Eldoradopark: Drie polisiebeamptes weer in hof

Nathaniel Julies. (Foto: Twitter)

Die drie polisiebeamptes wat vroeër in hegtenis geneem is in verband met die skietdood van die 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark, het Donderdag weer in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn.

Ndileka Cola, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het gesê die saak teen hulle is tot 22 September uitgestel.

Die polisiebeamptes sal na verwagting dán aansoek om borgtog doen. Hulle bly steeds in aanhouding.

Twee van die polisiebeamptes staan tereg op aanklagte van moord, die afvuur van ʼn vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en regsverydeling. Dít terwyl die derde beampte, ʼn speurder verbonde aan die Eldoradopark-polisiestasie, op aanklag van regsverydeling, asook dat hy aandadig aan die moord was, tereg staan.

“Dit beteken dat die sersant ná die moord op die kind onregmatig en doelbewus die ander twee beskuldigdes gehelp het om aanspreeklikheid vry te spring of geregtigheid te ontduik,” het Cola vroeër verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig Nathaniel het sowat twee weke gelede na bewering in die kruisvuur tussen ʼn bende en die polisie beland en is later die dag in ʼn hospitaal dood.

Die skietgeveg tussen die bendelede en die polisie het ontstaan nadat die polisie ʼn wenk opgevolg het oor gesteelde motoronderdele wat in die omgewing gehou word.

Nathaniel wat Down se sindroom gehad het, se familie voer luidens berigte aan hy is dood omdat hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie. Hulle sê egter weens sy sindroom kón hy nie reageer nie.

Nathaniel was op pad om te gaan koekies koop toe hy doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kaal Keiser ·

In ‘n land waar moord en dood aanvaarbaar is …. net nie die hare nie ou !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.