Eldoradopark: Nog ʼn klag teen polisiebeamptes bygevoeg

Nathaniel Julius (16) (Foto: Twitter)

Die twee polisiebeamptes wat Vrydagaand in hegtenis geneem is in verband met die dood van die 16-jarige Nathaniel Julius van Eldoradopark word nou deur nóg ʼn aanklag in die gesig gestaar.

Ndileka Cola, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het Saterdagmiddag in ʼn verklaring gesê die polisiebeamptes word nou ook aangekla van die besit van verbode ammunisie.

Albei het reeds tereggestaan op aanklagte van moord en moontlik dwarsboming van die gereg.

Die ondersoek duur voort.

Maroela Media het vroeër berig twee polisiebeamptes verbonde aan die plaaslike polisie se misdaadvoorkomingseenheid is in hegtenis geneem nadat Nathaniel Woensdag na bewering in die kruisvuur tussen ʼn bende en die polisie beland het. Nathaniel is gebore met Downsindroom.

Die skietgeveg tussen die bendelede en polisie het ontstaan ná die polisie ʼn wenk ontvang het oor gesteelde motoronderdele in die omgewing.

Mo Senne, woordvoerder van Not In My Name International (Nimni), het vandeesweek gesê Nathaniel se dood is “ʼn regstreekse gevolg van gewapende mans in blou wat nie voldoende opleiding ontvang het nie”.

Volgens berigte voer die familie aan die seun is dood toe hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie. Hy kon egter nie daarop ag slaan nie omdat hy Downsindroom gehad het.

Die gemeenskap het vandeesweek geregtigheid geëis vir Nathaniel se afsterwe. Dit het tot betogings in die gebied gelei en polisiebeamptes moes rubberkoeëls gebruik om die ontstoke skare uiteen te jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek hoop geregtigheid gaan plaasvind. Die lys teen die polisie word langer…

Wat het groot hoed vir homself te sê?

Hy wil ons blankes ontwapen, maar kyk wat maak sy mense wat nie eers hul werk kan doen nie! Jy skiet nie links en regs nie

annie ·

Dit is uiters tragies maar die naaste moet ook aangespreek word. Waarom is die tiener wat nie na homself kon omsien nie, nie tuis gehou of vergesel nie. Kleuters speel sonder toesig, meisies dwaal saam met vreemdes op stil plekke, Dit is tyd dat verantwoordelikheid verkondig word. Kerke en skole het ook ‘n rol te speel. Het ons nou net martelaars en slegte polisielede?

Outop ·

Ons het as kinders SONDER toesig buite in die strate gespeel, daar was nog wet en orde!

Nie Verbaas ·

Dit is wat gebeur as jy gesag in n onbevoegde persoon se hande sit. Ne mnr Cele?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.