Ekurhuleni-verslag wys swak dienslewering van ANC/EFF-regering uit

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Die ouditeur-generaal (OG) se ongekwalifiseerde ouditverslag vir die Ekurhuleni-metro kan oppervlakkig beskou die indruk skep dat die metro goed bestuur word.

“Indien daar egter dieper gedelf word, dui die verslag wel aan dat geen van die diensleweringsteikens van die ANC/EFF-regering behaal is nie ten spyte van die feit dat die verslag ongekwalifiseerd is,” sê Denise Janse van Rensburg, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad.

Sy sê die ANC/EFF-regering se gespog met die ouditverslag moet dus met ʼn knippie sout geneem word.

“Daar moet ook in gedagte gehou word dat hierdie verslag van die OG bloot ʼn ongekwalifiseerde verslag is. In die vorige twee jaar waarin ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus deel was, aan die stuur van sake was, is daarin geslaag om skoon ongekwalifiseerde verslae te behaal.”

Die paar suksesse wat wel in die verslag uitgelig word, is dus die resultaat van die regruk-proses van die vorige veelparty-koalisieregering.

Die OG het verder bevind dat die Ekurhuleni-behuisingsmaatskappy geen van sy teikens behaal het nie.

“Dit is problematies gesien in die lig van die aantal mense wat jaarliks die metro instroom en al hoe meer plakkerskampe tot gevolg het. Verskeie departemente, soos water, sanitasie, elektrisiteit, en afvalbestuur, het hul begrotings oorskry.”

Die regerings- en ekonomiese ontwikkelingsdepartemente het die beste gevaar. “Hierdie sogenaamde prestasie moet teen die agtergrond van die realiteit van swak dienslewering en ʼn wesenlike gebrek aan ekonomiese groei in die metro gemeet word.”

Volgens Janse van Rensburg is dit duidelik dat die privaatsektor weereens gaan moet inspring waar die ANC/EFF-regering faal, beide wat ekonomiese groei aanbetref asook die oorneem van regeringsfunksies soos die herstel van slaggate.

“Die OG se verslag wys duidelik hoe dienslewering onder die ANC/EFF-regering na benede gespiraal het. Die VF Plus sal hom altyd daarvoor beywer om ʼn metroregering daar te stel wat die inwoners eerste stel en ʼn vredevolle omgewing skep waarin families kan woon en werkskeppende ekonomiese groei kan plaasvind. Daarom moet die ANC/EFF-metroregering tot ʼn val kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Die VFplus moet hulle gas gee, daar is te veel droë hout in die regering wat goed genoeg is vir braaivleis vuur.

minnie muis ·

die mense weet nie eers hoe debit en krediet werk nie …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.