ʼn Raad van ondersoek, wat aangestel is ná ʼn noodlottige vlootoefening in Kommetjie, het uitstel versoek om hul werk suksesvol af te handel.
Die raad is aangestel om die omstandighede te ondersoek wat tot die tragiese gebeure aanleiding gegee het.
Lt.kdr. Gillian Elizabeth Hector (née Malouw), MHAO (meester-hoofadjudantoffisier) William Masela Mathipa (stuurman) en AO1 Mmokwapa Lucas Mojela (stuurman in opleiding) is in die voorval dood. Die lede was besig met ʼn oefening waartydens ʼn Lynx-helikopter van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) goedere na die duikboot SAS Manthatisi oorgelaai het. Die duikboot is egter deur groot branders getref en lede van die vloot is deur die see meegesleur.
“Die hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot, viseadmiraal Monde Lobese, het die versoek om verlenging van die ondersoekperiode goedgekeur,” het Theo Mabina, woordvoerder vir die vloot, in ʼn verklaring gesê.