Ekstra veiligheid op Tafelberg oor feestyd

Tafelberg op ‘n sonskyndag. (Foto: Kobus Bezuidenhout/Maroela Media)

Bykomende veiligheidsmaatreëls sal tydens die feestyd in die Tafelberg Nasionale Park geld.

Daar was die afgelope maande ʼn vlaag aanvalle wat besoekers aan die gewilde reservaat teiken en ʼn petisie wat SANParke versoek om misdaad op Tafelberg dringend te pak, is reeds deur duisende mense onderteken.

Volgens SANParke is daar sedert die begin van die feestydveldtog reeds ses suksesvolle inhegtenisnemings gemaak.

SANParke het 112 veldwagters in diens in die Tafelberg Nasionale Park, van wie 15 lede is van die see-, lug- en bergspan (SEAM) – ʼn span hoogs bekwame veldwagters wat ses gespesialiseerde honde het. Altesaam 70 toerisme-monitors sal ook op 15 Desember in die park ontplooi word.

Hommeltuie sal ook ingespan word om waar nodig bystand te lewer. Volgens SANParke is die Tafelberg Nasionale Park uniek aangesien dit omring word deur ’n digbevolkte stedelike gebied, nie omhein is nie en ongeveer 850 km se roetes het.

“Dit beteken maklike toegang vir mense om die park te gebruik van baie verskillende gratis toegangspunte, maar beteken ook dat dit maklik is vir misdadigers om toegang tot die park te verkry en om dit te verlaat. Misdaad wat in die stedelike gebied voorkom, is geneig om na die park oor te spoel.”

Volgens SANParke is daar nou verhoogde sigbaarheid op die grond, in die see, op die berg en in die lug met ’n SANParke-helikopter wat help met daaglikse lugwaarneming gedurende die feestyd.

Kaapstadse owerhede sê daar was vanjaar meer as 80 aanvalle op die bergpaadjies; die meeste daarvan sedert Augustus. Altesame 10 voorvalle is in Augustus aangemeld, asook ses in September en 13 in Oktober. Dit is byna 30 aanvalle in slegs drie maande.

Drie reddingswerkers is ook tydens ʼn noodreddingsoperasie in die park beroof.

Gidse raak toenemend bekommerd om stappers teen dagbreek en skemer op die berg te begelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OW ·

Hoekom nou net feestyd ekstra veiligheidsmaatreeëls tref?Daar moet altyd voldoende maatreëls in plek wees.Die Wes Kaap roem reeds dat hy uitstyg bo die ander provinsies.Geen provinsie is ‘n maklike taak onder die huidige nasionale regering nie.

Lettie ·

Dit wás nooit nodig nie, maar die kaders het dit moeilik begin maak vir toeriste en vakansiegangers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.