Eldoradopark-skietery: Derde polisiebeampte vas

Nathaniel Julies. (Foto: Twitter)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Dinsdagmiddag ʼn derde polisiebeampte in hegtenis geneem in verband met die dood van die 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark. Die beampte is ʼn speurder verbonde aan die plaaslike polisiestasie.

Volgens Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, staan die beampte tereg op aanklagtes van dwarsboming van die gereg en die besit van verbode ammunisie. Hy sal na verwagting Donderdag in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn.

Twee polisiebeamptes, verbonde aan die plaaslike polisie se misdaadvoorkomingseenheid, is reeds Vrydag in hegtenis geneem in verband met Nathaniel se moord. Hulle het Maandagoggend in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die skietgeveg tussen die bendelede en polisie het ontstaan ná die polisie ʼn wenk ontvang het oor gesteelde motoronderdele in die omgewing. Nathaniel het na bewering in die kruisvuur tussen die polisie- en bendelede beland. Nathaniel is gebore met Down se sindroom.

Mo Senne, woordvoerder van Not In My Name International (Nimni), het gister gesê Nathaniel se dood is “ʼn regstreekse gevolg van gewapende mans in blou wat nie voldoende opleiding ontvang het nie”.

Volgens berigte voer die familie aan die seun is dood toe hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie. Hy kon egter nie daarop ag slaan nie weens die sindroom.

Die gemeenskap het verlede week geregtigheid geëis vir Nathaniel se dood. Dit het tot betogings in die gebied gelei en polisiebeamptes moes rubberkoeëls gebruik om die ontstoke skare uiteen te jaag.

Die ondersoek duur voort, het Cola Dinsdag gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blomme ·

Baie tragies.. Maar is die bendelede nou onskuldig? Vra maar net?

ES ·

Maar dit se ek al vir jare – die algemene polisielid het so bitter min skietopleiding dat ek nie kan verstaan hoekom hulle enigsins die polisie bewapen nie.

Privaat vuurwapeneienaars is baie beter skuts as wat die polisie is. Daar is maar ‘n handjievol wat regtig goed kan skiet.

Ek dink ook enigiemand wat nog nooit in ‘n skietgeveg was nie, kan nie polisie oordeel wat in ‘n skietgeveg betrokke was nie. Dit is chaos, deurmekaar en vreesaanjaend. Hoe het hulle vasgestel dit was die polisie wat hom raakgeskiet het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.