Ekwiteitsfonds vir toerisme voorlopig gestaak

Die toerismebedryf is besonder swaar deur die afsonderingsregulasies geraak. (Foto: Love South Africa/Facebook)

Die organisasies AfriForum en Solidariteit het die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, se besluit om die toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) se werksaamhede te staak totdat daar met hulle vergader is, verwelkom.

Die twee instellings het vroeër ʼn dringende brief aan die minster gerig oor die fonds wat beoog om slegs finansiering aan toerismeondernemings wat aan swart mense behoort te verskaf.

Die aankondiging het talle mense die josie in gehad, veral omdat die bedryf besonder swaar deur die Covid-19-afsonderingsregulasies getref is.

AfriForum en Solidariteit sê die minister het aangekondig dat sy met hulle in gesprek wil tree en dat die fonds tydelik opgeskort word totdat dié beraadslaging plaasvind.

Die stap is verwelkom.

“Die regering het die inperkingsmaatreëls weens Covid-19 ingestel en daarmee handel en die groter ekonomie beperk. Die gevolg was dat duisende ondernemings, veral in die toerismebedryf, vir maande geen inkomste kon verdien nie,” sê Morné Malan, kommunikasiehoof by Solidariteit.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

“Wat die regering nou moet doen is om ’n hand uit te reik na hierdie ondernemings en hulle te ondersteun eerder as om die geleentheid te misbruik om sy ras-ideologie te bevorder. Ons verwelkom die geleentheid om in dié verband met die minister in gesprek te tree.

Monique Taute, hoof van veldtogte by AfriForum, het ook die minister se bereidwilligheid om te vergader, verwelkom.

“Die regering het ’n verantwoordelikheid teenoor alle landsburgers aangesien almal in die toerismebedryf tans dringend hulp nodig het. Die regering kan nie ’n pandemie gebruik om transformasie te bevorder terwyl alle Suid-Afrikaners swaarkry nie,” sê Taute.

Maroela Media het vroeër berig die minister het haar skerp uitgespreek oor die organisasies se voorneme om regstappe teen die ekwiteitsfonds te doen.

Kubayi-Ngubane het toe gesê dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nooit bedoel was om gevestigde ondernemings in Suid-Afrika uit te sluit nie, maar bloot die speelveld binne die ekonomie gelyk moet maak.

Die fonds van sowat R1,2 miljard het ten doel om skuldfinansiering te bied, toelae beskikbaar te stel, aandele te bekom en nuwe projekontwikkeling in die toerismebedryf vir swart entrepreneurs te vergemaklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Nou is my vraag, het hierdie regering regtig gedink die witmense in die land is regtig onnosel. Daar word nooit meer gekyk na enige blankes en hul swaarkry nie, want slegs swartes word nou bevoordeel. Dit is nou al baie duidelik en die president skroom nie eers om dit reguit te sê nie. Maar hulle moet oppas, hulle oorspeel hulle hand. Dit is eintlik tragies dat die mense in die land net goed genoeg is vir hulp in tye van nood en hul belastinggelde……wat so skaamteloos misbruik word. Skandelik.

Anton

Ek onthou nog hoe die Engelse vir die Afrikaners moes geld gee om “die veld gelyk te maak” :-)

Dup

Die minister dra ñ rooi baret……..

Manie

Baie Dankie Afriforum

Piet

Hoop nie dis om te kyk wie bereid is om ‘n geldjie te deel nie…….