van sentrale regering, sodat daar op hierdie manier ʼn groter mate van selfbeskikking kan kom. Roodt se raad is dat individue en groepe die regering soveel as moontlik moet ignoreer en jou eie ding doen, sonder om wette te verbreek.

Ons leef in ʼn moderne tyd met moderne moontlikhede wat ons tot ons voordeel moet aanwend – moontlikhede soos virtuele geld, virtuele gemeenskappe, selfs ʼn mate van virtuele selfbeskikking. Tog glo Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus dat die Afrikaner nie in Afrika sal oorleef sonder ʼn geografiese basis, hoe klein ook al, waar ʼn eie fiskale beleid bepaal kan word nie. Dié onderwerp word in die laaste sessie, wat Maandag aangebied word, onder die loep gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Die tyd vir radikale ekonomiese veranderinge en benaderinge in die bestuur van die land het NOU noodsaaklik geword. Argaiese denke en handelpatrone en wyse waarop dinge gedoen word se tyd is verby. Die Staat klou vas aan die gerieflike benaderinge iets wat hul mag gee , waar hul oordrewe magsbehep word en staatskaping ‘n gerieflike plundermanier geword het. Afwenteling van magte soos voorgestel kan dramatiese veranderinge teweegbring met geweldige positiewe gevolge vir elke landsburger

Toktokkie

Ek stem volkome saam – die toekoms van regerings word al klaar bedreig – wereldwyd. Mense is moeg vir al die politiek en al die korrupsie wat daarmee saam gaan. Nie net in SA nie maar oral in die wereld is mense moeg vir regerings wat hul mag misbruik. Hierdie idee is beslis doenbaar en haalbaar. En in my opinie nie ver van realiseer af nie.

JM

Dit is hoog tyd dat hierdie benadering prakties toegepas word om die land van totale ondergang te red, maar dit sal spoedig moet gebeur!

Grassie

Hierdie is ‘n leersame berig wat ‘n mens laat dink, diep laat dink. Ek sien egter een struikelblok – die meeste daarvan is eerstewêreld teorie terwyl ons in ‘n derdewêreld land woon. Ons derdewêreld regering is gewetenloos, magsbehep en grypsugtig. Hulle sal niks verduur wat hulle nie self kan beheer, met hul taai vingers in die geldkassies nie. Moet tog nie dink dat billikheid en regverdigheid enigsins ‘n rol sal speel nie – soos wat hulle nou eiendomme gaan onteien sal hulle enigiets anders ook plunder. Maar ek is dankbaar dat daar bevoegde mense is wat na uitweë soek in… Lees meer »

Jaco

Onthou net, jou ekonomiese moontlikhede en geleenthede moet net nie te groot wees nie, want dan raak jou aantal werkers en jou finansiële omset so baie dat jy regstellende aksie MOET toepas en BEE vereistes ook vir jou begin loer.