Eldoradopark: Borgtog aan polisiebeampte toegestaan

Voster Netshiongolo
gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/African news Agency)

Sers. Voster Netshiongolo, een van die polisiebeamptes wat verbind word met die skietdood van die 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark, is Vrydag borgtog toegestaan.

Netshiongolo het vanoggend weer in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn waar die landdros borgtog van R10 000 aan hom toegestaan het.

Netshiongolo het vroeër vandeesmaand ’n tweede borgtogaansoek ingedien, gegrond op nuwe feite nadat sy eerste aansoek aanvanklik einde September van die hand gewys is.

Maroela Media het vroeër berig Netshiongolo, ’n speurder verbonde aan die Eldoradopark-polisiestasie, staan tereg op aanklag van regsverydeling, asook dat hy aandadig aan die moord was.

Nathaniel Julies. (Foto: Twitter)

“Dit beteken dat die sersant daarvan beskuldig word dat hy ná die moord op die kind onregmatig en doelbewus die ander twee beskuldigdes gehelp het om aanspreeklikheid vry te spring of geregtigheid te ontduik,” het Ndileka Cola, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), vroeër verduidelik.

Sy medebeskuldigdes Simon “Scorpion” Ndyalvane en Caylene Whiteboy word beskuldig van die moord op die seun, asook dat hulle met bewyse sou peuter.

Nathaniel is in Augustus vermoedelik tydens ’n skietery tussen ’n bende en die polisie gewond en is later die dag in ’n hospitaal dood.

Die familie van Nathaniel, ’n kind met Down se sindroom, voer aan hy is dood omdat hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie. Hulle sê egter weens die sindroom kón hy nie reageer nie.

Netshiongolo en sy medebeskuldigdes sal na verwagting weer op 27 Januarie 2021 in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.