Eldorado Park vra AfriForum se hulp teen Lesufi, Sadou

Ashley Sauls, gemeenskapsleier van Eldoradopark. (Foto: Skeermgreep)

Die skoolgemeenskap van Eldorado Park buite Johannesburg het adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaat vervolgingseenheid genader om hulle te help in hul stryd teen die Gautengse departement van onderwys en die onderwysersunie Sadou.

Hulle is ontevrede omdat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, nie die belange van leerders aan Eldorado Park Secondary op die hart dra nie. Die gemeenskap se grootste probleem is met onderwysers verbonde aan Sadou en die onderwysdepartement se onvermoë om hulle aan te vat.

Volgens Ashley Sauls, ʼn gemeenskapsleier in Eldoradopark, duur die probleme reeds twee jaar lank. “Sewe onderwysers en lede van Sadou is die afgelope twee jaar al afwesig van die skool, maar ontvang nog ʼn volle salaris vanaf die provinsiale departement. Lede van Sadou het verlede jaar ook leerders en onderwysers opgestook om betrokke te raak by ʼn gewelddadige betoging wat daartoe gelei het dat van die leerders beseer is op die skoolterrein.”

Glenwel Sweetland, lid van die beheerliggaam van Eldorado Park Secondary School. (Foto: Skermgreep)

Glenwell Sweetland, tesourier van die skool se beheerliggaam, sê Sadou-lede het vantevore al verskeie klagtes van rassisme en wanbestuur van fondse teen die skoolhoof aanhangig gemaak. “Hoewel ʼn ondersoek deur die departement bevind het die skoolhoof is onskuldig, het die departement geen stappe teen die betrokke onderwysers gedoen nie. Die departement versuim ook om op te tree teen hierdie onderwysers, ondanks herhaalde versoeke deur die gemeenskap,” sê Sweetland.

Sauls sê hulle het besluit om AfriForum te nader, want AfriForum staan vir geregtigheid en regverdigheid. “Ons het alle ander metodes tot ons beskikking uitgeput. Dít is ons laaste uitweg,” sê Sauls.

“Die ouergemeenskap van Eldorado Park Secondary School het ʼn dringende behoefte om hul kinders se leeromgewing te verbeter en ons moet hulle daarmee help,” sê Carien Bloem, AfriForum se bestuurder van onderwys.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê hulle is bekommerd oor die rol van unies in skole wat onderwys ontwrig. “Hierdie saak is ʼn goeie voorbeeld daarvan.”

Bloem sê AfriForum sal nou die skool help om dissiplinêre aksie teen die betrokke onderwysers in te stel en die skoolhoof se naam in ere te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Martin ·

Lesufi is ‘n perfekte voorbeeld van die huidige onderwysstelsel.

Arno Scheepers ·

Dit is reg Eldorado Park staan op julle regte. Aan die onderwysers, beheerraad, ouers en leerlinge, moet julle nie laat boelie nie.

AfriForum lid ·

Laat die mense by AfriForum aansluit. En DAN vra vir hulp. Dit is my geld wat daar gaan help. Geen lid, geen voordeel.

skurweberg ·

Hier kom ‘n ding. As hierdie saak slaag “Is the sky the limit”

Ellies ·

Ek hoop Afriform sal ook sommer terwyl hulle besig is daar in Eldorado Park, ingryp in die hondgevegte bedryf wat daar groot besigheid is.

Gerald ·

Lesufi is nie daar vir sy kundigheid nie…sy inslag is revolusionêr (onmin saai en skade veroorsaak).

Dell ·

Kan ons nie asseblief die einde van Lufisi in die onderwys sien nie. Hy is nie daar vir die kinders of die skole nie. Asb Agriforum maak tog 2020 ‘n plan.

Sakkie ·

@ Afriforum lid. Stem saam. Dalk moet ons maar ‘n besluit maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.