Ekurhuleni-burgemeester dié week aangewys

Verkiesing 2016. Foto: Reint Dykema

Verkiesing 2016. Foto: Reint Dykema

Die stad Ekurhuleni sal vandeesweek vergader om ʼn nuwe burgemeester en speaker vir die stadsraad aan te wys ná afloop van die munisipale verkiesing op 3 Augustus.

Themba Gadebe, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê die eerste raadsvergadering is vir Vrydag om 10:00 in die Germiston-raadsaal geskeduleer. “Ekurhuleni wil inwoners verseker dat die afwesigheid van ʼn duidelike meerderheid by enige party in die stad nie dienslewering sal beïnvloed nie,” het Gadebe gesê.

Hy het gesê die stadsbestuurder sal die raadsvergadering lei totdat ʼn speaker verkies is. Daarna sal die speaker die vergadering lei en die verkiesing van ʼn uitvoerende burgemeester en hoofsweep behartig.

Geen party het met ʼn oorweldigende meerderheid in Ekurhuleni gewen nie en ʼn koalisie-regering sal na verwagting voor Vrydag se raadsvergadering aangekondig word. Die ANC het uiteindelik 49,04% van die stemme (109 van 224 setels in die metro) gekry, terwyl die DA met 34,43% van die stemme 77 setels gekry het.

Die EFF het 25 setels verower, die African Independent Congress vier setels, die Inkatha Vryheidsparty en die Vryheidsfront Plus elk twee setels en die Pan Africanist Congress, die Patriotic Alliance, die Congress of the People, en die Independent Ratepayers Association of SA elk een setel.

Beamptes van die ANC en die African Independent Congress sou na bewering Sondag vergader om ʼn koalisie-ooreenkoms te bespreek wat die ANC in staat sal stel om die metro te behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Klaas ·

Miskien moes die skrywer van die berig verwys het na “volstrekte” meerderheid in plaas van “oorweldigende” meerderheid. ‘n Volstrekte meerderheid (50%+1) is voldoende om ‘n regering te vorm. ‘n Oorweldigende meerderheid sou waarskynlik iets wees soos 70%+ van die stemme of setels in die raad.

Loeis ·

En miskien moet daar nie spesifieke partye se plakkkate vir ‘n berig gebruik word tensy die berig spesifiek oor daardie party of partye gaan nie.

Wat-ek-lees ·

So dis op meegaande foto alleen waar die ANC bo teen die paal sit. Hopelik sal die gevryery na die minderheidspartye tot voordeel wees van die inwoners maar in die besonder die belastingbetalers.

Lucas ·

En ek glo daar is nog van die ywerige party werkers wat veral die DA en ANC kan stuur om nou maar hulle verkiesing plakkaarte af te haal. Ons is nou al moeg vir die ontsiering orals!!

Karma ·

Om ‘n “meerderheid” in Tshwane te kry, sal die DA na al die ‘koningsmakers’ moet vry – met 77 setels vir hulself en die ander 34 ‘koningsmakers’-setels, sal hulle HARD moet vry vir ‘n werkende koalisie (dis maar in totaal 114 setels wat na hulle toe kan kom en daar sal vir seker ‘n paar dwarstrekkers wees!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.